JONGER VROU LAAT SY OOG DWAAL

V: Ek en my man is al meer as twee dekades lank getroud en het drie kinders. Nou het hy ’n verhouding met iemand veel jonger as ek. Niemand weet daarvan nie. Hy wil nie skei nie en ek weet nie wat om te doen nie. Ek wil ook nie skei nie.

HMA op LD

A: Wanneer ’n mens hoor jou man was ontrou, is daar aanvanklik meestal ’n intense reaksie en wil jy net weghardloop.

Maar as jy in dié krisistyd die seer en woede kan beheer om kalm te word en rasioneler daarna te kyk, is jy reeds in ’n beter posisie om jou huwelik en jul verhouding te stabiliseer.

Die groot vraag is: Wat kan julle in jul verhouding verander om die huwelik te herstel?

'Jy is geregtig op antwoorde as hy jul huwelik wil red'
Elize

Dit is makliker om te vergewe as jy iemand se gedrag kan verstaan – nie in ’n poging om dit te regverdig nie, maar sodat julle sinvol met jul huwelik kan voortgaan.

Vra jou man om ’n verduideliking en sê hom hoekom jy redes vir sy ontrouheid moet kry. Jy is geregtig op antwoorde as hy jul huwelik wil red.

Getroude mans knoop om verskeie redes affairs met veel jonger meisies aan. Vervullender seks en die sensasie om weer jonk te voel is maar twee daarvan.

Moenie jouself daaroor verkwalik of skuld daarvoor aanvaar nie. Moontlik is jou grootste vrees dat hy dit weer gaan doen.

Deur die redes te bepaal wat daartoe gelei het, kan ’n helingsproses begin en jou vrese hanteer word. ’n Berader kan julle hiermee help.

SELFOON GAAN SAAM BED TOE

V: Ek wil nie graag my liefde met iemand anders deel nie, maar ek weet nie meer hoe ek met ons liefdeslewe kan aangaan nie.

My vrou het nie hoë verwagtings van my in die bed nie (ons probeer nie nuwe dinge nie), want ons gaan al van skooldae uit.

Ek het nie ’n veeleisende werk nie en is gelukkig daarmee om die broodwinner te wees. Sy werk nie en ek dink sy is verveeld. Ek is net bang sy is te gewoond aan my, want dit begin uit klein dingetjies blyk soos dat sy saans in die bed heeltyd aanlyn is op haar foon en haar kredietkaart gebruik.

JD op H

A: Jy gaan jul lewe agter slaapkamerdeure sagweg vervullender moet maak om jou eintlike doel te bereik: Jy wil weer waardeer en begeer word.

’n Goeie liefdesmaat konsentreer nie op die bekende nie, maar verken eerder die onbekende saam met sy geliefde.

Vir ’n vrou beteken dit dikwels nie nuwe posisies tydens die liefdespel, gefluisterde liefdeswoorde en driftige soene nie, maar hoeveel aandag jy aan haar behoeftes gee. Het jy al nuwe erotiese sones op haar lyf saam met haar verken? Sulke individuele aandag sal haar beslis sku vir tegnologie in die bed maak.

‘Verken ook die onbekende saam met jou liefdesmaat’
Elize

Moenie op seks aandring nie, maar verander jou aanslag tydens die voorspel sodat sy self haar selfoon sal neersit. Dit kan heel verleidelik wees as jy sag met jou palm die rugkant van haar nek streel.

Laat dit in ’n massering oorgaan. Moenie die eindbestemming in die oog hou nie, maar gee haar bloot ’n soentjie in haar nek. Die strategie is om haar ’n kykie op haar eie seksualiteit te gee wat nie bedreigend is nie.

Hoe nuuskieriger bedmaats oor hul seksualiteit is, hoe langer bly die slaapkamerdeur toe en hoe vinniger word die selfoon en die kredietkaart in die bedkassie se laai gebêre.

BOET FLANKEER TE VEEL

V: My broer het te veel meisies. Hulle is almal so eenders dat my pa hom al met die name verspreek het.

My broer is 23, studeer nog en bly nie meer in die huis nie. Ek is sy ouer suster en voel hy moet nou ’n bietjie begin kalmeer, meer volwasse in sy verhoudings word en ’n vaste meisie kry. Wat dink jy?

UA, SMS

A: Op sy ouderdom is dit heel normaal om te toets wie by jou pas, maar as hy aan ’n sekere soort meisie voorkeur gee, beteken dit hy weet wat hy wil hê en wie hom gelukkig kan maak.

Solank sy studie nie daaronder ly nie en hy nie onverantwoordelik met sy meisies se emosies werk nie, laat hom toe om sy jong lewe te geniet. Moontlik sal iemand sy hart steel wat glad nie in hierdie patroon pas nie.

Dan sal hy ’n slag halsoorkop verlief raak en ’n blink steen aan haar vinger probeer kry. Fokus liewer op jou eie geluk.

EENSAME LEWE SAAM MET CHRONIES SIEK MAN

V: My man is chronies siek met ’n nierkwaal, en weens sy behandelingsrooster kan ons nooit meer met vakansie gaan nie.

Ek versorg hom tuis en die eensaamheid begin my vang. Ons kinders is landuit. Ek wens ek kan ’n bietjie wegkom.

Ek was altyd lief daarvoor om saam met vriende weg te gaan.

EO, SMS

A: Om voltyds versorger te wees vir iemand wat huisgebonde is, kan ’n mens emosioneel laat uitbrand as jy nie sekere voorsorgmaatreëls tref nie.

Sulke moegheid en swaarmoedigheid lei tot frustrasie en angs, wat die situasie kan vererger. Stel jouself ’n slag eerste.

Dink aan iemand wat jy kan vra om eers net vir ’n oggend met sy versorging te kom help.

As dit suksesvol is en jy die mens kan leer wat wanneer gedoen moet word en sorg dat die nodige medikasie beskikbaar is, kan jy dalk ná ’n paar probeerslae ’n middag saam met ’n vriendin gaan fliek, inkopies doen of selfs ’n aand by ’n nabygeleë vakansieplek gaan oorslaap.

Jy en jou man kan albei daarby baat vind. ’n Emosioneel gesonde versorger beteken dikwels ’n pasiënt kan in ’n meer ontspanne omgewing floreer en herstel.

Kontak ons

As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489.

  • Elke SMS kos R1