Gelukkige paartjie in die kombuis
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die afgelope jaar met sy inperking en meer tyd tuis asook die stres van die pandemie het druk op selfs die sterkste liefdesverhoudings geplaas. En wanneer die frustrasies en spanning opbou, vlieg romanse sommer eerste by die venster uit.

Hoe kan jy in dié stresvolle tyd die intiemste aspek van jou verhouding weer woema gee? Die geheim is ’n seksdieet, meen Christine DeLozier, ’n seksuele gesondheidsterapeut. “En ek bedoel nie net om sjokolade en aarbeie op interessante maniere te gebruik nie, maar iets veel wetenskapliker as dit,” sê sy.

“Die feit is, wat ons eet, beïnvloed ons vermoë om goeie seks te hê direk.” Natuurlik sal ’n hand vol okkerneute of ’n groenslaai vir middagete jou nie net skielik in die bui sit nie, maar die regte kos kan volgens sommige kenners vir ’n meer vervullende sekslewe help sorg.

Dit het geen newe-effekte nie en hou talle ander gesondheidsvoordele in. In hierdie uittreksel uit Christine se boek Diet for Great Sex: Food for Male and Female Sexual Health vertel sy waaraan jy moet weglê.

VERSTERK DIE LIBIDO MET SPINASIE

Spinasie
Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit klink dalk allesbehalwe sexy, maar blare is waarskynlik die beste ding wat jy kan eet om te help vir goeie seks. Blaargroente herstel balans aan die hormone wat seks beïnvloed, soos kortisol, wat deur stres veroorsaak word en ’n groot passiedoder is. Kortisol verlaag testosteroonvlakke, wat ’n rol speel by manlike en vroulike seksuele begeerte.

Vroue met hoë kortisolvlakke sukkel meer om ’n orgasme te bereik en het ’n laer libido. Blare is ook propvol belangrike minerale en antioksidante wat volgens navorsing die spoed en krag van senuweeseine help verbeter.

Dit is direk gelyk aan meer sensitiwiteit waar dit saak maak – wat meer plesier beteken. Dit is ook ’n goeie bron van kalsium – iets wat al wetenskaplik bewys is om begeerte, opwekking en orgasme by menopousale vroue te verbeter.

EET DIT

Gemengde groenslaai met hande vol spinasie; gekapte krulkool; blaarslaai; en bronkors bedek met vinaigrette en baie swartpeper, wat ook ’n prikkelmiddel is.

RAAK SENSUEEL MET ’N SMOOTHIE

Jy wonder dalk hoekom jou seksuele ervarings meer vurig was toe jy jonger was, maak nie saak wat jy toe geëet het nie. Die feit is ’n jonger mens se liggaam kan ’n swak dieet op kort termyn hanteer. Maar namate ons ouer word, word die uitwerking van ongesonde vette en die oormatige sout van kitskos en klaarbereide maaltye op senuwee- en slagaarwerking ál meer.

Antioksidante help skade aan bloedvate en senuwees bestry, en as senuwees gesond is, reageer hulle vinnig en sterk. Flavonoïede is ’n soort antioksidant wat wonderlik is vir hartgesondheid en erektiele werking, en dit kom voor in baie kos wat maklik is om te eet.

Appels, bessies, preie, pietersielie en seldery is goeie voorbeelde. Meng dit met nitraatryke kosse (blaargroente) en die voordeel is nog groter. En jy hoef dit nie jare lank te eet om die uitwerking te sien nie – ’n mens kan al meetbare verbeterings kort ná inname sien.

EET DIT

’n “Sekssmoothie” met bloubessies, spinasie, piesang, gerasperde gemmer en ’n knippie saffraan.

OMEGA-3 VIR BEGEERTE

Wanneer ons oor ongelooflike seks en ’n sterk orgasme praat, moet ons oor bloed en die vaatstelsel praat. Die daad gaan daaroor om bloed vryelik en oorvloedig na al die regte plekke te laat vloei.

Wat ons eet, is noodsaaklik vir dié proses – selfs vir mense wat fiks en gesond is. Wanneer ons geprikkel word, is dit bloed wat sy ding doen.

So, wat moes ons eet? Omega-3-vetsure – wat in olierige vis, neute en sade voorkom – bied geweldige voordele in die slaapkamer omdat dié sure so goed is daarmee om inflammasie te bestry en ook om bloeddruk te verlaag.

Gesonde mense wat minstens twee keer per week vis eet, het minder vaat-inflammasie en verouder ook beter, want die vetsure voorkom skade aan hul DNS.

EET DIT

Pangeskroeide salm met gestoomde aspersies.

OKKERNEUTE: ’N SEKSUELE SUPERKOS

Okkerneute
Foto: Gallo Images/Getty Images

Met hul perfekte balans van minerale en ’n hoë omega-3-inhoud verlaag neute cholesterol en verminder dit die risiko vir hartsiektes, diabetes en beroerte – dit geld vir enige soort neute.

’n Studie toon twee hande vol neute per dag kan die intensiteit van orgasmes by mans aansienlik versterk, terwyl ’n ander een daarop dui dat pistachioneute manlike seksuele werking kan verbeter.

Okkerneute is veral ’n seksuele superkos. Dit is ’n goeie bron van die aminosuur L-arginien, wat bloedvloei verhoog (wat noodsaaklik is vir seksuele genot). Daarby is dit propvol fenoliese antioksidante.

Dit beskerm die struktuur van slagare wat bloed vervoer na al die dele wat saak maak. Jy sien dalk op dieselfde dag al resultate – ’n studie het getoon bloedvate is al binne vier uur nadat iemand okkerneute geëet het meer elasties.

EET DIT

’n Hand vol neute per dag.

VERHOOG PASSIE MET AARTAPPELS

Aartappels
Foto: Gallo Images/Getty Images

Studies toon vaatwerking verbeter onmiddellik ná net een kaliumryke maaltyd. Atlete maak daarop staat om vloeistowwe te balanseer en met spiersametrekking te help – en seks is immers ’n uithousport.

Aartappels is ’n goeie bron van kalium en na my mening het dié knolgroente onnodig deurgeloop weens die minkoolhidraatbeweging. Ons moet verstaan hoe goed dit vir seks is.

Natuurlik praat ons nie hier van aartappelskyfies of gebakte aartappels nie – eerder aartappels met die skil aan as deel van ’n laevetdieet. Moenie sout daarop gooi nie. Selfs ’n enkele souterige maaltyd kan slagaarwerking binne 30 minute belemmer en veroorsaak dat stikstofmonoksied – deurslaggewend vir opwekking – verminder.

EET DIT

Aartappel-en-lensiekerrie met blomkool en fenegriekblare.

RAAK OPGEWEK MET VITAMIEN D

Sampioene
Foto: Gallo Images/Getty Images

Vitamien D is goed vir alle liggaamsdele wat met genot verband hou. Dit is omdat dit nie regtig ’n vitamien is nie, maar ’n hormoon wat ons liggaam uit sonlig vervaardig.

’n Tekort aan vitamien D hou verband met verhoogde bloeddruk, wat met minder genot en seksuele reaksie in verband gebring word. Pleks van ’n aanvulling drink, bring ’n paar keer per week smiddags 20 minute buite deur of eet olierige vis, eier en sampioene.

EET DIT

Sampioene is ’n uitstekende bron van vitamien D. 

KITSPRIKKELMIDDELS

GEMMER

Hierdie geurige koswortel versterk testosteroon. Maak ’n gemmertonikum met mineraalwater, vars gemmer, suurlemoen, lemmetjie en heuning.

VINKEL

Met dié dat dit vitamien C en fito-estrogene bevat, help dit om menopousesimptome soos vaginale droogheid en warmgloede te verlig. Rooster dit saam met aartappels of eet dit saam met pasta en ’n tamatiesous. Vinkelsaad bevat ook nitrate wat goed is vir bloedvloei. Voeg dit by kerries of hoendergeregte.

FENEGRIEK

Hierdie krui verbeter vermoedelik libido. Voeg gekapte droë blare by groentesouse of soppe of gebruik die saad in ’n lensiebredie.

DILLE

Dit verbeter blykbaar seksuele begeerte by mans. Gebruik dit om ’n gereg te geur of as ’n geurige bestanddeel in tuisgemaakte slaaisouse.

SAFFRAAN

Die aktiewe bestanddeel krosien verhoog begeerte en prestasie by mans en verbeter opwekking by vroue. Beproef dit in ’n pilaf van bruinrys en quinoa.

DADELS 

Dit is vermoedelik die oudste gekweekte vrug ter wêreld. Die mineraalinhoud van dadels verbeter hormoonbalans by vroue en kan vrugbaarheid help bevorder.

Diet for great sex-boek
’n Uittreksel uit Diet for Great Sex: Food for Male and Female Sexual Health deur Christine DeLozier, R389 by takealot.com.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe