WIL SKEI OOR MAN SE AFJAKKE

Vraag

Ek en my man is in ons 60’s en al 36 jaar getroud. Hy is ’n goeie mens, maar snou my die mislikste afjakke toe wanneer ons oor die verkoop van ons kleinhoewe praat. Ons het ooreengekom ons gaan dit verkoop omdat ons na ’n veilige meenthuiskompleks wil trek.

Hy wil gewoonlik nie gesels om dinge uit te pluis nie. Sy houding maak my so diep seer dat ek wil skei. Hy is erg gespanne oor geld, soos oor sy pensioengeld se groei.

  • Hartseer van VDBP

Antwoord

Mense wat stilweg kwaad is vir die lewe en die woede onderdruk, gaan nie ver­ander net omdat jy dit wil hê nie.

Om jou met sy stilswye te manipuleer het deur die jare sy styl geword. Jy is nie die een met die probleem nie, al voel dit dikwels so. Al kan jy nie maklik sy gedrag ­verander nie, kan jy hom moontlik sover kry om saam te werk.

Dit gaan net uiterste geduld en tyd, dalk ses maande, verg. Jy het die patroon raakgesien van kwessies wat hy vermy en ontken: geld en verandering.

Gooi dit oor ’n ander boeg. Jy gaan hom moet help om in te sien wat sy behoeftes vir die toekoms is. Jy sal kalm en vriendelik aan die hand moet doen dat julle begin rondkyk na ’n blyplek wat by sy doelwitte en begroting pas eerder as om by die verkoop van die hoewe te begin. 

Al wil hy nie daaroor praat nie, moenie tou opgooi nie; gaan eerder op ’n nieaanvallende, onemo­sionele manier voort.

Moenie hom die drama gee wat hy soek nie. Sulke mense is geneig om die rol van die slagoffer te speel; daarom moet jy hom nie so laat voel nie. Moenie hom blameer nie, want hy glo nie hy is verkeerd nie. 

Wanneer jy sy samewerking het, kontak ’n eiendomsagent sodat julle kan sien wat in die mark beskikbaar is. Oorreed hom om ’n agent wat hy mettertyd begin vertrou ’n waardasie van jul kleinhoewe te vra.

KOMMER OOR BLOEDING

Vraag

Ek het ’n Papsmeer laat doen en geen kanker is gevind nie, maar ek het elke dag vaginale bloeding. Die dokter het voorheen ’n antibiotikum voorgeskryf, maar dit help net ’n paar dae. Ek het ’n afspraak by ’n ginekoloog gemaak vir Desember. Gee asseblief raad.

  • HP, SMS

Antwoord

Jy sal onmiddellik op ’n vroeër afspraak moet aandring, want die knaende simptome en die feit dat jy nie op lang termyn op behandeling reageer nie, kan op ’n onderlig­gende mediese probleem dui.

Dit is dalk nog net nie by jou gediag­noseer nie. Hou intussen dagboek van jou simptome met besonderhede oor die afskeiding en of jy pyn in jou lae buik en koors daarmee saam ervaar.

Naarheid en braking en ook ’n hoë koors is alles gevaartekens waarop jy moet let en dadelik van werk moet maak. Spoedige beterskap.

KÊREL HET MOND VOL OOR HAAR EKS

Vraag

My kêrel is self geskei, maar het ’n vreemde manier om in gesprekke skielik die naam van my eksman te noem en dinge op te haal wat ek hom oor my eks vertel het.

Dit is so ’n klein stekie na my kant toe wat ek glad nie verstaan nie. Hy het byvoorbeeld al vir ’n tannie van my gesê ek het in my lewe al soveel slegte besluite geneem. Ons kom andersins goed oor die weg.

  • IL, SMS

Antwoord

Jou kêrel soek ’n bepaalde reaksie by jou en moontlik ook meer inligting as wat hy reeds oor jou eks en jou verlede gehoor het. Sy onvanpaste aanmerkings in gesprekke met ander kan ook ’n doelbewuste poging wees om jou seer te maak. 

Daarvoor moet jy maar lig loop. Sulke aanmerkings moet vroeg in enige verhouding in die kiem gesmoor word. Verhoudingsmaats moet mekaar opbou en ondersteun, nie afkraak nie.

Wys jou kêrel daarop dat jy jou verlede agtergelaat het en van hom verwag om nou dieselfde daarmee te doen.


‘WAT IS ONS?’ WIL SY WEET

Vraag

Ek gaan al ses maande met ’n ouer man uit wat nie baie liefdevol is nie. Ek weet nie waar ek met hom staan nie. Ons is goeie vriende, ons families kom oor die weg en ons het gemeenskaplike vriende.

Ek is te bang om te vra: “Wat is ons?” Want dan kan dit klink asof ek hom in ’n blik wil druk. Is dit verkeerd?

Mag ’n mens vra? En wanneer? Ek is nie een vir goedkoop, los verhoudings nie.

  • LA op JW

Antwoord

Elke verhoudingsmaat het sekere verwagtings en standaarde. As joune drasties van jou maat s’n ver­skil, kan ’n openhartige gesprek misverstande uit die weg ruim. Maar as jy skugter is, sal jy steeds nie die onderwerp wil aanroer nie.

Hoe langer ’n mens wag, hoe moeiliker word dit om verhoudingsgrense vas te stel. Maar ’n mens kan nie vir ewig met die stres van ’n raai-raai-speletjie saamleef nie.

As jy hom nie reguit wil vra waar jy met hom staan nie, kan jy dalk vir hom sê ander mense vra jou of julle ’n paartjie is en jy weet nie wat om te sê nie. Is sy reaksie nie wat jy wil hoor nie, moet jy eerder ’n debat vermy.

Jy hoef nie te bedel vir iets wat hy nie wil gee nie.

Liefde het geen hefboom waarmee jy iemand kan dwing om jou lief te hê nie. As hy nie teenoor ander ’n verbintenis met jou wil erken nie, jou nie met respek behandel nie, nie vir jou tyd maak en daar nie juis vonke in jul omhelsings is nie, los maar die vraag.

Wag dan liewer vir die dag dat iemand anders aan jou daardie vraag sal stel.