Sy gee onvanpaste geskenke

VRAAG

’n Welgestelde vriendin deel haar ou sjokolade en beskuitjies as geskenke uit.

Die datums op die verpakking wys die produkte het lankal verval.

Sy gee ook ongewenste presente wat sy ontvang het as geskenk aan ander.

Ons is pensioentrekkers, maar handhaaf ’n redelike lewenstandaard.

Ons trakteer vriende op etes en nooi hulle op ons onkoste saam na vertonings.

Ek wil nie ’n vriendskap onnodig laat skade ly nie, maar wil nie langer aan die ontvangkant van sulke geskenke wees nie. Hoe nou?

  • EM op SW

ANTWOORD

Suinigheid en selfsug steek dikwels agter sulke slegte maniere. Dikwels sal diegene hulle as groothartig, prakties en spaarsaam beskou, maar dis onverskoonbaar.

Sulke aangeegeskenke maak gevoelens seer.

’n Onvanpaste of ondeurdagte geskenk maak dit duidelik iemand het geen moeite gedoen om vir jou ’n geskenk uit te soek of daarvoor te betaal nie.

Dis ’n disrespekvolle klap in die gesig. Jou geduld is prysenswaardig.

As jy taktvol wil optree, sê vir haar jy wil nie langer geskenke van vriende ontvang nie; hulle kan geld aan ’n liefdadigheidsorganisasie skenk.

Gee haar dié se rekeningnommer. Bied aan om dieselfde vir haar te doen.

As sy weer ’n geskenk aanbied, herinner haar aan jul gesprek en wys dit vriendelik af.

’ ’n Onvanpaste of ondeurdagte geskenk is ’n disrespekvolle klap in die gesig’ – Elize

As jy ’n produk kry waarvan die vervaldatum verstreke is, sê vir haar jy moet dit ongelukkig teruggee.

As rede kan jy noem onlangse berigte oor kos wat veiligheidsrisiko’s inhou, het jou oortuig om geen produkte ná hul vervaldatum te eet nie.

Moedig haar aan om ook kosveiligheid in gedagte te hou wanneer sy geskenke gee.

Ek sou nie my sak skud om haar ’n geskenk te gee wat van bedagsaamheid getuig nie.

Daar is net een manier waarop ’n mens iemand jou ongewenste geskenke kan gee: Jy doen dit nie op geskenkdae soos met ’n verjaardag of Kersfees nie, maar spontaan.

Sê dan iets soos: “Ek weet jy hou hiervan. Kan jy dit dalk gebruik? Moenie sleg voel om dit te weier nie.”

Wederhelf loer vir eks op Facebook

VRAAG

Ek is 50 jaar getroud. Nou begin my man my probleme gee deurdat hy sy vorige meisie deur Facebook kontak.

Hy het kommentaar op haar Facebook-inskrywings gelewer. Ek het dit per abuis gesien.

Ek weet nie wat ek daarvan moet dink nie. Hoe nou?

  • A van Bellville

ANTWOORD

Namate ’n mens ouer word, raak die verlede weer belangrik en wonder jy oor mense wat detyds in jou lewe was. Dit is hoogs menslik.

Dis geen uitgemaakte saak dat jou man persoonlike kontak met haar gemaak het by wyse van privaat boodskappe nie.

As jy nog nooit rede gehad het om aan jou man se getrouheid te twyfel nie, vergeet daarvan.

Moenie ’n Faceboek-speurder word wat spoke sien waar hulle nie is nie.

Vyftig jaar is ’n lang tyd om getroud te wees en so ’n vertrouensverhouding sal nie deur ’n paar Facebook-inskrywings bedreig word nie.

Worstel oor affair se skielike einde

VRAAG

Ek het as getroude vrou 12 jaar lank ’n intieme verhouding met ’n getroude man gehad.

Ons het saam as paartjie vakansie gehou. Hy het my die maan en sterre beloof.

Hy het my altyd met respek behandel en selfs elke dag ’n selfoonboodskap gestuur. Toe sterf sy vrou en twee jaar later my man.

Skielik ontmoet hy toe ’n ander vrou en is hulle binne vyf maande getroud.

Hy het nooit weer van hom laat hoor nie.

Ek mis sy vriendskap en intimiteit baie. Het ek 12 jaar lank ’n leuen geleef?

  • AM op KL

ANTWOORD

Dis reg dat jy antwoorde soek, want as ons verstaan wat met ons gebeur, kan die genesing dikwels begin. Daar kan vele redes wees waarom hy alles so skielik beëindig het.

Skuldgevoelens is een van die mensdom se sterkste dryfvere.

Ná sy vrou se afsterwe het die tydsduur en details van jul affair hom dalk so skuldig laat voel, hy kon nie ’n pad saam met jou sien nie.

Kontak met jou herinner hom dalk aan sy optrede waarvan hy wil vergeet.

In die twee jaar toe jy nog getroud en hy ’n alleenloper was, het dinge moontlik gebeur (soos ontmoetings met enkellopende verhoudingsmaats) wat hom oortuig het hy moet die verlede agterlaat en wegkom van ’n vals lewe.

Soms is die geheimhouding van ’n verbode verhouding juis die vlam wat die gevoelens warm hou.

Ná albei jul huweliksmaats se dood is die vuur dalk aan sy kant geblus.

’n Nuwe fase het ook nou in jou lewe aangebreek. Deur hom en jouself te vergewe en te aanvaar jul verhouding is verby, kan jy aanpas en die verlede agterlaat.

Maak vir eers net vriende en verwerk jou eie rou sodat jy ook afsluiting oor jou man se dood en jou lewe saam met hom kan kry.

Ontroue eks soek witvoetjie

VRAAG

Ek en my kêrel is nou al twee jaar saam en daar is ’n baba op pad. My beste vriendin het hom by my afgevat.

Ek stel nie langer in hom belang nie, maar hy wil nie van my af wegbly nie. Wat kan ek doen?

  • FP, SMS

Glo my, sy is geen vriendin van jou as sy tydens jou swangerskap die pa van jou baba weglok nie.

Hy is ook beslis nie van die regte stoffasie vir ’n huweliksmaat nie.

Maar ter wille van jul baba sal jy ’n middeweg moet vind om hom by jul kind se lewe te betrek en ook vir onderhoud verantwoordelik te hou.

Stel die perke vas dat jy hom af en toe volgens afspraak bloot as vriend sal ontmoet met die oog op jul kind se toekoms.

Dalk kan ’n familielid of ’n ander vriendin jou op sulke afsprake vergesel om toe te sien dat alles fatsoenlik verloop.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1