KRITIEK VAL OP DOWE ORE

Vraag:

My vrou (65) kan nie kritiek hanteer nie. Ek praat nou nie van ernstige aanvalle op haar as mens nie. Wanneer sy verkeerd teenoor my of ander optree en ek haar daarop wys, raak sy dadelik verdedigend.

Sy sê altyd ek “moet ophou op haar pik”. Dit laat my skuldig voel.

  • LN op PN

Antwoord:

Verdedigingsmeganismes kom mettertyd in verhoudings tot stand. Sy het geleer wat vir haar in dié situasie werk. Om op hierdie ouderdom dié ongesonde patroon te probeer verander is moeilik.

Tree vir ’n ruk terug en gee haar min terugvoer oor haar optrede. Moenie haar skielik met komplimente oorlaai nie, maar probeer meer positief wees in jou terugvoer. Voor jy ’n aanmerking maak, vra jouself af of dit jou nog oor ’n week of oor ’n maand gaan pla om dié lastigheid vir jou in perspektief te stel.

As dit wel iets is wat jou daaglikse bestaan raak, bespreek dit wanneer julle albei kalm en rasioneel is. Niemand is volmaak nie. As jy ’n dikker vel ontwikkel en haar meer aanvaarding gee, sal jy dalk binnekort nie meer katvoet hoef te loop nie.

LEWE MOEILIK MET BREINBESEERDE

Vraag:

My man was 21 jaar gelede in ’n ernstige motorongeluk wat permanente skade veroorsaak het. Hy vergeet belangrike take en het ’n kort humeur. Hy is nou duskant 40 en werk al lank vir een maatskappy.

Ons is geruime tyd getroud. Ek het al probeer sin maak uit sy gedrag, maar dit is vir my moeilik. Sy ouers neem al sy belangrike besluite namens hom. Hulle het hom nooit probeer help om self sy eie besluite te neem nie.

Sy ma meng ook by ons huwelik in. Enige raad?

  • BB op F

Antwoord:

As jy met iemand saamleef wat die gevolge van breinbeserings moet dra, moet jy strategieë ontwikkel om jouself en hom te help. Met sy korttermyn-geheueverlies kan dit help om onthounotas op sy selfoon te laai en ’n vaste roetine te volg.

Angs kan ’n groot invloed hê op hoe hy situasies hanteer. Hoe meer jy kan doen om dié angs te verlig, hoe makliker sal jy by die omstandighede aanpas. Probeer by ’n steungroep aansluit waar jy jou frustrasies en oorwinnings kan deel.

Wanneer jy tydens ’n gesprek met hom oorweldig voel, neem ’n blaaskans. Ken sy snellers, soos te besige plekke, sodat julle dit kan vermy. Wees bewus daarvan dat hy jou gevoelens kan seermaak, maar dit dalk nie so bedoel nie.

Rolle in gesinne met ’n breinbeseerde verander mettertyd, maar nie almal pas daarby aan nie. Jou skoonouers gaan dalk voort om besluite namens hom te neem omdat hulle gewoond is daaraan.

‘Hy kan jou gevoelens seermaak, maar dit dalk nie so bedoel nie’ – Elize

Jy is sy huweliksmaat. Wat besluite oor dinge soos jul geldsake, vakansies of vryetydsbesteding betref, is jy geregtig daarop om perke te stel en geen inmenging van jou skoonfamilie te duld nie.

Maak dit ook aan hom duidelik wat jou rol is wat besluite betref oor sake wat julle albei raak. Betrek sy ouers by sake wat sy gesondheid raak. Moenie verhuis nie; jy gaan dalk vorentoe hul hulp nodig kry.

Kontak die Breinbeseringsvereniging by 011-442-5733 vir nog raad.

BUURVROU SONDER SORG

Vraag:

My buurvrou het demensie.

Haar dogter van Engeland is nou al meer as ses maande hier om na haar te kyk, maar sy moet vir drie maande teruggaan, anders kan sy haar visum verloor. Waar kan sy twee goeie oppassers kry om by haar ma te bly en mekaar af te los?

Al die ouetehuise is vol.

  • Help Waar Ek Kan op KL

Antwoord:

Hoe wonderlik moet dit nie wees om jou as buurvrou te hê nie! Kontak Alzheimers Suid-Afrika se hulplyn by 0860-102-681 of 011-792-2511 in Randparkrif. Hulle sal jou met ’n verteenwoordiger van die vereniging in jou omgewing in aanraking bring wat ’n aanbeveling kan maak.

Of stuur ’n e-pos na Charmaine Schaller by info@alzheimers.org.za.

PLATSAK, MAAR WIL SKEI

Vraag:

Ek is byna 70 jaar oud en al amper 50 jaar getroud.

Ek het my man jare gelede verlaat, maar toe na hom teruggekeer. Ek moes onlangs ophou werk en het geen pensioen nie. Hy het my hierna elke dag begin vloek en toe ná ’n ernstige aanranding – dit was nie die eerste keer nie – weggejaag.

Ek woon sedert verlede jaar by my dogter. Ek wil skei. My man is 74 en sy gesondheid is swak.

Hy is al 22 jaar op vroeë pensioen en woon in ons afbetaalde huis. Ek het niks. Hy gee my sakgeld elke maand. Wat moet ek doen?

  • EO op KD

Antwoord:

Daar is geen verskoning vir die mishandeling wat jy telkens moes deurstaan nie. Dié buffel verdien geen simpatie of deernis nie.

Jou finansiële mishandeling verg nou onmiddellike optrede, want jy is geregtig op ’n deel van die boedel wat julle saam opgebou het. Jy noem nie of julle binne of buite gemeenskap van goedere getroud is nie, maar geregtigheid moet geskied.

Howe neem verskeie faktore in ag wat onderhoud en die verdeling van pensioenvoordele betref. Omdat jou man se gesondheid nie waffers is nie, raai ek jou aan om so gou moontlik ’n prokureur te spreek sodat julle ’n ooreenkoms kan bereik nog voor julle hof toe gaan vir die egskeiding.

Moenie jouself regstreeks aan hom blootstel nie, want sy woede en afknouery kan jou intimideer. Laat die onderhandelings aan jou prokureur oor. As jou man tot dusver onbillik en onredelik was, sal jy tydens die skeiproses leiding en steun nodig hê.

Ter wille van jou eie veiligheid beveel ek aan dat jy voorlopig by jou dogter aanbly.

Deel jou storie
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.