DRINKEBROER VERSTEUR HAAR NAGRUS

Vraag

My broer is oor die 60, maar woon by my, want hy het geen inkomste nie.

Hy is ’n alkoholis wat snags laat huis toe kom. Dan word die ligte aangeskakel en kos en koffie gemaak.

Ek werk voltyds en moet soggens baie vroeg opstaan.

Ek het al daaroor probeer praat, maar om ’n sinvolle gesprek met ’n dronk mens te probeer voer is ’n mors van tyd.  

  • Raadop en moeg op H

Antwoord

Onthou jy daardie kennisgewingbordjie by restaurantdeure: “Reg van toegang voorbehou”?

Dit is waaraan jy nou in jou eie huis moet werk.

Alkoholiste is selfsugtig en dink net aan hulself. Jy weet en ek weet hy misbruik jou goedheid, maar dit is nie so maklik om die patroon van afhanklikheid te verbreek nie. 

Wanneer hy in die dag enigsins nugter is, sê vir hom jy gaan ’n veiligheidsdeur vir gebruik saans laat aanbring. Net jy sal die sleutel daarvoor hê. 

Bedags kan hy kom en gaan soos hy wil, maar saans maak jy daardie deur toe wanneer hy uit is. 

Wanneer hy tuiskom, sal hy moet klop. Gee vir hom ’n tuiskomtyd wat vir jou gemaklik is met ’n speling van ’n halfuur. As hy nie daarby hou nie, moet hy ander slaapplek vir die nag vind.

Stippel dit vir hom uit: As hy by jou deur moeilikheid maak, gaan jy die polisie of die buurtwag bel.

Dié reëling kan help om ’n nuwe patroon vas te lê. Dit is dan sy keuse om sy gewoontes te verander of weg te trek.

VAL UIT ROLSTOEL BLY SPOOK

Vraag

Ek is ’n kwadrupleeg. Byna twee jaar gelede het ek by ’n vakansieoord uit my rolstoel geval en nogal lelik seergekry.

Dit het my selfvertroue ’n groot knou gegee.

Die mense om my verwag dat ek die voorval moet vergeet en net moet aangaan soos voorheen, maar vir my is dit nie so eenvoudig nie.

  • D op K

Antwoord

Intense gedagtes wat tydens ’n traumatiese voorval by jou opgekom het, kan so in jou kop en hart vassteek dat dit voortdurend by jou spook.

Daar is geen kitsoplossing nie, maar ’n nuwe manier van leef kan jou mettertyd die voorval help verwerk.

‘Begin deur een simpatieke luisteraar te vind met wie jy jou vrese kan deel’ – Elize

Veral wanneer ’n mens se leefwêreld beperk is, keer jou gevoelens jou om dié gedagtes met nuwes te vervang.

Die kuns is om beheer te kry oor die gedagtes sodra dit ontstaan en ’n nuwe gedagte gereed te hê om dit te vervang. Daardeur kan jy jou breinpatrone verander om nuwe paadjies te vorm.

Dit sal eers gebeur wanneer jy vir jou ’n spertyd stel (soos die datum waarop dit gebeur het) om jou gevoelens te verwerk.

Begin deur een simpatieke luisteraar te vind met wie jy jou woede en vrese rondom die voorval kan deel.

As dit iemand kan wees wat saam met jou daar was, is dit selfs beter. Ander perspektiewe helder soms ’n situasie op.

Om alternatiewe gedagtes gereed te kry en jou vertroue in jouself en jou vermoëns te herstel, moet jy in soortgelyke situasies eers ’n paar tellings lank diep asemhaal.

Kyk dan doelbewus na iets in jou omgewing om jou aandag af te lei. Hoe minder jy op ander mense fokus, hoe makliker sal jy na ’n nuwe gedagte kan vorder.

As jy ander stres in jou lewe, soos kommer oor jou algemene gesondheid, kan verlig en sorg dat jy genoeg slaap, sal jy die voorval makliker kan verwerk.

’n Mens se kop kan saans soos ’n tuimeldroër al in die rondte maal.

As jy kort uitstappies na veilige en bekende plekke kan onderneem en sonlig op jou vel kan voel, kan dit ook help.

Moleste op ’n Vrydagaand

Vraag

Ek en my kêrel is nou al agt jaar saam.

Die probleem is wanneer dit naweek word, behandel hy my en ons dogtertjie sleg.

Elke Vrydagaand verdwyn hy uit die huis. Hy gaan vermoedelik saam met sy drinkebroers uit en kom eers in die oggendure tuis.

Dan word alewig op my gevloek en geskel.

Hy het nooit geld nie. Ek moet vir kos en alles sorg.

Hy wil nie my plek verlaat nie.

  • GA op RN

Antwoord

Dit is nie die moeite werd om by so ’n onvolwasse man te bly wat weet hoe jy oor sy optrede voel en steeds sy verantwoordelikhede ontduik nie.

Hy behandel jou asof jou gevoelens nie saak maak nie en verkies sy vriende se geselskap bo joune.

Jy kan hom nog een kans gee om op ’n nuwe grondslag ’n lewe saam met jou te bou of aanvaar dat jy nou weet waar jy met hom staan.

Stel hom voor ’n ultimatum: Óf hy kies sy gesin bo sy vriende op ’n Vrydagaand óf jy skop hom uit.

ETENSUUR TE KORT VIR BORSVOED

Vraag

Ek het ná 12 jaar eindelik nou ’n babaseuntjie, maar ek moet werk.

Die crèche is naby my werk en ek probeer etenstye daarheen stap, maar kry dit nie altyd reg om in dié kort tydjie heen en weer te stap nie.

Ek het so lank op my kind gewag dat ek hom elke voorsprong wil gee wat ek kan.

Kan ek my werkgewer vra om my etenstyd ’n bietjie te verleng sodat ek my kind kan gaan borsvoed? Ek werk al lank hier en het ’n goeie reputasie.

My kind is ook ’n bietjie sieklik.

  • Audrey op P

Antwoord

Jy kan gerus jou werkgewer vra om jou tegemoet te kom.

Jy is trouens daarop geregtig volgens die departement van arbeid se kode van goeie praktyk vir die beskerming van werknemers gedurende swangerskap en geboorte.

Dit bevat riglyne waarby ma’s ook ná die geboorte en tydens borsvoeding kan baat vind.

Dit bepaal dat ’n werkgewer ’n werknemer twee keer per dag ’n rustyd van 30 minute elk vir borsvoeding of die uitpomp van moedersmelk moet gee.

Lees gerus meer oor die bepaalde kode op hul webtuiste by labour.gov.za.

Deel jou storie
  • As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, 
    Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com.
  • Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.