Maar dit gaan verbasend goed met haar en haar lewensmaat, vertel die radio-omroeper Haidee Muller. Sy en Harry Isaacs, ’n produkbestuurder by ’n aanlyn maatskappy, kon aanpas by die inperking weens die COVID-19-uitbreking in Suid-Afrika.

Die twee het vinnig ’n nuwe roetine geskep, vertel Haidee telefonies uit die noordelike voorstad van Kaapstad waar hulle woon.

Sy sit aan die eenkant van die eetkamertafel en werk, en Harry sit aan die ander kant. Al twee hou ’n oog op hul woelwater, Maddie, wat net ’n entjie ver speel.

“Ons is beslis twee baie verskillende mense - hy is stiller as ek. Ek weet nogal wanneer om hom liefs alleen te los,” verduidelik sy.

Saans ná werk kyk hulle gewoonlik saam na ’n fliek wanneer Maddie slaap.

“Ons maak ook tyd om met aandete te gesels of ’n glas wyn te drink. ’n Mens moet seker maak jy begin nie later verby mekaar te leef nie.”

Die sleutel tot hul vreedsame saamwees is om al die huistake gelyk te verdeel, sê Haidee. “Ons is nogal ’n goeie span en ons kan goed saamwerk, as die nood werklik druk.”

Maar dis nie vir alle paartjies so maklik om die inperking te oorleef nie.

Aanvanklik het mense dié tyd met optimisme aangepak, sê Cheryl Sol, ’n sielkundige van Kloof in KwaZulu-Natal wat onder meer gratis berading oor die telefoon of aanlyn gee.

“Maar toe die president dit met twee weke verleng, het dinge heeltemal verander. Al meer mense vra raad oor verhoudingsprobleme. Ek vermoed dit gaan net nog erger raak,” erken sy.

Hoe kan jy keer dat jul verhouding in die slag bly? Die kenners is dit eens dat verdraagsaamheid en goeie kommunikasie die sleutel is. Hier is hul praktiese wenke om hiermee te help.

1. Kry ’n werkritme

Die grootste aanpassing kom wanneer een of albei van julle nou van die huis af moet werk. Grense tussen jou werk- en persoonlike lewe vervaag, maar is terselfdertyd belangriker as ooit, sê Charl Hattingh, ’n sielkundige van Kaapstad.

 “Trek lyne tussen werk en ontspanning. Maak seker sekere dele van die huis is vir werk en ander vir speel – maak nie saak hoe klein jul ruimte is nie.”

Dit maak dit makliker om te weet hoe om die ander te hanteer, en om jul werk af te handel voor jy na jou maat toe kom vir ontspanning – nes jy sou doen voor jy van die kantoor af huis toe gekom het.

Verduidelik vir jou maat hoe jou werkdag lyk, as julle dit nog nooit voorheen bespreek het nie. So kan hy weet wanneer jy gewoonlik in vergaderings is, wanneer jy middagete wil eet, en wanneer jy gaan kans hê vir koffie. Dit vermy onnodige frustrasie en konflik, wanneer die een byvoorbeeld sit en wag vir etenstyd, terwyl die ander een vasgevang is in ’n oproep.

As julle albei werk en kinders moet versorg, moet julle jul dag saam beplan: Werk ’n rooster uit sodat altwee in tydgleuwe gefokus kan werk.

As net een ouer in die inperking werk, kan dit beteken dis nou die eerste keer die ander een se verantwoordelikheid om voltyds en alleen na die kinders om te sien. Sien dit as iets positiefs.

“Gryp dié geleentheid aan om jou kinders beter te leer ken,” sê Charl. “Voorheen was die aandag dalk onwillekeurig verdeel tussen werk en jou kinders. Nou kan jy hulle geniet.”

Doen jou bes om ’n goeie werkomgewing vir jou maat te skep deur die kinders byvoorbeeld van die tuiskantoor af weg te probeer hou.

Tref ’n reëling dat die werkende maat saans die ouerdiens by die nie-werkende een oorvat, meen Leandi Buys, ’n verhoudingsterapeut van Port Elizabeth. Dit gee die een kans om tyd saam met die kinders deur te bring, en die ander kan asemskep.

Sy raai die nie-werkende ouer ook aan om bedags video’s van jou en die kinders se aktiwiteite te maak om saans vir jou werkende maat te wys sodat hulle deel voel van die gesin.

2. Verdeel die las

Nes met ’n werkskedule, moet julle ’n rooster vir huistake opstel. “Dit kan help om almal in die huis gerus te stel en en die lewe te orden met take wat almal betrek,” sê Charl.

Dit geld ook as net een maat werk. Hy of sy moet steeds hand bysit met huistake, om die ander een te laat voel dié las word gedeel. Dit verminder frustrasie en die kans op konflik.

Probeer om nie kritiek te lewer op jou maat se metodes nie – veral wat ouerskap betref. Onthou dat elkeen sy bes doen binne dié abnormale situasie.

“Gee mekaar ruimte om individueel met die kinders te werk en ’n verhouding in hierdie tyd by die huis te bou,” sê Paula Quansee, ’n verhoudingskenner van Sandton.

“As daar iets is waaroor julle nie kan saamstem nie, soos die tyd wat hulle op hul tablette of rekenaars of slimfone deurbring, probeer ’n goue middeweg vind. Sê byvoorbeeld hulle kan soms vir ontspanning ’n bietjie langer aanlyn bly om in dié tyd met maatjies te gesels, maar wat speletjies betref, is daar net ’n uur en ’n half beskikbaar.”

3. Vermy onnodige konflik

Klein dinge wat jou gewoonlik ’n bietjie irriteer – soos ’n deurmekaar huis of ’n irriterende gewoonte van jou maat – kan tydens die inperking vinnig groot frustrasies word. “Jy moet verdraagsamer oor klein goedjies probeer wees,” sê Cheryl.

En wanneer jy voel frustrasie – oor iets kleins of groots – wil oorborrel, vat ’n oomblik om af te koel voor jy verder reageer. “Hou jou oë oop vir die geringste styging in jou harttempo, meer bloed wat na jou gesig vloei, of iets wat draai in jou maag,” sê Charl.

Dit is als tekens dat jou emosies die oorhand kry. Kommunikeer dan aan jou maat dat jy ’n afkoeltyd nodig het. “Sê: ‘Ek sal oor ’n halfuur kalm genoeg wees om terug te kom en konstruktief te wees’ en gaan dan na ’n ander kamer, die tuin of die balkon om rustig te word.”

So ’n afkoeltyd kan verhoed dat ’n klein verskil as gevolg van ’n emosionele reaksie ’n groot rusie word wat dalk jul verhouding skade kan berokken.

4. Maak tyd vir julself en mekaar

Hê begrip daarvoor dat jou maat se roetine nes joune moes verander, en dat alleentyd waarskynlik in die slag gebly het. Gun mekaar tyd om aanlyn en apart met vriende te kuier, of om ’n bietjie te onttrek en tyd op jul eie deur te bring.

“Onder normale omstandighede kan dit vreemd voorkom as iemand hom- of haarself onttrek maar steeds fisiek in ’n gedeelde spasie is. Dit kan selfs deur die ander persoon as “passief-aggressief” ervaar word,” sê Charl.

“Maar in hierdie nuwe bestel verander die reëls. Praat daaroor dat dit oukei is as een tyd vra om alleen in ’n kamer te wees, op oorfone na musiek te luister, of privaat in ’n hoekie in die tuin lank op die foon met ’n vriendin te gesels.”

Kommunikasie is weer die sleutel. Stel dit duidelik dat dit nie ’n verwerping van jou maat se geselskap is nie.

Die keersy van alleentyd, is om ook spesiale tyd saam te skep, selfs al is julle 24 uur per dag saam in die huis, sê Paula.

“Doen dinge ’n bietjie anders as voorheen: Speel eerder saam kaart of bou ’n legkaart as om tussen TV-kanale rond te spring.

“Doen saam iets aktief soos om in die tuin te gaan stap of in jou gebou met die trap op en af te hardloop.”

Sy bevel ook ’n afspraakaand by die huis aan. Stel ’n spyskaart saam, en gee elkeen ’n gang om voor te berei. Doen moeite met jul voorkoms en bring sonder afleiding saam tyd deur.