Waarom bel hy my dan nie?

Vraag:

Ek is nogal skaam en weet nie of ’n man in wie ek belangstel ook in my belangstel nie. Ek sal graag wil hê hy moet. Ons is albei geskei en ek het ’n sesjarige kind.

Die afgelope ses maande sien ons mekaar af en toe by ’n braai by vriende. Dan lyk dit of die man wel van my hou en bring hy vir my drankies. Ons gesels maklik. Hy het al my selfoonnommer gevra, maar my nog nie gekontak nie.

Ek weet glad nie wat om te doen nie.

FA op SM

Antwoord:

As iemand werklik in jou lewe wil wees, sal hy die moeite doen om deel daarvan te word deur die oproep te maak. As hy nie uitreik nie, kan dit wees dat hy nie deel van jou lewe of in ’n verhouding wil wees nie.

Mans wys hul behoefte aan ’n verbintenis op verskillende maniere, maar om tyd saam deur te bring is beslis deel daarvan.

’n Mens is in ’n verhouding om gelukkig te wees en balans in jou lewe te vind; nie om heeltyd op ’n oproep te sit en wag nie. Gaan haal gerus jou eie drankie.


Kan saamwoon met Ouma werk?

Vraag:

Ek het twee kleindogters van wie een nou moet begin skoolgaan.

Nie hul ma of pa (my seun) het werk nie. Hulle woon ver van my af en ek weet nie meer hoe om vir alles te betaal nie. Ek werk nog en woon alleen in my eie huis. Ek kan nie langer my kleinkinders so sien swaarkry nie, maar weet nie of ek hulle moet vra om by my te kom woon nie.

My vriende raai my af. My seun is nie getroud met die kinders se ma nie.

EG op PS

Antwoord:

Soms moet ’n mens jou volwasse kinders wat nie die mas kan opkom nie soos vriende in die nood behandel.

Jy sou jou vriende help om weer op die been te kom; waarom dan nie jou kinders nie? Met vriende sal jy voorwaardes stel en met kinders behoort dit ook so te wees. Jy moet wel niemand leer om hulpeloos te wees of bly nie.

Verwelkom jou seun en sy gesin in jou huis en lewe, maar binne perke. Gesels vooraf breedvoerig hieroor. Maak seker van al die reëlings sodat daar nie misverstande is nie.

Julle moet veral riglyne bepaal oor privaatheid, pligte en toekomstige finansiële verpligtings wanneer hulle begin geld verdien. Hulle moet ook weet hoe jou roetine lyk en hoe hulle daarby sal kan inskakel.

As hulle nie nou ’n geldelike bydrae kan lewer nie, is dit belangrik dat hulle wel nuttig voel. Hulle sal sekere verantwoordelikhede in en om die huis moet aanvaar. Jou seun kan byvoorbeeld met instandhoudings- en tuinwerk help en sy lewensmaat kan kos maak en inkopies doen.

Jy moet ook ’n tyd bepaal wanneer julle alles hersien.

'Berei jou voor op opofferings.' - Elize

Dring daarop aan dat hulle gereeld verantwoording doen oor hul pogings om werk te soek. Moedig hulle ook aan om uit te vind waar hulle hul vaardighede gratis kan opknap. Hulle kan byvoorbeeld by die plaaslike biblioteek navraag doen oor gratis klasse.

Berei jou voor op opofferings, maar onthou hoe dit jou ontstel het dat jy nie meer vir jou twee kleinkinders kon doen nie. Laat weet asseblief hoe dit gaan.

Magteloos teen werkboelies

Vraag:

My man se kollegas word sleg behandel. Dit ontstel hom, maar hy kan niks daaraan doen nie.

Ek weet nie meer hoe om hom te help nie. Hy wil daar werk. Hoe gemaak met iemand wat elke dag hoor hoe ander verskree en beledig word en ernstig daardeur geraak word?

WY op NA

Antwoord:

Jou man kan aan depressie en angs begin ly omdat hy magteloos voel. Jy kan help deur gereeld te vra hoe hy voel en hom uitlaatkleppe te help skep, soos om ná werk te oefen.

Hy is dalk ook bekommerd dat die boelies hom vorentoe in die visier kan kry. Moedig hom aan om sy kollegas opbouende terugvoer oor hul werk te gee en hulle van sy emosionele steun te verseker.

Hou ook positiewe verhoudings buite sy werk, soos by die kerk, in stand. Bel die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie by 0861-16-16-16 om te hoor hoe ’n mens boelies aanmeld.

G’n geluk saam met ongelukkige man

Vraag:

Ek is nou al vyf jaar getroud met ’n man wat meestal ongelukkig is. Ek kan nie met hom daaroor praat nie. Hy oorreageer wanneer ek te veel vra: “Wat is fout?”

Ons het ’n oulike dogtertjie saam. Ons albei het al ’n mislukte huwelik gehad – ek met ’n man wat my verkul het en hy met ’n liefdelose vrou.

Dit het ’n invloed op ons verhouding. Hy het moeilike kinderjare gehad, want sy pa was mislik met hom.

OJT op K

Antwoord:

Ek is bly jy besef geen verhouding is ’n gemaksone waar jy kan parkeer en die motor afskakel nie. Dit maak dit makliker om aan jou huwelik te werk.

In die groeiproses van ’n verhouding is dit belangrik om te vra: Wat is die beste vir almal? Nie net vir hom nie, maar ook vir jou; daarom moet jy nie net op sy emosies fokus nie, maar ook op joune en vir jou man sê wat jy nodig het sodat jul verhouding openhartiger kan word.

'Sorg dat jy nie vashaak by gevoelens wat jou vorige huwelik by jou gelaat het nie' - Elize

Sulke gesprekke kan julle albei leer om jul emosies te identifiseer en te verwoord. Wanneer jy pyn ’n naam gee, kan jy makliker daarvan genees word. Uit elke stuk gebrokenheid in ons lewe kom ’n waardevolle les.

Sorg dat jy nie vashaak by gevoelens wat jou vorige huwelik by jou gelaat het nie. Gebruik liewer die lesse wat jy daaruit geleer het om hierdie verhouding te verbeter.

Kontak ons

As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize,  Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS  LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.