Sosiale media haar dwelm

VRAAG

Ek vermoed my suster is aan Facebook en WhatsApp verslaaf. Praat help nie. Sy raak kwaad wanneer ’n mens die saak aanroer. Haar persoonlikheid in die sosiale media verskil soos dag en nag van dié in haar normale lewe.

Wat is die simptome? Dalk is ek verkeerd.

  • Bekommerd op B

ANTWOORD

Hoe meer ’n mens van Facebook kry, hoe meer wil jy hê, het navorsers in ’n ondersoek bevind wat onlangs in die Amerikaanse sielkundevereniging se Journal of Personality and Social Psychology verskyn het. Die sosiale media is lankal nie meer net ’n kuberkuierplek nie; vir vele is dit ’n platform waar hul ego gestreel word en hul bui verbeter.

As jou suster onttrekkingsimptome soos buierigheid het wanneer sy nie toegang tot Facebook kan kry nie of die gebeure op Facebook haar gesprekke oorheers, voel sy waarskynlik sy kan nie meer daarsonder leef nie.

As sy boonop die netwerk gebruik vir ontvlugting na ’n kammalewe en nie langer regte kontak met vriende en familie behou nie, skort iets. Om haar beheptheid met die sosiale media te bowe te kom, sal sy eers moet erken sy het ’n probleem, iets wat jou suster nie bereid is om te doen nie.

’Vir vele is die sosiale media ’n platform waar hul ego gestreel word’ – Elize

Moenie op ’n veroordelende manier met haar daaroor gesels nie, want dan sal sy daarop ingestel wees om haar te verdedig. Moenie haar aanval nie; vra liewer vrae soos: “Wat bereik jy met al jou tyd daarop?”

Daar is maniere om jou van Facebook te speen en jy kan dit geleidelik vir haar aan die hand doen. Stel voor dat sy vir eers die boekmerke na die sosiale media van haar webblaaier afhaal, die kletskamerfunksie beëindig en haar sogenaamde Facebook-vriende minder maak.

Wanneer ’n mens veel meer vreemde as bekende Facebook-vriende het, moet jy wonder waarom jy dié blad gebruik.

Facebook se doel was oorspronklik juis om as kuierplek vir familie en vriende te dien. Stel voor julle stel saam doelwitte vir haar oor hoeveel tyd sy per dag aan die sosiale media mag bestee.

Amper-eks wil nie betaal nie

VRAAG

Ek is besig om te skei. Kan my amper-eks weier om onderhoud vir ons kinders te betaal?

Hy het ’n rukkie lank betaal, maar het nou ’n ander vrou in sy lewe. Ek dink sy pers hom af.

  • DS, SMS 

ANTWOORD

Hy is verplig om vir jul kinders onderhoud te betaal, maar jy sal ’n hofbevel oor die betaling van tussentydse onderhoud moet kry om te sorg dat hy dit wel doen.

As so ’n hofbevel reeds uitgereik is, moet jy by jou prokureur hoor hoe jy die agterstallige onderhoud kan invorder.

OU LIEFDE VLAM OP NÁ SKOOLREÜNIE

VRAAG

My eksman het my verkul. Nou is ek as geskeide die sogenaamde ander vrou. As organiseerder van ons skool se reünie was ek verplig om ’n ou skoolmaat met wie ek meer as 30 jaar gelede ’n verhouding gehad het daarheen te nooi.

My heel eerste seksuele ondervinding was met hom, maar ons paaie het ná ons skooldae geskei.

Hy kon nie die reünie bywoon nie, maar ons het in die sosiale media met mekaar begin gesels. Hy het my van sy ongelukkige huwelik vertel. Ons kon later geen dag laat verbygaan sonder dat ons met mekaar praat nie.

Ons het seksueel verkeer. Ek glo as jou man gelukkig is en jy doen alles om hom gelukkig te hou en hom te verseker dat jy hom liefhet, sal hy nie rondloop of na iemand anders kyk nie.

Moet ek voortgaan met hierdie verhouding? Sy vrou sal nie van hom skei nie.

  • MB op KM

ANTWOORD

Jy speel met vuur deur in ’n situasie te beland waarin jy net kan seerkry. Daar is geen regverdiging daarvoor om by iemand se huwelik in te meng en tot die verdere verbrokkeling daarvan by te dra nie.

As hy die waarheid praat en sy huwelik is liefdeloos, is dit steeds ’n huwelik met die gewone perke.

’n Platoniese vriendskap tussen twee mense wat in ’n stadium – al is dit jare gelede – ’n innige band gehad het, is selde moontlik. Die sosiale media maak dit vandag maklik om sulke bande weer oënskynlik heg te smee, maar dit sal selde die toets van die tyd kan deurstaan.

As hy regtig by jou wil wees, sal hy daarvan werk maak om sy vrou te verlaat. Tot dan is jy dit aan jou, hom, sy vrou en enige kinders wat hulle het verskuldig om alle bande te verbreek.

Gebruik die blokkeerfunksie op WhatsApp om jou teen hom en jou eie emosies te beskerm.

SÊ NOU HY WIL WEER PROBEER?

VRAAG

Ek en my kêrel het sowat ’n jaar lank saamgewoon. Hy is werkloos. Dit het ’n ruk lank goed gegaan tot hy weer saam met sy vriende begin kuier het. Ek wil nie saamkuier op partytjies nie.

Sy familie het hom beïnvloed om my te los. Hy het nou uitgetrek. Ek is bang ek sê ja as hy sou vra of hy kan terugkom.

  • OG op HS

ANTWOORD

Dit is moeilik om te erken iemand het jou gebruik. Ons wil graag erken word vir wie en wat ons is.

’n Mens probeer hierdie pynlike werklikheid ontken omdat jy steeds die hoop wil koester dat die verhouding wel opreg was. Verhoudings verander ’n mens en dis reg, want ons moet toegewings vir mekaar maak.

Maar jy hoef nie ter wille van ’n verhouding so aan te pas dat jy nie meer jouself is nie. Ware liefde laat jou toe om jou unieke self ál meer uit te leef. As jy hom weer in jou lewe toelaat – en ek beveel dit nie aan nie – moet dit op jou voorwaardes wees.

Hy moet finansieel ten volle sy kant kan bring en hom verbind tot ’n lewe waarin hy jul verhouding bo sy vriende en familie se voorkeure sal stel.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1