MISLUKTE HUWELIK BLY SPOOK

Vraag

Ek is ’n paar jaar gelede geskei, het twee tieners in die huis en oorleef net-net. Ek bly hartseer oor wat tussen my en my eks gebeur het.

Ek wil vorentoe beweeg, maar weet nie hoe nie. Boonop het ek nie geld vir ’n sielkundige nie en ek praat nie uit die huis teenoor familielede nie. Ook wil ek nie my kinders belas nie.

Ek voel so verlate en alleen.

  • MC op PRW

Antwoord

Emosionele wonde uit die verlede weens verwerping, verlating, verwaarlosing en onsekerheid kan ernstige probleme in ’n mens se gemoed veroorsaak as jy dit nie by die naam kan noem en die gevoelens een vir een verwerk nie.

Dis moeilik om woede hieroor af te skud en dit kan jou lewe en hart op die lang duur beïnvloed.

Om emosioneel heel te wees en vry van die seer van die verlede te leef bring positiwiteit in jou lewe en ’n nuwe uitkyk op ou probleme. Wanneer jy op jou hartseer oor die verlede fokus, veroorsaak jy net meer seer vir jouself en ander.

Seer mense maak seer.

Moenie langer toelaat dat gister se seer jou vandag van gesonde verhoudings weghou nie.

Maar as jy in jou lewe op herstel fokus, sal jy meer emosionele genesing ervaar.

Dit beteken ook jy moet die identiteit agterlaat wat jy in die verlede weens jou seerkry gehad het. Om weg te kom van die mens wat jy tydens jou huwelik was, moet jy nuwe dinge doen en nuwe mense ontmoet. Moenie langer toelaat dat gister se seer jou vandag van gesonde verhoudings weghou nie.

Dit kan help om ’n dagboek te hou waarin jy jou gedagtes neerpen as jy dit nie regkry om dit teenoor iemand anders uit te spreek nie. Maar dit sal die beste vir jou wees om een mens in jou vertroue te neem as ’n klankbord wat jy af en toe kan gebruik.

As jy uitreik en jou wêreld groter maak, kan dit ’n nuwe visie vir jou en jou enkelouergesin bring. Skryf jou doelwitte vir julle as nuwe gesin neer en begin daaraan werk.

WONDER OOR MEISIE VAN LANK GELEDE

Vraag

Op hoërskool het ek my oog op ’n meisie gehad wat saam met my busgery het. Later kon ek haar weens my werkomstandighede net een keer besoek. Vandag wonder ek steeds waar sy is.

  • FDB op TF

Antwoord

So ’n verliefdheid wat op niks uitgeloop het nie, is ’n onafgehandelde emo­sionele kwessie.

Dalk sou niks daarvan gekom het nie, selfs al het jy haar des­tyds meer dikwels gesien en die geleentheid gekry om haar beter te leer ken. Onthou net: Sy het ook nie van haar kant iets gedoen om kontak met jou te behou nie.

Moenie by verlore kanse stilstaan nie; skryf dit aan verspeelde tyd toe en kry weer rigting. Anders kan nog ’n kans op liefdesgeluk vir jou verlore gaan.

Om soms weer kennis te maak met iemand met wie jy nie voorheen ’n hegte band gesmee het nie, kan ’n mens ontnugter. Maak liewer ’n plan om iemand wat nou in jou lewe is beter te leer ken.  

VRIENDIN WORD VREEMDELING

Vraag

Ek was lank vriende met iemand, maar sy het my net skielik begin ignoreer. Sy groet my ook nie meer nie en gee voor sy ken my nie. Wat moet ek doen?

Moet ek haar konfronteer of haar ook ignoreer?

  • MBT, SMS

Antwoord

’n Ware vriendin betoon deernis teenoor jou, maak gereeld kontak, vertrou jou volkome en verdedig jou wanneer sy moet.

Wanneer vriende uit jou lewe verdwyn, is dit hartseer, maar die lewe gaan onversetlik voort. Een van die redes waarom vriendskappe verbreek word, is dat mense dikwels skuldig voel omdat hulle jou op ’n manier te na gekom het.

Ons vriendskappe met ander kan vir ons genesend wees, soms sonder dat ons eens daarvan bewus is. Dit kan ons help om vorentoe meer vriendskappe aan te knoop wat vir ons steun bied.

Vergewe daarom jou eertydse vriendin en stel jou oop vir ander vriendskappe. Gasvryheid kos niks, maar vriendskap het wel ’n prys.

Deel jou huis met vele, maar jou hart net met dié mense wat jy regtig kan vertrou.

Eensaam in aftreeoord ver van almal

Vraag

Ek is nou in ’n aftreesentrum ver van waar ek en my oorlede man ons lewe gelei het.

Hy was ’n vooraanstaande man en ná ’n besige lewe vind ek dit moeilik om aan te pas in dié plek waar ek nie juis iemand ken nie.

My kinders is ook baie besig.

Bekendes van my ouderdom is te ver hiervandaan om my te besoek.

Die omstandighede in die aftree-sentrum is goed en ek word veral medies goed versorg. Ek het wel ’n oppasser, maar voel erg alleen.

My kinders is ook baie besig.

  • VDM op SL

Antwoord

’n Mens voel meer op jou gemak by mense wat jy in die verlede leer ken het toe julle dieselfde lewensomstandighede gedeel het.

In ’n poging om die probleem te hanteer word by aftreeoorde geleenthede geskep om op nuwe maniere vriende te maak.

Hulle bied byvoorbeeld uitstappies vir die inwoners aan.

’n Ander uitweg is om dalk meer dikwels mense uit jou verlede te nooi om by jou te kom kuier en selfs ’n naweek daar deur te bring as jy daarvoor ingerig is.

Vra ook jou kinders om jou met die alleenheid te help deur jou en moontlik ’n nuwe vriendin wat jy by die aftreeoord leer ken het saam na hul huis te nooi sodat die vriendin jou en jou gesin beter kan leer ken.

Kontak Liewe Elize
  • As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize,  Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com.
  • Of SMS  LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.