VAN EKS EN HOND GESKEI

VRAAG

Ek is 30 en besig om te skei weens ’n affair – hare (25), nie myne nie. Gelukkig is daar geen kinders nie.

Hoe lank duur dit om oor iemand te kom? Ek sien haar met ons vergaderings by die prokureurs en dan oorval ’n groot swaarmoedigheid my.

Die hof het my hond aan haar toegeken.

  • RT op J

ANTWOORD

Glo my, daar ís lewe ná ’n egskeiding, en ’n goeie een daarby, veral as ’n mens jonk is.

Kenners het in ’n navorsingsprojek wat in 2013 in die Journal of Positive Psychology gepubliseer is, bevind dit duur langer as twee jaar om te herstel van ’n langtermynverhouding wat op die rotse beland het en sowat 11 weke van ’n korttermynverhouding.

Wat wel ’n groot invloed op ’n mens se lewenspad kan hê, is die emo­sio­nele skade wat jy opdoen in dié tyd dat jy broos en weerloos voel. ’n Sterk, volhoubare steunstelsel en ’n knap prokureur kan jou help om jou te laat geld.

Daar is vele steungroepe vir pas­geskeides waar jy jou hart kan uitpraat.

Waak teen die afsondering wat hierdie lewensverandering kan meebring. Aanvaar uitnodigings, ook van ou vriende, maar laat nuwe, interessante mense in jou lewe toe wat jou nie aan jou lewe saam met jou eks herinner nie.

Spits jou vir eers toe op vriendskap.

Daar is vele steungroepe vir pas­geskeides waar jy jou hart kan uitpraat sonder dat jy veroordeel word. Soek een wat die Divorce Care-kursus volg.

Jy kan gerus jou hulp by ’n dierewel­synorganisasie aanbied. Ek is seker iewers wag ’n wollerige viervoet op jou versorging.

VERKIES SELFOON BO VROULIEF

VRAAG

Ek besef vandag my man van amper 70 tel meer sy selfoon en die afstandbeheerder vir sport­uitsendings op as wat hy aan my raak. Hy skeep my af.

Ons verhuis eersdaags na ’n aftreeoord en ek wil meer hulp hiermee hê.

Is hy net lui? Ons is nog gesond. Een van ons kinders is oorlede.

  • MIH, HH

ANTWOORD

Vrees vir verandering asook so ’n groot verlies laat mense dikwels na binne vlug. Dan word hulle ’n toeskouer pleks van ’n deelnemer aan die lewe. Miskien troos dit hom om onbetrokke in die sosiale media met vreemdes en bekendes kontak te maak.

Dit is moeilik om meer fisieke toenadering en steun te kry van so ’n maat wat emosioneel onbeskikbaar is. Dit help wel om sagkens die leiding te neem.

Dalk is jou man goed daarmee om lysies te maak, soos van takies voor die verhuising. Gesels met hom oor wat alles na jul nuwe tuiste moet saamgaan. Dit kan sy inge­steldheid na die toekoms help verskuif.

BOER WIL NIE VROU SOEK NIE

VRAAG

Ek soek ’n vriendin vir my geskeide pa wat al 11 jaar lank alleen is. Hy het iemand nodig, want hy word ouer en woon alleen op die plaas.

Ek sien wie goed by hom sal pas, maar hy doen niks van sy kant af nie. Hy kook en reis graag.

Dink jy ek moet hom aan moontlike huweliksmaats voorstel? Ons is ’n groot gesin met baie kleinkinders, maar van ons het om werkredes geëmigreer.

  • DG, SMS

ANTWOORD

Elf jaar is ’n lang tyd. Moontlik het hy aanmoediging nodig, maar jou pa is ’n volwasse man wat al jare lank sy eie potjie krap.

Moedig hom aan om sy belangstellings uit te leef en gesels openlik met hom oor hoe jy oor ’n moontlike maat vir hom voel.

Sy antwoorde sal jou dalk verras. Party mans is van nature alleenlopers. Romanse is vir hulle ’n bonus en nie ’n lewensnoodsaaklikheid nie.

BOET EN SUS IS ONAFSKEIDBAAR

Ek weet nie of ek al my tweeling  (’n seun en ’n dogter) op vier jaar oud by die kleuterskool kan skei wanneer hulle soontoe gaan nie. Soms dring kleuterskole daarop aan dat hulle in ver­skillende klasse moet wees.

Die twee was onlangs noodgedwonge ’n naweek lank geskei: Sy was saam met haar oupa en hy saam met my en sy ousus.

Dit het baie angs by my tweelingdogter veroorsaak om van haar broer af weg te wees.

Hulle het elk hul eie kamer, maar was tot dusver in dieselfde klas by die skool. Sy is altyd bekommerd oor haar broer en wat hy doen wanneer hulle geskei is.

  • IAE op RS

ANTWOORD

Skeidingsangs is ’n werklikheid vir baie tweelinge. Wanneer skeiding op hulle afgedwing word, kan dit hul selfvertroue knou en stres veroorsaak.

Omdat jy heeltyds by hulle is, sal jy die beste weet wat vir elkeen afsonderlik sowel as gesamentlik goed sal wees en wat hul emosionele ontwikkeling sal bevorder.

In dié ontwikkelingsfase kan dit help as albei se maats, juffrou en omgewing dieselfde bly.

Dit sal help om elkeen bewus te maak van sy of haar unieke eienskappe.

Dit is soms belangriker dat almal in die twee se kring hulle soos individue behandel pleks van daarop aandring dat hulle byvoorbeeld by die skool geskei word.

Met sulke individuele behandeling moet elkeen se eie behoeftes en persoonlikheid in ag geneem word, asook hul voor- en afkeure. Dit sal help om elkeen bewus te maak van sy of haar unieke eienskappe.

Om dit vir die ouers van tweelinge makliker te maak om die kleingoed as individue te laat ontwikkel, kan hulle hulself afvra: Hoe sou ek elkeen hanteer het as hul ouderdom verskil het?

Eendag kan jy hulle ook aanspoor om aan ver­skillende naskoolse aktiwiteite deel te neem sodat elk sy eie talente kan ontdek en ontwikkel.

Jy kan ook leiding by die Vereniging vir Meervoudige Geboortes (Samba) kry. 

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.