Wil trou, maar weet nie hom om vir ma te sê nie

Vraag:

Ek is al amper 40. My pa is jare gelede oorlede en my ma woon by my in ’n woonstel wat ek al die afgelope vyf jaar huur. Ek is verloof aan iemand met lang werkure en ek werk ook. Ons wil trou, maar ek weet nie hoe om vir my ma te sê ons is nou reg daarvoor nie.

My verloofde het ’n eie plekkie. My ma sal nie daar kan woon nie. Sy is gesond, maar het ’n klein pensioen en geen vriende nie.

  • EH op BF

Antwoord:

Jy hoef nie skuldig te voel omdat jy geluk gevind het nie. Jou ma vermoed sekerlik al julle het trouplanne, al stippel julle dit nie uit nie. Sorg dat jy goed voorbereid is wanneer jy haar die goeie nuus vertel.

Doen eers jou huiswerk om onsekerheid uit die weg te ruim. Doen navraag oor sentrums vir afgetredenes binne haar begroting in die omgewing waar jou verloofde woon en kry bemarkingsmateriaal daaroor.

Soms vrees senior burgers alleenheid ná jare saam met ’n huismaat. As sy nou uit ’n veilige en beskermde omgewing moet verhuis om op haar eie te gaan woon, gaan die lewe vir julle almal moeilik word.

Noem tydens die gesprek verskeie opsies aan haar oor die pad vorentoe. Wees ferm maar liefdevol. Reël dat julle saam moontlike blyplekke besoek. Help haar ’n besluit neem. Sorg dat sy weet julle sal haar gereeld vir uitstappies kom haal.

Skaam kollega eet alleen

Vraag:

Ek het in die Kerstyd ’n skaam kollega baie jammer gekry. Sy kan nie maklik voor ander mense eet nie. Teetye op kantoor kry sy skaars haar koppie gelig. Sy gaan nooit saam met ons uit vir middagete nie.

Sy gaan eet in haar kar of soms uit ’n laai by haar lessenaar. Sy vermy spanboudae deur verlof in te sit. Sy raak net meer afgesny van almal. Nie almal verstaan dit nie. Bestuurders wil haar dwing om saam met ons te eet.

Ons werk in ’n gespanne omgewing. Hoe kan ons haar help?

  • KM op SA

Antwoord:

Die vrees om voor ander te eet word dikwels deur ’n angssteuring veroorsaak as ’n eetsteuring of ander geestesgesondheidsuitdaging nie gediagnoseer is nie. Mense met so ’n vrees sal situasies vermy waarin hulle moontlik geoordeel kan word oor hoe en wat hulle eet en selfs oor hoe lank hulle eet.

Lyers aan sosiale angs is dikwels bang hulle sal by ’n ete in ’n verleentheid beland as hulle byvoorbeeld hul kos mors of verstik. Weens hul swak selfbeeld vrees hulle ander se oordeel. Party is net bang om voor gesagsfigure te eet; ander sien op teen geleenthede soos aansitetes.

‘Help haar tegnieke ontwikkel om haar vrees vir eet voor ander te hanteer’ – Elize

Dit kan help as jy oplet of sy sulke afkeure het. Met jou tydige en opregte deernis kan jy haar dalk tegnieke help ontwikkel om haar vrees te hanteer. Probeer vasstel of sy bekommerd is oor wat ander tydens etes van haar sal dink of dalk kos as haar vyand beskou.

Bied aan om as vertroueling af en toe saam met haar iets te eet by ’n plek van haar keuse en teen haar eie tempo. Moedig haar aan om tydens die ete dikwels water te drink en diep asem te haal.

Hou die gesprek so normaal moontlik. Moedig haar aan om hulp te soek. Hierdie angssteuring kan met medikasie behandel word en met gedragsterapie deur ’n sielkundige.

Al die selfies!

Vraag:

Ons gaan al ses maande uit. My meisie hou van foto’s op Instagram van mense wat ek nie in my sitkamer sal toelaat nie. Sy het ook veel oor ons as ’n paartjie in die sosiale media te sê. Daar is ook net te veel selfies.

  • RS, SMS

Antwoord:

Die sosiale media is nie ’n onaantasbare onderwerp nie. Soos met enigiets anders in jul verhouding wat pla, moet jy haar vertel hoe dit jou laat voel. Gee redes vir jou ongemak. Enige verhouding kan baat vind by meer eerder as minder privaatheid.

Sê vir haar jy wil nie besonderhede oor jou liefdeslewe dag en nag op ander se selfone laat flits nie. Met te veel selfies sê sy vir die wêreld sy is afhanklik van hul goedkeuring. Sy maak daarom op vreemdelinge staat om haar selfvertroue op te bou.

Dalk gee jy te min aandag aan haar voorkoms? Met meer opregte komplimente van jou sal daar dalk minder selfies wees.

Omgekrap oor ma se kêrel

Vraag:

Ek is die oudste van drie susters. Ons ma (56) het nou, ná ’n egskeiding jare gelede, ’n onvanpaste man (66) in haar lewe. Ons hou niks van hom nie, maar sy sien nie sy foute raak nie.

Hy was net die eerste een wat haar ná al die jare alleen uitgeneem het. Tog voel ek my susters is kinderagtig en ons moet haar uitlos. Hulle dink ons moet met haar hieroor praat.

  • GA, SMS

Antwoord:

Jul gevoelens is normaal en gesond, maar moet ondersoek word. Gaan jul besware dalk daaroor dat dit die eerste keer is dat sy van die gesinseenheid losbreek en julle almal hiermee ’n nuwe fase binnegaan?

Of is jul besware gerig op wie die man is en wat hy doen of nie doen nie? ’n Oop gesprek hieroor is nodig. Die uitgangspunt moet wees dat jou ma julle drie emosioneel slim genoeg grootgemaak het dat julle onrustig kan wees oor ’n nuwe man in haar lewe.

Dalk is sy nie heeltemal in die duister oor sy tekortkomings nie. Moontlik het sy net ’n bietjie kop verloor; verliefdheid maak so. Deel daarom gerus jul kommer, maar nie op ’n veroordelende manier nie.

Onthou, jul ma is ’n volwasse vrou en het nie jul goedkeuring vir haar verhoudingskeuses nodig nie.

Deel jou storie
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.