GETEISTER DEUR HAAR SKOONMA

Vraag

My skoonma haat my. Sy sit altyd voor langs my man in die kar. Sy het geen plek vir my in haar seun se lewe nie en skimp gereeld daaroor.

Sy skinder tot by my ouers oor my en meng in met ons kinders se opvoeding. Sy soek pal aandag met hartseer stories en kla wanneer ons nie by haar gaan kuier nie.

My man neem nie juis standpunt hieroor in nie. Ek kan nie langer die emosionele manipulasie verdra nie.

  • ON op DL

Antwoord

Bedekte beledigings, ’n geboelie en ’n ewige martelaarshouding wat skuld­gevoelens veroorsaak, is alles tekens van ’n bobaasmanipuleerder.

Jy klink na ’n rede­like mens, maar dit sal moeilik wees om haar aanslag op jou en jou gesin sonder ’n rusie te bowe te kom.

Stel die volgende op die proef
  • Moenie haar die middelpunt van jul gesinslewe maak deur haar te veel aandag te gee nie. Sy is deel van jou familie, maar jy is nie met haar getroud nie. Gaan alleen as gesin vir ’n naweek weg of hou alleen vakansie.
  • Praat met jou man oor jul doelwitte as paar­tjie. Dink aan jul lewe saam as ’n groep konsentriese sirkels wat uitkring, met jou en jou man in die middel, dan die kinders en daarna die familie. Jul huweliksverhouding kom eerste.
  • Moenie vir jou skoonma wys sy maak jou seer nie. Boelies gedy op ander se pyn.
  • Stel jou eie behoeftes voorop sonder om skuldig daaroor te voel. Met sulke geniepsige mense help dit nie om die minste te probeer wees nie. Laat haar duidelik verstaan jy sal nie haar beledigings duld nie.
  • Stel ferm perke oor wat sy in jou gesel­skap en in jul huis mag doen. Sorg sy weet wat die gevolge sal wees as sy nie daarby hou nie. As julle byvoorbeeld ’n vasgestelde gesinstyd het en haar daaroor ingelig het, maar sy kom dit onderbreek, nooi haar vriendelik binne, maar stel dit duidelik julle kan haar nie tee of ’n ete aanbied nie, want dit is jul tyd alleen.

SWAER STEL HAAR DIEP TELEUR

Vraag

Ons is ’n baie hegte familie. My suster se man het haar onlangs verneuk. Hy het nie net hul gesin verwoes nie; hy het ook baie hartseer vir my, my man en my ouers veroorsaak.

Ek was baie lief vir hom en het hom nog altyd as my broer beskou. Sedert die voorval het hy nog nie weer sy gesig gewys of met een van ons kontak gemaak nie.

Niemand met wie ek praat, verstaan hoekom dit my so raak nie.

  • SS op KL

Antwoord

Wanneer vertroue geskend word, verloor ’n mens vir ’n ruk nie net jou geloof in die mens wat jou dit aangedoen het nie, maar in die lewe self. Dis moeilik om te verwerk dat iemand wie se eienskappe jy bewonder het nie volmaak is nie.

Vergifnis beteken nie jy keur jou swaer se optrede goed nie; bloot dat jy kies om ’n wrok te laat vaar. Jou suster se pyn, jou ouers se angs en jou man se ontsteltenis kan jou wraakgedagtes laat koester dat hy dieselfde pyn moet ervaar.

Om met woede saam te leef maak ’n mens self seer. Dink so daaraan: Jou lewens­angs en hartseer raak hom dalk glad nie, maar laat jou lewe stilstaan. Is hy dit werd?

Jou suster het nou jou ondersteuning nodig; dit help nie om langer op hom te konsentreer of op dít wat vir jou onverstaanbaar is nie. Omdat hy nie die saak met julle bespreek nie, is dit vir jou nog moeiliker om jou gevoelens te verwerk.

Jou swaer vermy waarskynlik kontak omdat hy skuldig voel. Hy weet hy het julle almal teleurgestel.

Maak dit makliker vir almal deur leiding te gee en hom te vergewe sodat almal kan aangaan met hul lewe – met of sonder hom.

MOET DIE PA ALLEEN OPDOK?

Vraag

Ek lees in Liewe Elize van 3 Mei “Eks stry oor uitgawes”.

Watter soort bydrae maak die ma as die pa vir alles moet betaal?

Vir my lyk dit of die pa ’n lewenslange vonnis uitdien selfs al was dit die ma wat uit die huwelik gestap het. Ek het nooit my eks getap nie.

  • Onregverdig op TI

Antwoord

Albei ouers het ’n wetlike plig om na gelang van hul geldelike vermoëns toe te sien dat die kind se lewenstandaard nie onder die verandering in die gesin se omstandighede ly nie.

Die ma kan nie hierdie plig ontduik nie. Om reg aan die kinders te laat geskied, moet albei ouers hul inkomste gebruik – en as dit nodig is ook van hul kapitaal – om in die kinders se behoeftes te voorsien.

As ’n ouer geen inkomste het nie, maar wel bates, sal hy of sy nie die betaling van onderhoud kan ontduik nie.

KÊREL SUINIG MET SY SOENE

Vraag

Ons gaan nou al vyf maande lank uit, maar het nog nie een keer gesoen nie. My kêrel sê hy is nog nie “gereed” daarvoor nie. Dis vir my nogal belangrik.

  • AW, SMS

Antwoord

Soms is mense wat te bang is vir verhoudings of te onafhanklik is, skugter om te gou ’n innige verbintenis aan te gaan en dit met intieme aanrakings te bevestig. Hulle is dan ook snoep met hul soene.

Hulle is geneig om aan die begin opgewonde oor ’n verhouding te wees, maar kan later hulself skielik en onverstaanbaar aan die verhouding onttrek. Dan wonder jy wat jy verkeerd gedoen het.

As jou kêrel nie jou behoefte verstaan aan iets wat vir jou in ’n verhouding belangrik is nie, soos aanraking, los hom soos ’n warm patat. Kies iemand wat weet wat jy wil hê en bereid is om te sorg jy kry dit.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.