KÊREL IS GEEN VOLGELING

Vraag

Ek en my kêrel gaan nou al vier maande vas uit. Hy volg my nog nie in die sosiale media nie en gebruik dit ook nie dikwels nie. Ek volg hom wel. Dink jy hy stel werklik in my belang?

OK (SMS)

Antwoord

Daar is dikwels in die sosiale media geen teken van die hegste en vervullendste verhoudings nie. Hierdie paartjies gebruik hul tyd vir samesyn pleks daarvan om mekaar se status te lees.

As jy wil hê jou kêrel moet tussen die reëls lees wanneer jy boodskappe in die sosiale media plaas, verkeer jul verhouding in gevaar. Stippel liewer jou kommer self vir hom uit.

Jy maak ’n fout as jy dink foto’s van paartjies in die sosiale media maak verhoudings geldig. Wat werklik tussen julle gebeur, is veel belangriker as enige emotikon of prentjie iewers in die kuberruim.

TREKVOËLS PUT HUL MA UIT

Vraag

Albei my kinders is op die oomblik studente en het elkeen in een jaar twee keer verhuis. Elke keer moes ek (asof vanselfsprekend) inspring en hul ou plek skoonmaak en hulle help trek. Hiervoor moes ek ver van my tuisdorp af ry.

In hierdie stadium is ek effe uitgebrand hieroor.

Dit was nie een van die kere hul skuld dat hulle moes verhuis nie. Waar trek ’n mens die streep?

AV op N

Antwoord

’n Mens hou jou partykeer blind wat jou kinders betref, maar dit help nie jy gee te dikwels toe nie.

Ouers doen te veel vir hul kinders as dit met hul persoonlike groei inmeng en hulle minder verantwoordelikheid laat aanvaar of as jy hulle beskerm teen die nagevolge van hul optrede en keer dat hulle lesse daaruit leer. Dit help om te weet wat jou skuldgevoelknoppies is wat hulle dikwels druk en om daarteen te waak.

Wanneer hulle die slag self iets wil doen, moenie oorneem en dit vir hulle doen om die lewe vir hulle makliker te maak nie. Stel vir jouself perke as jy geneig is om oorvloedig te wil help. Doen gerus net die helfte van wat jy verplig voel om te doen.

BOER WIL VROU RED VAN VORIGE LEWENSMAAT

Vraag

Ek is 29 en ’n boer en het ’n jaar gelede ’n 28-jarige vrou ontmoet. Sy het ’n verhouding gehad met ’n man van 44 wat haar geslaan en gevloek het wanneer hy nie kon seks kry nie.

Sy is ’n beeldskone mens. Ek is lief vir haar en sy vir my. Die ou is besig om met weelde en geld met haar kop te smokkel. Dit maak my vies en ek wil hom op sy plek sit, maar daar is nog goed van haar by hom en hy wil dit nie teruggee nie. Wat kan ek doen?

JQ op L

Antwoord

Tensy sy en haar eks ’n saamwoonkontrak opgestel het, het sy min regte wat haar goed betref. Omdat julle met ’n geweldenaar te doen het, sal ek julle albei afraai om verder met hom te probeer praat of onderhandel.

Hoe kan 'n bemiddelaar jou help?
  • Nader liewer ’n middelman om formeel en wetlik te help. Bemiddelaars kan hierdie soort konflik ná ’n saamblyverhouding help oplos.
  • Bel die Suid-Afrikaanse Vereniging van Bemiddelaars by 081-071-7000 om raad, maar hou in gedagte dat mense wat saamwoon nie geregtig is op mekaar se besittings nie.
  • Die wet bepaal wel dat besittings aan die party behoort wat dit oorspronklik bekom het.
  • Koopbewyse in haar naam kan help om haar eiendom van haar vorige lewensmaat terug te eis.
  • Ook met geskenke kan ’n papierspoor help om dit terug te kry, soos ’n motor wat op haar naam geregistreer is.
  • Maak vroegtydig seker jul eie sake is in orde en gesels met haar oor ’n saamwoonkontrak as julle nie nou al trouplanne het nie.


BEDRUK OOR WAT KON GEWEES HET

Vraag

Ek het vier mooi, volwasse kinders. Ek en my man is in ons 50’s en al van ons skooldae af maats. Ek het vroeg afgetree om saam met hom die lewe te geniet. Hy het intussen ’n beroerte gehad en baie liggaamsfunksies verloor.

Om ’n sieke op te pas stel ook groot eise.

Ons het nie geld vir versorgers nie. ’n Groot hartseer kom oor my wanneer ek dink aan wat kon gewees het.

Om ’n sieke op te pas stel ook groot eise. Ek voel nie altyd daarna om mense tuis te ontvang nie. My kinders het werk en is getroud, waaroor ek bly is, maar dit is ’n groot taak om net soms reëlings te tref om ’n bietjie weg te kom. Wat raai jy aan?

MA op K

Antwoord

Elke emosie wat jy as ’n versorger ervaar, is belangrik en geldig. Emosies is soos ’n stout kind wat aandag soek wanneer jy nie elkeen erken en verwerk nie.

Praat met jou kinders en skoonkinders oor ’n sorgrooster.

Ek is bly jy weet hoe jou gevoelens jou lewensgehalte beïnvloed, want wanneer ’n mens soveel tyd alleen deurbring, kan jy soms te veel nadink en moedeloos en neerslagtig begin voel.

Jy hoef nie heeltyd die volmaakte versorger te wees en alles vir jou man en huishouding te doen nie. Praat met jou kinders en skoonkinders oor ’n sorgrooster. Hulle wil dalk meer betrokke wees, maar weet nie hoe nie.

Dit sal ook help as jy weet wat die prognose vir jou man is.

As daar hoop is op beterskap, kan jy moed skep en hom byvoorbeeld help met die oefeninge wat ’n fisio- of arbeidsterapeut aanbeveel. ’n Opvolgdoktersbesoek of ’n tweede mening kan die moeite werd wees.

As jy aktief bly, kan dit die swaarmoedigheid beveg. Jy kan byvoorbeeld soggens gaan stap terwyl ’n buurvrou of huiswerker by jou man bly. Gun jouself ook tyd om iets te doen wat jy geniet, soos handwerk.

  • Die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika kan ook help. Bel hulle by 021-422-1586 of stuur ’n e-pos na heart@heartfoundation.co.za.
Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.