VRAAGTEKEN OOR KÊREL SE SMS’E

Vraag

Ek is altyd die een wat vir my kêrel teksboodskappe stuur. Dikwels antwoord hy nie eens nie of hy neem sy tyd om ’n simpel emotikon te stuur. My foon het nie eens al die prentjies nie; dan lyk dit net soos vraagtekens. Is dit nie ongeskik nie?

  • PS, SMS

Antwoord

Sommige mense wag tot iemand hulle kontak, want hulle glo geen nuus is goeie nuus, en jy sal wel laat weet as iets fout is.

Ander wil nie onderbreek word wanneer hulle besig is nie en voel jy oorskry ’n grens deur hul aandag met ’n teksboodskap te eis.

Gee jou kêrel ’n slag die kans om na jou te verlang.

Moenie ’n teksslaaf wees nie. Waardeer jul tyd saam en moenie dié een aspek van jul verhouding as maatstaf vir die sukses daarvan gebruik nie.

Gee jou kêrel ’n slag die kans om na jou te verlang en jou die hof te maak. En laai gerus die emotikon-apps op jou foon af as dit moontlik is.

ARMS BLY LEEG NÁ DUUR POGINGS

Vraag

’n Ruk gelede het ek ’n buisswangerskap gehad. Ek was ’n paar weke lank swanger, maar elke toets was negatief. Ek het begin bloei en pyn gehad en is hospitaal toe.

My ergste pyn was om die kind te verloor wat ek nie eens geweet het bestaan nie. Ek het een van my buise verloor en het nou net een oor.

Ek en my man het in Februarie besluit om met ’n dokter se hulp weer te probeer. Dit slurp al ons geld op. My man en ma sê dit misluk miskien omdat ek nooit die gebeure verwerk het nie en bang is dit gebeur weer.

Ek is ook bang vir die natuurlike manier van swanger raak.

  • CL op BF

Antwoord

Enige paartjie se ervarings rondom onvrug­baarheid is uniek en veralge­menings kan nie daaroor gemaak word nie. Die pyn en teleurstelling van jul ervaring kan ’n mens hulpeloos en waardeloos laat voel.

Dis ’n reeks vervlegde gevoelens wat jy metter­tyd moet verwerk. Sielkundige faktore kan die pad vorentoe nog moeiliker maak, maar dit is moeilik om die faktore self te identifiseer.

Soms kan pare wat probeer swanger raak, voel ’n dokter, tegnologie en dagboeke beheer hul liefdeslewe.

Dit kan aan jou emosionele toestand toegeskryf word dat jy nou die liefdespel vermy.

Enige onverwerkte negatiewe ervarings op seksuele gebied in die verlede kan ’n uitwerking op jou gemoed hê noudat jou lewe op dié gebied onder druk verkeer.

Dit sal help om met ’n sielkundige se leiding die emosies te identifiseer en te verwerk.

Soms kan pare wat probeer swanger raak, voel ’n dokter, tegnologie en dagboeke beheer hul liefdeslewe; dit kan hul liefdeslus demp.

’n Steunprogram en die begrip van vriende en familie kan julle help om eers die rouproses oor jul ongebore baba af te handel.

Kry hier steun
  • Skryf aan angela@ifaasa.co.za om uit te vind waar steungroepe in jou omgewing is.
  • Nog inligting is by Ifaasa (Infertility Awareness Association of South Africa) beskikbaar.

MAN SKU VIR KUIER BY FAMILIE

Vraag

Ons het al afgetree en woon ver van ons familie. Hulle het al almal die een of ander tyd by ons gekuier.

My man het die idee as ons by iemand gaan oorslaap of iemand doen vir ons iets, skuld hy hulle geld.

Ek wil graag by die familie gaan kuier, maar ons kan nie gastehuise of ander verblyf bekostig nie. Help asseblief.

  • KG op L

Antwoord

Jou man wil graag die volmaakte gas wees. Hy kan dit doen sonder om sy sak te veel te skud.
Doen dié voorstelle aan hom:

  • Verrig takies vir die gasheer of gasvrou waarvoor hulle te besig is, soos om die kinders op ’n uitstappie te neem. Dit kan dalk vir hulle veel meer beteken as om ’n paar rand by ’n gas te kry.
  • Vra gerus vooraf of julle iets kan saambring wat vir jou gasheer of gasvrou nuttig sal wees en waarmee hulle gaste makliker kan onthaal, soos ’n nuwe braairooster.
  • Bied aan om vir ’n uitstappie of ete te betaal.
  • Neem tuisgebak, bereide etes of vrugte saam.
  • Wanneer julle saam met jul gasheer rondry, kan julle vir die brandstof betaal.
  • ’n Bedagsame geskenk soos lugtyd vir selfone of data vir jou gasheer omdat julle dalk meer in dié tyd kommunikeer, sal ook welkom wees.

Wys soortgelyke opsies aan jou man uit en vra hom of hy nie net tydens ’n kort besoek ’n proeflopie wil neem nie.

Sy besware kan ook ’n verskoning wees wat hy voorhou omdat hy nie lus is om te gaan kuier nie.

Hy wil dalk ander mense die moeite van skoonmaak en onthaal spaar of hy wil dalk bloot op sy eie wees wanneer hy weggaan.

HOË PRYS VAN LIEFDE

Vraag

Ek is die een wat heeltyd moet toegee as ek en my meisie vooruit wil kom. Ons gaan al vyf jaar uit, maar dit is altyd ek wat toegee ter wille van die vrede. Ons bly saam, maar het nie kinders nie. Ek het agter haar aangetrek.

  • SG, SMS

Antwoord

Om ’n goeie verhoudingsmaat te wees, doen ’n mens dikwels blindelings wat dit ook al verg om die verhouding te laat werk. Maar op lang termyn kan jy nie jou persoonlike groei en ontwikkeling afskeep nie.

Dikwels word hoë eise aan ’n verhoudingsmaat gestel wanneer hulle as vanselfsprekend aanvaar word.

Wanneer jy aanhoudend opofferings vir jou maat moet maak, vra jou af: As jy dinge moet prysgee wat vir jou kosbaar is, is dit nie ’n te hoë prys om te betaal nie? Sal sy dieselfde vir jou doen?

Is sy dankbaar vir die opofferings wat jy maak en wys sy dit in woord en daad? Laat jou antwoorde hierop jou tot ’n besluit lei.

Kontak ons
  • As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com.
  • Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.