PA ONTSTEL KIND WAT MOEILIK LEER

Vraag:

Ek het ’n kind wat moeilik leer. Sy pa, van wie ek ses jaar gelede geskei is, speel nie altyd oop kaarte oor sy persoonlike lewe nie, en dit ontstel my seun.

Hy gebruik reeds ’n middel om sy konsentrasie te verbeter. Hy het sy eerste jaar op hoërskool voltooi, maar sy punte is nie goed nie.

Daar is aanbeveel dat hy na ’n skool gaan vir kinders met leergestremdhede. Ek is daarteen. Wat kan ek doen?

EO op GT

Antwoord

Al is daar geen kitsoplossings vir jou uitdagings nie, is daar hoop. Wedersydse vertroue tussen ouers en tussen kinders en ouers werk emosionele stabiliteit in die hand.

’n Oop gesprek tussen jou en jou eks, moontlik onder ’n kundige se leiding, kan julle help om ooreen te kom hoe julle in die toekoms beter aan jul kind se emosionele behoeftes kan voldoen.

As hy in ’n veilige omgewing meer tyd saam met sy pa deurbring en ’n vriendskap met hom kan opbou, kan dit misverstande uit die weg help ruim. Sorg dat sy pa goed ingelig is oor jul kind se behoeftes, soos dat roetine belangrik is en jul reëlings nie ter elfder ure verander nie.

Sy pa se onbetroubare gedrag ontstel nou jul kind, maar werklike skadelike optrede, soos doelbewuste leuens, kan later ’n probleem word.

Monitor jou eks se gedrag sodat jy betyds regstellende stappe kan doen, soos om daarop aan te dring dat ’n betroubare waarnemer jou seun op uitstappies saam met sy pa vergesel. 

Jy en jou eks sal jul verskille moet opsyskuif en saamwerk wat jul kind se leeruitdagings betref. As dit vir julle moeilik is om met mekaar te praat, kommunikeer per e-pos. Reël met jou kind se klasonderwyser ’n afspraak om leiding te kry oor die pad vorentoe.

Indien nodig, laat ’n ander opvoedkundige sielkundige jou kind se leerbehoeftes evalueer. Hou sy pa hieroor ingelig, of nog beter: Laat hy saamgaan. Hoe meer jy jou eks betrek, hoe meer betrokke kan en sal hy by jul kind wees.

My werk of syne?

Vraag

Ek het ’n goeie werk en my kêrel ook, maar ongelukkig op twee verskillende dorpe. Ons gaan nou so drie jaar uit en wil graag die res van ons lewe saam deurbring, maar dan sal een van ons van werk moet verander. Ek kan nie my werk doen waar hy woon nie en andersom.

HL (SMS)

Antwoord

Wanneer een maat ’n baie groot opoffering moet maak, oorleef ’n verhouding dit selde op lang termyn.

Die kuns is om ’n gesonde, goue middeweg te vind en in jul verhouding doelwitte te stel waarop julle saam ooreengekom het, soos om ’n huis te koop. Individuele doelwitte moet vir hierdie kompromie aangepas word sodat julle die regte optrede vir julle as ’n paartjie kan kies.

Dit sal byvoorbeeld sin hê om te kyk op watter van die twee dorpe huise die bekostigbaarste is of watter maat die bestendigste inkomste het.

'Wanneer een maat ’n baie groot opoffering moet maak, oorleef ’n verhouding dit selde op lang termyn.' - Elize

SIEK EN SAT VIR BITTER EKSVROU SE DRAMA

Vraag

My man se eks is bitter, en twee jaar ná hul egskeiding bly sy berge van molshope maak en wil sy oor elke klein dingetjie hof toe hardloop. Ek is nou behoorlik keelvol vir al die drama wat sy veroorsaak. Wat sou jy voorstel doen ek? My man en sy eksvrou het nie kinders nie, maar ons het ’n eenjarige dogtertjie.

DK (SMS)

Antwoord

’n Vyandige voormalige geliefde se invloed op ’n nuwe verhouding moet beperk word. Hou by die perke wat jou man aan haar gestel het en help hom dit handhaaf. As hy byvoorbeeld vir sy eksvrou gesê het hulle moet net per e-pos kommunikeer, moet jy haar glad nie bel of konfronteer nie. Gun dit ook tyd. ’n Egskeidingsbevel bied baie waarop jou man hom kan beroep, mits hy natuurlik self die bepalings daarin nakom. Beskerm jou verhouding deur ’n veilige ruimte te skep waarin julle as gesin kan groei, sonder enige inmenging.

Bly of loop ná ontrou?

Vraag

Ek en my vrou is nou vyf jaar getroud en het twee pragtige kinders. Ons was skaars drie maande getroud toe sy my verneuk. Met die laaste swangerskap het sy my verkul terwyl sy verwagtend was. Ek weet die kinders is myne en is bitter lief vir hulle.

Ek weet nie of ek moet loop of bly nie. Sal ek haar weer kan vertrou of gaan ek my tyd mors?

Help Asseblief op G

Antwoord

Om huweliksontrou te vergewe, te verwerk en voort te bou aan ’n nuwe verhouding is vir enige paartjie ’n uitdaging. Dis moontlik, veral as jy heeltemal eerlik is met jouself en nie jou vrou se foute en die verlede probeer ontken nie.

Vergifnis is nie goedkoop nie, maar om nie te vergewe nie het ook ’n prys. Versoening is nie ’n voorvereiste vir vergifnis nie; dit is ’n bonus as dit bewerkstellig kan word. Jy kan ook vergeef en steeds ’n nuwe lewe begin.

Jy sal baie moet opoffer om om jou kinders se onthalwe by haar te bly. Jy sal moet leer saamleef met die pyn van gedagtes aan haar ontrou. Die vraag is: Wil jy kies om te vergewe en die lewe weer saam met iemand aanpak wat jou in die verlede verraai en mislei het omdat sy haar eie behoeftes vooropgestel het?

Hoe gaan jy ’n woord glo wat sy sê? Waarvoor wil jy hê moet jou kinders jou eendag bedank: kinderjare in twee huise vol vrede of in ’n enkele huis vol spanning?

As jy besluit om dié hoofstuk af te sluit, moet jy aan ’n nuwe lewe werk en tydens jou egskeiding ’n ouerskapsplan opstel wat ruimte daarvoor laat dat jy jou kinders in ’n huis sonder selfsug kan grootmaak.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.