G’N ONDERHOUD VAN EKS DOER ONDER

Vraag

My dogter se eksman het Australië toe getrek. Ons weet waar hy werk. Hy betaal geen onderhoud vir sy twee kinders nie. Sy kry swaar en het nie geld vir ’n prokureur nie.

Het jy raad oor wie ons sal kan help?

  • MC, SMS

Antwoord

’n Mens kan beslis ’n onderhoud­ontduiker vasvat wat spore gemaak het buiteland toe. Die prosedure daarvoor word in Die Wedersydse Toepassing van Onderhoudbevele (lande in Afrika) Wet 6 van 1989 en in Wet 80 van 1963 beskryf. Die laasgenoemde wet maak voorsiening vir ooreenkomste met lande soos Australië.

Omdat hy buite ons landsgrense woon, kan so ’n onder­soek in sy afwesigheid gedoen word.

Die eerste stap is jou dogter moet na die onderhoudsbeampte by haar plaas­like landdroshof gaan en ’n ondersoek teen haar eks aanvra. Omdat hy buite ons landsgrense woon, kan so ’n onder­soek in sy afwesigheid gedoen word.

Die hof kan dan ’n voorlopige besoldigingsbevel uitreik; dit beteken die mens wat vir onderhoud gedagvaar word, se werkgewer moet elke maand die bedrag vir onderhoud van sy salaris aftrek en aan die ander ouer betaal.

’n Afskrif van dié bevel word saam met die nodige dokumente deur die diplomatieke kanale aangestuur na die onderhoudshof in die gebied waar jou gewese skoonseun nou woon.

Daardie hof sal op sy beurt ondersoek instel. Daarna sal die landdroshof daar die voorlopige bevel van die Suid-Afrikaanse hof hopelik bekragtig. Die besoldigingsbevel wat hier uitgereik is, kan dan geregistreer word by die hofkantoor in die gebied waar jou gewese skoonseun nou werk.

’n Ander opsie is dat jou dogter haar gewese man se ouers hier in Suid-Afrika vir onderhoud dagvaar. Ook hiermee sal die onderhoudsbeampte haar kan help.

Gaan na die departement van justisie vir meer inligting hieroor.

IS BABATAAL TABOE?

Vraag

My skoondogter hou aan om babataal met ons kleinkind (18 maande) te praat al het ek haar al ferm gevra om doodgewone Afrikaans met hom te praat. Sy herhaal ook die woorde wat hy verkeerd sê en dink dit is vreeslik oulik.

Sy is ’n goeie ma en versorg hom goed, maar ai, die taal pla. Sy sê dit sal later regkom. Dit is mos nie so nie, of hoe?

  • OD, SMS

Antwoord

Gewone spreektaal sonder foute kan ’n kleuter se spraakontwikkeling aanhelp.

Brabbeltaal of “mammataal” kan ’n kleinding moontlik verwar. Pleks daarvan om jou skoon­dogter reg te help en gevaar te loop dat sy jou van inmenging kan beskuldig, kan jy liewer voorstel dat iemand gereeld vir hom liedjies sing en stories voorlees.

Dit sal help om sy woordeskat uit te brei. Koop gerus CD’s met kleuterliedjies en kinderboeke as geskenke vir jou kleinseun.

BANG VIR LIEFDE SOEK AANLYN

Vraag

Ek is ’n weduwee en het iemand op ’n afspraakwebtuiste ontmoet. Ná ses maande het ek by hom ingetrek, maar sy volwasse kinders kon my nie verdra nie.

Ons is uitmekaar. Ek wil nie weer so ’n fout begaan nie. Kan sulke verhoudings werk?

  • LB, SMS

Antwoord

Met ’n geflikflooi aanlyn kan mense maklik voorgee hulle is iemand wie hulle nie is nie.

Die manier van vlerksleep aanlyn met emotikons en afkortings kan ook maklik tot misverstande lei en is geen plaasvervanger vir ’n sinvolle gesprek nie.

Aanlyn is verwerping ’n pynlike werklikheid, want met die vee van ’n vinger kan jy geskiedenis wees. Wanneer jy aanlyn na ’n maat soek, is die versoeking groot om jouself gedurig met ander se profiele te vergelyk.

Hou liewer die tweede keer verby en vra ’n vriendin om iemand wat sy ken aan jou voor te stel.

SLAAPLOPER WIL TOT RUS KOM

Vraag

Ek loop in my slaap. Ek was by my dokter en het medikasie daarvoor gekry. Ek het die pille gedrink, maar dit het weer gebeur. Is dit geneesbaar, en wat veroorsaak die probleem?

  • MOEDELOOS

Antwoord

Sommige kenners meen sowat 4% van alle volwassenes loop die een of ander tyd in hul slaap. Gewoonlik het slaap­lopers geen onderliggende psigiatriese of sielkundige probleem nie.

Die snellers daarvoor is dikwels slaapontbering, ’n deurmekaar slaap­rooster, medikasie soos antihistamiene, onderliggende mediese probleme soos slaapapnee, ’n vol blaas of stimulante soos alkohol.

’n Rustige slaapomgewing verhoog die kans op gehalteslaap.

As jy jou patroon van slaapwandelings kan aanteken en bestudeer, kan dit jou help om ’n einde aan dié gewoonte te maak. Jy sal op ’n huismaat moet staatmaak vir inligting oor die tye en datums waarop jy in jou slaap geloop het.

Teken dit aan saam met enige faktore in jou lewe wat daartoe kon gelei het. Op dié manier kan jy moontlike snellers soos werkstres identifiseer.

’n Rustige slaapomgewing verhoog die kans op gehalteslaap.

Probeer ’n goeie nagrus verseker deur die uur of wat voor slaaptyd die skerm van jou selfoon, tablet of rekenaar te vermy. Skakel elektriese toestelle soos die TV in die slaapkamer af wanneer jy gaan slaap. Die blou lig wat dit uitstraal, verhinder dat jy rustig word.

Leefstylaanpassings soos om nie smiddags ná drieuur te slaap nie, kan ook help. Moet geen stimulante voor slaaptyd gebruik nie, veral nie alkohol nie. As jy rook, kan dit ook ’n invloed hê.

’n Goeie mediese ondersoek kan help om mediese redes uit die weg te ruim. Jou medikasie om slaapwandelings uit te skakel kan aangepas word as die middels wat jy nou gebruik nie help nie. Dit kan ook wees dat medikasie wat jy vir ander kwale gebruik, jou slaap benadeel.

Ter wille van jou eie veiligheid, hou alle deure gesluit en sorg dat niks op die vloer om jou bed rondlê waaroor jy kan struikel nie.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.