60 JAAR OUD EN KOUD IN DIE BED

Vraag

Is dit normaal vir ’n man om op 60 belangstelling in seks te verloor?

  • JK, SMS

Antwoord

Net soos ’n mens kil vroue van alle ouderdomme kry, kan mans se seksdrang ook op enige ouderdom afneem.

Sestig is wel om verskeie redes vir mans ’n gevaarsone wat vervullende liefdespel betref.

Gewoonteseks altyd nét in ’n slaapkamer sonder emosionele innigheid en met een verhoudingsmaat wat altyd die aanvoorwerk doen, kan een van die drifdoders wees.

Mediese toestande soos erektiele disfunksie of lae testosteroonvlakke kan ook ’n lae seksdrang veroorsaak.

Vir albei is medikasie beskikbaar. Alkoholisme, depressie en medikasie wat die libido aantas, kan ook die vonkel uit ’n man se oog haal.

En met elke sigaret kan ’n man ’n ereksie inboet. As geen mediese probleem by jou verhoudingsmaat gevind kan word nie, staan sy emosies dalk in die pad van liefdestoenadering.

Dit kan help om openlik met hom oor sy gevoelens te praat. Saam kan julle dalk makliker ’n oplossing vind. Dit kan ook help om op ander maniere intiem te wees, soos met ’n massering. Werkstres kan ook begeerte demp.

‘Eerlike kommunikasie en tyd saam kan groter intimiteit in ’n verhouding skep’ – Elize

Die hormoon kortisol word afgeskei as jy te veel stres oor ’n lang tydperk ervaar. Dit onderdruk sekshormone en ondermyn begeerte.

Om stres in die slaapkamer teen te werk, kan jy jou maat se aandag aflei deur romantiese musiek te speel.

Prestasie-angs weerhou party minnaars daarvan om die slaapkamerdeur toe te trek. Die liefdespel hoef nie elke keer volmaak te wees nie.

Selfs al kry ’n vrou nie ’n orgasme nie, kan die liefdesuur of twee die verhouding inniger maak. Iemand wat honger is vir emosionele innigheid, maar nie veilig voel in ’n verhouding nie, kan ook sy selfvertroue in die slaapkamer verloor.

Eerlike kommunikasie en tyd saam kan groter intimiteit in ’n verhouding skep. Mans vind waardering en steun dikwels sexy.

MEISIE SE WIT LEUENS PLA

Vraag

Ek gaan al ’n jaar met ’n meisie uit wat wit leuentjies oor haar familie vertel; oor dinge soos egskeidings en dwelms. Dis onnodig, want die waarheid kom altyd uit. Ek sukkel om haar hieroor te vertrou. Moet ek net wegkyk?

  • HM, SMS

Antwoord

Dis moeilik as ’n mens jou vir jou familie en hul doen en late skaam. Jou meisie het jou deernis en onvoorwaardelike aanvaarding nog nodiger as tevore wanneer sy sulke leuens vertel.

Sy is dalk ook bang sy verloor jou liefde en is onseker of jul verhouding sterk genoeg is om ook haar familie se emosionele trauma te kan dra.

Stel haar gerus deur haar nooit daaroor uit te vra nie. Laat dit aan haar oor om te besluit wat sy jou wil vertel en wat nie.

Help haar om sekerder van haarself en jou liefde te voel deur gereeld vir haar komplimente te gee. Sorg ook dat julle minder van haar familie te sien kry en meer van mekaar.

TIENER BOER IN GIMNASIUM

Vraag

My dogter is 16 en wil net heeltyd gim. Haar akademie en ander belangstellings ly daaronder. Ek het met haar oor balans probeer praat, maar dit het net in ’n bakleiery ontaard.

Sy sê ek moet bly wees sy gaan nie partytjies toe en drink nie. My man is verlede jaar oorlede.

  • NI op TS

Antwoord

Tieners is selfgerig en teen 16 fokus hulle op hul selfbeeld. Jy sal nie veel daaraan kan verander nie. Wat jy wel kan doen, is om haar te help om haar prioriteite te bepaal, self haar probleme op te los en dan terug te tree.

Soms wil ons voltyds ons kinders se rasieleiers wees, maar wanneer hulle 16 is, is dit ’n goeie tyd vir ouers om minder betrokke te wees.

Sy het jou nodig, maar ook die lewe se leerkurwe. Sy moet ook mislukkings leer hanteer; dit ontwikkel karakter.

Eerder as om fout te vind, help jou dogter om praktiese doelwitte te stel en dit te behaal soos om te besluit waar sy ná matriek wil gaan studeer en hoe hard sy gaan werk om aan die toelatingsvereistes te voldoen.

KLEUTER WIL SNAGS by hulle KOM INKRUIP

Vraag

Ek kry nie my dogtertjie van vier sover om heelnag in haar eie bed te slaap nie. Ons het ’n goeie roetine voor slaaptyd.

Wanneer ek en my man snags skielik van ’n geluid wakker word, kan ons maar weet sy staan voor die bed om by ons in te kruip. Ons liefdesverhouding ly ernstig daaronder. Ek het al dowwe slaapliggies, elke moontlike sagte diertjie en alles probeer.

  • CZ op EV

Antwoord

Maak vrede daarmee dat geen kitsoplossing hiervoor bestaan nie. Hoe jy ook al die saak gaan benader, dit gaan ’n tydjie duur.

Die vertrekpunt is dat jy geensins hieroor met haar mag raas nie, maar jy mag ferm wees. Gesels deur die dag oor die naderende aand en hoe dit gaan werk. Begin deur ’n ooreenkoms aan te gaan. As jy toelaat dat sy vir 15 minute by julle inkruip, moet sy dan na haar kamer teruggaan.

Jy kan saamstap en ’n rukkie by haar sit. Los maar vir eers die drukkies en soentjies. Sê net die nodige. Doen dit ’n paar aande.

Wys haar elke keer daarop dat dit slaaptyd is en julle nie kan speel nie. Die strategie is dat sy nie moet voel sy word vir haar optrede beloon of gestraf nie. Plaas daarna ’n opblaasmatras in jul kamer.

Pleks daarvan dat sy by julle in die bed klim, mag sy ’n rukkie daarop lê voor jy haar na haar kamer neem. Moenie te veel aandag aan haar gee voor jy na jul kamer terugkeer nie. As jy voel sy is gereed, kan jy haar begin terugneem sonder dat sy enigsins in jul kamer lê. Beloon haar met iets soos ’n flits.

Deel jou storie
  • As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com.
  • OF SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1