Jou klere is gekies. Jou vloeibare oogomlyner is met volmaakte presiesheid aangewend. En jou persoonlike chauffeur (dankie, ma) wag om jou na die bal te neem.

H’m, ons bedoel partytjie.

Dis feestyd en dit beteken jy kort dalk ’n paar topwenke oor hoe om ’n geselligheid terdeë te geniet. Tatta, ongemak en angs; hallo, beste aand ooit.

As jy alleen instap

Dit klink dalk skrikwekkend om op jou eie op te daag, maar dit gaan die een of ander tyd gebeur, en jy kan dié truuk net sowel nou al bemeester.

Die kans is goed dat jy ’n nuwe uitrusting dra.

Oefen voor die tyd om daarin rond te stap. Moenie wag tot jy by die partytjie opdaag voor jy vir die eerste keer uitvind hoe jy daarin voel nie. By die deur: Haal diep asem en kies ’n plek waarheen jy wil loop sodra jy binne is.

Die gasheer of die kostafel is veilige opsies. Stap doelgerig. Dit sal jou selfvertroue ’n knou gee om stil te staan en verbouereerd of onseker te lyk.

Wanneer jy binne is: Bied aan om met ’n bak skyfies verby almal te stap; dit sal jou die kans gee om ’n gesprek aan te knoop met ’n vreemdeling wat dalk ’n nuwe pel kan word.

Vra die gasheer om jou aan iemand voor te stel of gaan gesels met ’n klein groepie.

Klets, klets, klets

Selfs al ken jy die mense by die partytjie, is dit onvermydelik dat jy met iemand gaan praat wat jy nie goed, of dalk glad nie, ken nie.

Dis tog die hele punt van ’n kuier – om nuwe mense te ontmoet.

Dink vooraf aan ’n paar maniere om ’n gesprek aan te knoop as jy die gevreesde ongemaklike stilte wil vermy. Mense hou van praat oor hulself; stel daarom ’n vraag, en nog een.

Die ander mens sal dankbaar wees jy is so goed daarmee om ’n gesprek aan die gang te hou.

Wat lyftaal betref, glimlag gereeld en moenie jou arms kruis nie. Maar as jy voel die gesprek gaan nêrens, moenie bang wees om jouself te verskoon om “kos te gaan kry” nie.

Op die dansvloer

As jy nie op die dansbaan Beyoncé se alter ego, Sasha Fierce, is nie, kan jy enige spanning afskud deur daarop te fokus om pret te hê eerder as om te lyk of jy in ’n Coke- advertensie is.

Haal jou foon uit en begin foto’s saam met jou pelle neem.

Lag baie.

Onthou, niemand gaan die dinge raaksien waaroor jy onseker voel wanneer hulle sien hoeveel pret jy het nie.

As jy die partytjie hou

Moenie eens daaraan dink om alles self te doen nie.

Dis oukei om hulp te vra. Vra jou beste of betroubaarste pel om te help en deel takies uit.

Dit is onmoontlik om die aand te geniet wanneer jy stres oor die duisende dinge wat ’n halfuur gelede klaar moes gewees het. Moenie jou daaroor bekommer om jou gaste af te skeep nie; niemand verwag van die gasheer/-vrou om te kan uithang nie.

Probeer soveel gaste groet as wat jy kan. Sê net: “Lekker om jou te sien! Ons praat later.”

Gesels met die nuwe ou

Ouens hou glo van meisies wat baie praat. Hoekom? Dit neem die druk van hulle af om ’n ongelooflike gesprekvoerder te wees.

Ontspan! Jy hoef hom nie met slim sêgoed en interessante staaltjies uit te boul nie; praat net.

Jou selfvertroue sal hom beïndruk en hy sal dankbaar wees dit voel nie ongemaklik nie. Maar hoe begin jy met ’n aantreklike vreemdeling praat?

Vra die gasheer om julle aan mekaar voor te stel of bedink ’n verskoning om hom te nader. Stap met ’n skinkbord met kos verby hom (ouens hou van lekker kos), kyk of hy nog koeldrank het of vra of hy jou met versierings sal help. Dit hoef nie ’n nagmerrie te wees om ’n gesprek aan te knoop nie.

‘MENSE HOU VAN PRAAT OOR HULSELF; STEL DUS ’N VRAAG, EN NOG EEN’

Is jou tong geknoop?

Gebruik een van dié voorstelle om ’n geselsie mee te begin

  • "Het jy die Chinese rolletjies (of enige ander partytjiekos) geproe? Dit is so lekker."
  • "Weet jy wie almal hier is? Ek ken net ’n paar van hulle"
  • "Hoe ken jy vir (naam van gasheer van partytjie)?"
  • "Ek is mal oor jou skoene/handsak/rok. Waar het jy dit gekoop?"

Aftiklysie vir 'n goeie gasheer

Dis wat jy moet jy doen vir ’n stresvrye kuier:
  1. Sê vir die bure. Gooi ’n briefie in hul posbus oor hoeveel mense jy verwag en ’n nommer wat hulle kan bel as enige probleme tydens die partytjie opduik.
  2. Moenie mense op jou Facebook-muur nooi nie; daar is geen groter kopseer as ongenooide gaste wat opdaag nie.
  3. Wees voorbereid. Kry soveel moontlik die aand vooraf gereed.
  4. Werk voor die partytjie aan die speellysie om die regte stemming te skep.
  5. As jy kan sien iemand is alleen, stel hulle voor aan ’n ander pel met wie jy weet hulle sal kliek.


Onthou: Almal is daar om die aand te geniet, nie om jou te veroordeel oor hoe goed of sleg jou versierings/kos/tema is nie. Geniet dit. 

Foto: Gallo Images/Getty Images; Teks: Bauersyndication.com.au/www.magazinefeatures.co.za