Swyg of bieg ná my affair?

VRAAG

Ons is lank getroud, maar kan nie kinders hê nie. Ons praat nie meer met mekaar nie, sommige aande skaars 20 woorde. My man hou van uitgaan; ek is ’n introvert. Hy terg my op ’n neerhalende wyse voor ander mense.

Ek het ’n affair gehad en was intiem met ’n ander man wat my man ook ken. Dis verby. Sy vrou weet daarvan, maar nie my man nie, al het my gewese minnaar hom op WhatsApp daarvan laat weet.

My man het hom op sy foon blokkeer en nie die boodskap gekry nie. Ek dryf ál verder van my man weg. Moet ek hom vertel?

Moeg op L

ANTWOORD

Die vreemdste ding van affairs is dikwels dat die maat wat verkul word juis bewustelik of onbewustelik weet, maar die waarheid probeer ontken, vermy of wegwens.

Jy gaan niks bereik deur verder te ontken dat die kommunikasieprobleme in jou huwelik tot ’n onvervulde lewe vol onoordeelkundige besluite lei nie.

Vernietig alle boodskappe en geskenke wat met die affair te doen gehad het.

Jy sal oop kaarte met jou man moet speel en die gevolge van jou affair moet dra voor hy op ander maniere daarvan uitvind. Dit is ’n onhoudbare situasie wat vorentoe net in jou gesig kan ontplof met nadelige gevolge vir almal. Verduur liewer nou die pyn, en vorder met die heling van jouself en jou huwelik.

Daar is geen ideale tyd vir dié mededeling nie, maar so gou moontlik is beter as later. Berei jou voor op die gesprek deur te dink watter vrae hy dalk kan stel en wat jou antwoorde daarop gaan wees.

Verstrek die besonderhede wat hy wil weet, maar moenie onnodige feite gee nie. Vernietig alle boodskappe, e-posse en geskenke wat met die affair te doen gehad het om hom pyn te bespaar.

Sê vir hom jy wil vir berading gaan om uit te vind hoekom jy voor die versoeking geswig het sodat hy kan weet jy wil iets aan die situasie doen. Moenie jou of jou minnaar se optrede probeer verdedig of verduidelik nie.

Moenie enigeen daarvoor die skuld gee nie. Sê gereeld tydens die gesprek hoe jammer jy is.

Vriendekring krimp ál meer

VRAAG

Ek is hartseer oor my goeie vriende wat deur die jare minder geword het en nou ál meer emigreer. Ek en my vrou woon nog in ons eie huis, maar sy is siek en ons gaan nie dikwels uit nie. Die kerk is my toevlug, maar niks waarmee ek daar begin, word eintlik vreeslik geesdriftig aanvaar nie. Dit is asof mense nie met ouer mense wil hande vat om dinge saam te doen nie.

KS op BF

ANTWOORD

Skep moed uit jou eie positiewe ingesteldheid. As jy dan nie die bejaardes van jou kerk of ander lidmate kan motiveer om ’n verskil in ander se lewe te maak nie, kyk of jy nie dalk by ’n organisasie vir bejaardes of selfs ’n vrywilligersorganisasie kan aansluit nie.

Dalk is daar bedrywighede by ’n plaaslike aftreeoord waarmee jy kan help, al woon julle nie daar nie. Nuwe deure waaraan ’n mens klop, lewer dikwels opwindende geleenthede op.

Ma gekwel oor seun wat drink

VRAAG

My 26-jarige seun het ’n ernstige drankprobleem. Hy het by ons ingetrek en toe geweier om op te hou drink. Hy kry af en toe los werkies, maar verkies om net te sit en televisie kyk.

Ons het hom nou gedwing om na ’n buurdorp te trek. Nou bekommer ek my dat my kind hom gaan dooddrink.

Hoe help ’n mens iemand wat verkies om leeg te lê?

HL op K

ANTWOORD

Voor hy kies om self ’n einde aan sy verslawing te maak, gaan niks hom motiveer om op te hou drink en daardeur verantwoordelikheid vir sy lewe te aanvaar nie.

Woede help nie en ook nie deernis wat ’n aangeleerde hulpeloosheid in die hand kan werk nie. Isolasie sal ook nie die probleem oplos nie, maar eerder ’n oordeelkundige mengsel van liefde, leiding en om jouself te bemagtig.

Rus jouself toe met kennis oor alkoholisme en behandelingsentrums waar ’n mens hulp kan kry. Praat hieroor met hom en oor die opsies wat beskikbaar is wanneer hy nugter is.

Kontak die Christelike Afhanklikheidsdiens by 082-571-5472 of besoek hul webtuiste.

Eksman gaan trou; hoe nou?

VRAAG

Ek en my eksman is vanjaar ná 11 jaar uitmekaar. Hy trou volgende jaar met iemand anders. Dit is asof alles wat tussen ons was, net nie vir hom bestaan het nie. Die nuwe vrou in sy lewe is vals en gebruik hom net. Hoe gaan ek met my lewe aan?

AS, SMS

ANTWOORD

Jou eks is ’n eks om ’n rede. As jy daardie rede kan identifiseer en aanvaar, vorder jy reeds in die regte rigting. Die verlange gaan nie ophou om jou te oorval nie; daarom moet jy werk maak daarvan om jou herinnerings aan kosbare oomblikke te verwerk.

Onthou om met elke goeie herinnering ook ’n slegte tyd saam met hom op te roep. ’n Gebalanseerde uitkyk op die verlede maak dit makliker om die ervaring te verwerk.

Sentimentaliteit sal die proses vererger. As die herinnerings jou verward, kwaad of hartseer maak, moet jy sorg dat jy nie voortdurend jou gedagtes daarop fokus nie. Om die einde van ’n verhouding te veel te wil ontleed het geen nut nie. Maak seker jy gaan gereeld uit sodat selfbejammering jou nie oorval nie.

Jou lewe is nie verby omdat jou verhouding verby is nie. Sorg dat jy genoeg oefening, sonlig en vars lug kry. Om iemand te vergeet het ook ’n fisiologiese aspek: Die patrone in jou brein moet verander.

Stap kan hiermee help.

Ondersoek nuwe moontlikhede vir jou lewe wat jou uit die kringe wegneem waarin jy en jou eks beweeg het. Dit kan ook help om ontslae te raak van alles wat jou aan hom en jul verhouding herinner.

En as jy met vriende oor jul verhouding praat, gebruik die verlede tyd.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.