Dit kan jou gesondheid net so negatief beïnvloed as "om te rook en te drink", vertel Rosie Shrout, ’n navorser van die studie wat deur die universiteite van Nevada en Michigan gedoen is.

“Hierdie verhouding maak my letterlik siek.”

Rosie en die ander navorsers het 373 paartjies oor 16 jaar gevolg en vrae gevra soos of hulle stry kry oor goed soos kinders, geldsake en skoonfamilie.

Met die jare het hulle ook die deelnemers se gesondheidskwessies gekontroleer; dinge soos slaapprobleme, hoofpyne en angstigheid of kriewelrigheid. Paartjies wat gereeld baklei, het meer van dié probleme gehad.

En hoe meer daar baklei word, hoe meer word die man se gesondheid negatief beïnvloed. "In die algemeen is dit vroue wat met slegter gesondheid die huwelik ingaan, verduidelik Rosie. Daarom is dit meer opvallend as mans sieker word.

’n Vorige studie van dieselfde instellings het getoon dat mense met sterker sosiale verhoudings ’n 50% beter kans het om langer te lewe as diegene met slegte verhoudings.

"Vroue tree die huwelik dikwels reeds met gesondheidsprobele binne"

In haar 20 jaar as sielkundige en Imago-verhoudingsterapeut het Carol-Ann Dixon van Kloof naby Durban in KwaZulu-Natal dit al dikwels gehoor: "Ek is siek en sat van al die konflik," en "Hierdie verhouding maak my letterlik siek".

"Dit is inderdaad my praktyk-ervaring dat toksiese verhoudings ’n groter tol op die individu eis," vertel dr. Hermann Liebenberg, ’n sielkundige van Centurion, Gauteng.

"Hierdie tendens is aan die toeneem aangesien vroue voltyds werk en sommige mans dikwels vanuit die tipiese patriargale gesinstruktuur dieselfde verwag as van ’n vrou wat ’n tuisteskepper is, ten spyte van die vrou se werkpligte en -verantwoordelikhede," meen Hermann.

“Die opkrop van emosies en die onvermoë om te kommunikeer, kan ook streshormoonvlakke opjaag"

"Sedert die vroegste tye weet ons dat die liggaam, siel en gees ’n eenheid is. Wat op die een vlak gebeur het ’n invloed op al die ander vlakke. Ek sien gereeld in my praktyk dat konflik in verhoudings ’n groot tol kan eis op die gesondheid, welstand en stresvlakke van die paartjie," vertel Susan Eksteen, ’n verhoudingsterapeut, geregistreerde berader en pastorale terapeut van Krugersdorp.

"Ek doen gereeld navraag oor die paartjie se medikasiegebruik en het agtergekom dat emosionele en verhoudingstres ’n groot invloed op die paartjie se algehele gevoel van welstand uitoefen," sê Susan.

En haar ervaring is ook dat pare wat baie konflik ervaar, meer kwale het soos lae energievlakke. Dit lei op sy beurt na baie leefstylsiektes waarvan ons deesdae ál meer hoor, soos vetsug.

Vroue wat in ’n verhouding is waar sy mishandel word, het soms nie net die emosionele kanker nie, maar dikwels ook die fisieke mishandeling wat sy moet hanteer, sê Hermann.

"Hierdie vorm van onderdrukking gee dikwels aanleiding tot erge depressie, angs, emosionele uitbranding, slapeloosheid, lae selfwaarde en verskeie mediese toestande, wat ’n duidelike psigiese oorsprong het, om enkele te noem," voeg Hermann by.

“Maar sommige konflik is nodig om energie en opwinding in die verhouding te skep."

Kroniese konflik is stresvol en verhoog kortisol en ander streshormoonvlakke, en dit het ’n uitwerking op mense se fisieke en emosionele welstand, vertel Carol.

Die mense is heeltyd op hul hoede en in ’n veg- of vlugsituasie. Hulle voel onveilig en dit kan die liggaam aantas en selfs lewensgevaarlik wees.

"Die opkrop van emosies en die onvermoë om te kommunikeer, kan ook streshormoonvlakke opjaag, sê Carol.

Aanhoudende wisselvallige gedrag, woede en uitbarstings plaas stremming op die hart en beïnvloed die gesondheid.

"Gereelde konflik en die onvermoë om struwelinge op te los, lei tot vrees dat die verhouding beëindig gaan word," meen Carol.

"Maar sommige konflik is nodig om energie en opwinding in die verhouding te skep. ’n Huwelik sonder konflik lei tot verveling, onvergenoegdheid en ’n beperkte band tussen die twee," sê sy.

HOU SO JOU VERHOUDING GESOND

Dit kos spanwerk

Om ’n gesonde verhouding te verseker moet daar twee gesonde individue in die verhouding wees, sê Hermann. "Dit gebeur wel dat ’n egskeiding in sekere gevalle die grootste verligting vir iemand is wat al alles probeer het om die huwelik te red," voeg hy by.

"Die huwelik is iets waaraan daar elke dag en uur gewerk moet word om te voorkom dat die vlammetjie in die verhouding uitdoof en daar later niks anders as emosionele en of fisieke mishandeling-duisternis is nie," sê Hermann.

Konflik

Dit is onafwendbaar dat pare konflik sal ervaar, want ons is almal verskillend en sien gebeure uit ons eie agtergrond en ervaring van pyn en kwesbaarheid, sê Susan.

"Daarom sal ons verdedig wanneer ons bedreig voel, wat ’n baie natuurlike reaksie is. Maar die een party se verdediging of aanval aktiveer gewoonlik die ander party se kwesbaarheid en die gevolglike konflik verbreek die paar se verbinding op ’n emosionele vlak," sê sy .

"Dis nie te sê dat hulle nie mekaar liefhet nie, of dat hulle nie meer kies om bymekaar te wees nie, dit is net dat hulle glad nie in daardie stadium insig het dat die maat se lewenswêreld en ervaring van die probleem totaal van die ander een se ervaring verskil nie.

Luister na jou maat

"Die ideale oplossing sou wees om jou verdedigings opsy te sit en regtig met empatie te luister na jou maat en te hoor hoe sy of haar ervaring van die probleem van joune verskil. Sodoende kan jy agterkom dat jou maat se standpunt net soveel geld en dat jy nie noodwendig hoef saam te stem nie; maar net moet verstaan dat dit is hoe jou maat dit ervaar," is Susan se raad.

"Dis egter veel makliker gesê as gedaan, en dit is waar berading handig te pas kan kom om meer sin te kan maak van jou en jou maat se kwessies."

Die oplossing?

"Paartjies moet leer dat konflik eintlik groei is wat probeer plaasvind," sê Carol. "Dis ’n intelligente proses en dit gebeur wanneer paartjies hul verskille met respek en volwassenheid moet aanspreek."

Hoe gemaak met frustrasies?

"As jy gefrusteerd is in ’n verhouding, moenie stilbly of skree op jou maat nie. Kry eerder ’n manier om jul gevoelens te deel, na mekaar te luister en saam met kreatiewe oplossings vorendag kom," is Carol se raad.

"In Imago-terapie leer ons mense hoe om dit te doen. Dit is inspirerend om te sien hoe paartjies gloei vanweë goeie gesondheid en tevredenheid met mekaar terwyl hulle nuwe vaardighede aanleer om hul band te versterk en nuwe energie te kry," voeg Carol by.

"Goeie verhoudings kan jou gesindheid en welstand verbeter net soos ’n slegte verhouding jou gesondheid kan aftakel.

"Dit verg harde werk, toewyding en die wil en begeerte om te groei om dit reg te kry en sodoende die huwelik te red."