SY KRAP KOP OOR EKS SE SWYE

VRAAG

My kêrel het vir my geen spesifieke rede gegee waarom hy my los nie.

Hy is sewe jaar ouer as ek. Ons het vier jaar lank ’n hegte verhouding gehad en belangstellings gedeel. Hy is die stil, sterk soort.

Hy is nie iemand wat ooit baie praat nie; hy sal eerder met sy diere praat. Hy wil nie die einde van die verhouding verder bespreek nie. Ek is kwaad omdat dinge so kortgeknip is.

Hoe gaan ’n mens nou aan?

  • A op KL

ANTWOORD

Die manier waarop ’n verhouding beëindig word, het ’n besliste invloed op hoe ’n mens met jou lewe kan voortgaan.

Omdat hy laat blyk het hy gaan nie verder hieroor gesels nie, het jy geen ander keuse nie as om self perspektief daarop te probeer kry. Om die genesingsproses aan die gang te sit, moet jy jou eie gevoelens identifiseer.

Jy is reeds goed op dreef hiermee. Voer dit verder deur te aanvaar jy kan nie op hom staatmaak om jou afsluiting te gee nie.

Maak dit makliker vir jouself deur nie doelbewus na die redes te soek waarom hy die verhouding beëindig het nie. Wat jy wil hoor, gaan jy nie nou van hom hoor nie; daarom is dit nutteloos om daaroor te tob.

Veral as ’n verhouding onverwags beëindig is, kan die gevoelens van verwerping lank intens wees.

‘Die stil, sterk soort is dikwels ook die emosioneel onbeskikbare soort’ – Elize

Die herstel van jou selfvertroue kan help om jou helderheid te laat kry. Onthou iemand wat jou werd is, sou jou nie so onregverdig behandel het deur jou geen afsluiting te gee nie.

Dié optrede spruit dikwels uit diepliggende skuldgevoelens en vrese soos vir ’n vaste verbintenis. So iemand kan ook geneig wees om emosionele verantwoordelikheid te ontduik.

Iemand wat veral ná ’n lang en diep verhouding ’n maat die voorreg van eerlikheid ontsê, is gewoonlik ook nie eerlik met hulself nie.

Al voel dit dalk nie nou so nie, is jy beter daaraan toe sonder hom. Die stil, sterk soort is dikwels ook die emosioneel onbeskikbare soort.

FAMILIE VIS UIT OOR GELDSAKE

VRAAG

My man se familie het die vieslike gewoonte om te wil weet wat kos dit en wat kos dat.

Hy sukkel om die vrae te ontwyk, want hy dink dit is goed as iemand jou vra wat iets gekos het.

Ek dink dit dui op swak maniere. Hoe kan ek hom laat verstaan ons geldsake is presies dit – óns geldsake?

Ons is al amper 27 jaar getroud. Ek kan nie help om te dink dit gaan nooit verander nie.

  • M van KB

ANTWOORD

Dit is ’n ingewikkelde situasie wat al jou takt en begrip gaan verg.

Sekere denk- en gedragspatrone is vir sommige families so natuurlik soos asemhaal.

Al manier waarop jy hom van dié voorskootbande sal kan losmaak, is om die fokus te verskuif.

Wys hom daarop dat jou frustrasie lankal nie meer gaan oor die inligting oor jul geldsake wat hy met sy familie deel nie, maar oor hy wat nie jou wens om privaatheid respekteer nie.

Sy eerste lojaliteit behoort teenoor sy gesin te wees, nie teenoor sy uitgebreide familie nie.

STEEDS LIEF VIR SWANGER EKS

VRAAG

Ek was verloof aan ’n wonderlike vrou toe sy onverwags swanger raak.

Die afgelope paar maande stoot sy my weg. Haar ma en vriendinne sê haar hormone maak haar deurmekaar.

Die feit dat haar swangerskap onverwags was, vang haar. Sy het ons verlowing verbreek en verhouding beëindig.

Ek is raadop, want ek is lief vir haar.

  • ER op WW

ANTWOORD

Fokus op jou prioriteite.

As die pa van die ongebore kind is dit jou verantwoordelikheid om haar op ’n liefdevolle manier te herinner dat sy nie die reg het om jou uit jul kind se lewe te sluit nie.

Jy is al gewaarsku dat sy emosioneel is; daarom moet jy haar jou vriendskap bied eerder as om nou emosionele eise aan haar te stel.

Op dié manier sal jy hopelik weer ’n rol in haar lewe en in dié van jul ongebore kind kan speel. Dit gaan geduld verg, maar dit kan ’n uitweg wees.

DRYF UITMEKAAR NÁ 20 JAAR

VRAAG

Ek en my vrou is al 20 jaar getroud. Die eerste 15 jaar was baie gelukkig, maar dit voel vir my asof ons die afgelope tyd uitmekaardryf.

Wanneer ek daaroor wil praat, ontken sy ons het ’n probleem.

Intimiteit en toenadering kom ook net van my kant af. Ook dit is glo my probleem. Is dit die moeite werd om aan dié huwelik te werk? Ek raak verbitterd teenoor haar.

  • WM OP V

ANTWOORD

Huwelike sonder enige vorm van toenadering kan in ’n groef beland of op lang termyn so liefdeloos word dat daar geen ommekeer kan wees nie.

In die eerste geval het ’n mens nog hoop, maar in die tweede verg dit veel meer om die huweliksbootjie van die rotse weg te hou.

Wat is die verskil? In sekslose huwelike waar die maats niks vir mekaar te sê het nie en voel hulle word nie gehoor of geag nie, is geen groei nie en so ’n huwelik beland tydelik in ’n doodloopstraat.

In so ’n geval kan huweliksberaders die egpaar leer om beter te kommunikeer en op ’n nuwe manier met hul huwelik voort te gaan.

Liefdelose huwelike sonder liefdespel waar geen verligting aan die konflik is nie en een of albei oor ’n lewe sonder die ander fantaseer, loop gevaar om in die skeihof te beland.

Die gevaarligte flikker wanneer een maat al die probleme voor die ander se deur lê en ’n onwilligheid bestaan om iets aan die saak te doen.

Waak daarteen om emosionele aannames te maak oor waar julle nou, ná 20 jaar, met jul huwelik staan.

Laat ’n huweliksberader eerder help om ’n gesprek tussen julle aan die gang te kry om die betowering van jul 15 gelukkige jare saam terug te bring.

Deel jou storie
  • As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize,  Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com.
  • Of SMS  LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.