MA, DOGTER STRY OOR MUISNESTE

VRAAG

My dogter is 17 en in matriek. Ons baklei die laaste tyd vreeslik baie oor al die kêrels en muisneste. Ons was altyd so na aan mekaar, maar nou voel dit asof ons vyande word.

Ek wil seker maak sy stap die regte pad deur volgende jaar te gaan studeer. Sy sê sy sal, maar ek wonder of sy met al dié muisneste ooit haar studie sal voltooi. Wat moet ek in hierdie stadium toelaat en wat nie?

  • OH op KA

ANTWOORD

Net so moeilik soos dit vir jou is om ’n ouer van ’n jong volwassene te wees, is dit vir jou kind om ’n jong volwassene te word.

Gemengde gevoelens oor identiteit en liefdesverhoudings speel nou ’n groot rol. Jong volwassenes weet dikwels nie hoe om hul gevoelens uit te druk nie en is nóg vis nóg vlees. Dit lei tot innerlike spanning en stres in verhoudings.

Wisselende hormoonvlakke vererger hul wipplankemosies.

Hoe negatiewer jy oor jou dogter – nou al ’n jong volwassene – en oor haar lewe is, hoe moeiliker sal jul verhouding wees

Voorts maak senuagtigheid oor akademiese prestasies, toekomsbesluite en vriende en kêrels van tieners en jong volwassenes wandelende tydbomme.

Hoe negatiewer jy oor jou dogter – nou al ’n jong volwassene – en oor haar lewe is, hoe moeiliker sal jul verhouding wees.

Bemeester dus die kuns om ernstig met haar oor haar verliefdheid en verhoudings te praat terwyl jy haar ook sover kry om op haar skoolwerk te bly konsentreer.

Gesels steeds met haar oor haar toekoms, maar vra ook vrae oor wat sy graag uit ’n verhouding wil hê en waar sy haar oor vyf jaar sien.

Dit is belangrik om veral met die oog op die matriekeindeksamen te onderhandel oor perke en verwagtings wat haar afsprake met kêrels betref. Doen dit liewer vroegtydig as om later tydens ’n konfrontasie voorwaardes te stel. Gee haar kans om tot die gesprek by te dra.

Benewens onvoorwaardelike liefde en steun kort jong volwassenes leiding oor hoe hulle hul tyd moet verdeel. Deur haar tegnologietyd in te perk kan julle meer tyd vir haar huiswerk wen.

TE KLEIN OM 'N TABLET TE HÊ?

VRAAG

Ek is ’n outydse ouma. Dit pla my dat my vyfjarige kleinkind ’n tablet het waarop hy gereeld na allerhande dinge kyk. Kan dit goed wees vir hom en sy oë?

  • Ouma, SMS

ANTWOORD

Te veel tyd voor watter skerm ook al kan nadelig wees vir voor­skoolse kinders, want dit verg dat hulle hul oogspiere te veel moet inspan en kan maklik ’n afhanklikheid van tegnologie kweek.

Kinders moet rond­beweeg om hul koördinasie te ontwikkel en ’n gesonde gewig te handhaaf.

Kenners beveel aan dat die tyd wat hulle bestee aan skerms van alle soorte – televisie kyk of op ’n selfoon of rekenaar speel – tot een uur per dag beperk word. Dit moet verkieslik in tydgleuwe verdeel word, byvoorbeeld twee halfure.

Laat jou kleinkind met sy ouers onderhandel oor hoe hy hierdie skermtyd wil deurbring. Stel ’n voorbeeld deur vir hom stories uit ’n gedrukte boek voor te lees.

EENSAAM IN HAAR HUWELIK

VRAAG

Moet ’n mens ­liewer skei as jy heeltyd in jou huwelik alleen voel en jou maat geen aandag of tyd aan jou gee nie, al praat jy met hom daaroor?

  • WG, SMS

ANTWOORD

Hoe meer alleen ’n mens in jou huwelik voel, hoe makliker raak dit om uit te kyk na tekens van verwerping. Om jouself te beskerm, begin jy dan onttrek en gedagtes oor egskeiding kry, maar dit is nie altyd die oplossing nie.

Herinner mekaar aan die goeie tye van vroeër

Party huwelike kan wel gedokter word om hierdie gevoel van magteloosheid oor alleenheid te bowe te kom.
Werk hieraan deur die leiding te neem om gewoontes te verander wat julle uitmekaar laat dryf.

Doen dinge saam pleks daarvan om net te doen wat jy of hy wil doen. Maak elkeen jul dagboek skoon van onnodige afsprake en ruim tyd in vir mekaar.

Herinner mekaar aan die goeie tye van vroeër, bewys mekaar gunsies en maak van spe­siale dae, soos verjaardae, tye om mekaar weer te koester.

SUKKEL MET ROMANSE IN HUL GOUE JARE

VRAAG

Ek (75) en my vriendin (72) sukkel  om ’n romantiese verhouding aan die gang te hou. Ons woon nie saam nie, maar is albei in ’n oulike Kaapse aftreeoord. Ek wil nie alleen wees nie en sy ook nie. 

Ek is al lank (vier jaar) ’n wewenaar, maar sy is nog net ’n jaar lank ’n weduwee. Ek wil graag beter met haar klaarkom; miskien selfs trou. Dit gaan nie vir ons oor die fisieke sy nie. Ons is nie een sieklik nie. Ons het elkeen ons eie geld.

  • KL op OA

ANTWOORD

Tel jul seëninge: gesondheid, nabyheid en beskikbaarheid. As dit nie genoeg is om jul verhouding te laat werk nie, is julle dalk te uitsoekerig, soek volmaaktheid in ’n maat of word nog deur vorige verhoudings beïnvloed.

As ’n verhouding nie werklik wankel nie, maar ook nie heeltemal aan die maats se behoeftes voldoen nie, kan dit julle loon om die kommunikasie tussen julle op te knap.

Humor help ook om ’n mens beter oor jouself in ’n verhouding en gemakliker met jou maat te laat voel

Kommunikeer duidelik met haar oor jou behoeftes en veral jou emosies. Luister met respek na haar en erken dat haar lewe onlangs met die afsterwe van haar man verander het en dat sy tyd nodig het om daarby aan te pas.

As ’n verhouding soms nie aan die verwagtings van ’n tradisionele romanse voldoen nie, kan gedeelde belangstellings en vriendskap dit deurdra en wedersydse vertroue help opbou.

Humor help ook om ’n mens beter oor jouself in ’n verhouding en gemakliker met jou maat te laat voel.

Aanraking op ’n liefdevolle en teer manier, soos om mekaar elke keer met die groetslag te omhels, kan ’n ontluikende verhouding laat verdiep. Ook teg­nologie kan hiermee help, soos ’n selfoonbood­skap voor slaaptyd.

En ’n ruiker blomme het nog geen verhouding skade berokken nie . . .

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.

Ekstra bron: edition.cnn.com