Hy is ’n voormalige rugbyheld, ’n gefolterde openbare figuur wat al oop kaarte gespeel het oor sy emosionele worsteling ná sy sportbeserings, sy moeilike egskeiding en sy misbruik van pynpille.

Sy is ’n gewilde sangeres met ’n silwerskoon openbare beeld wat al byna twee jaar getrou aan sy sy is, deur dik en dun . . .

Nádine (37) het in Januarie vanjaar al daarop gesinspeel dat sy Derick Hougaard, eens die Liefling van Loftus, deur donker tye help toe sy hom op die vooraand van sy 36ste verjaardag op Facebook gelukwens: “Mag trane in geluk verander. Mag ongeluk jou nader aan die beste van alles bring. Mag hierdie metamorfose een vir die boeke wees . . .’’

En toe bars die bom verlede maand: Nádine betrap Derick en ’n blondine saam in ’n hotelkamer nadat dié twee die vorige aand in ’n kroeg in Pretoria gekuier het. “Ek is verby stukkend,” het die sangeres en aanbieder van die SABC2-program Musiek Roulette aan Huisgenoot gesê oor dié vertrouensbreuk.

En Derick het gebieg hy weet nie hoe om dinge tussen hulle reg te maak nie. Intussen het Dannel Kruger (26), ’n bemarkingsassistent van Pretoria, aan Rapport gesê sy het bloot vir Derick ná ’n rowwe aand help inkruip toe Nádine die hotelkamer binnestorm.

Terwyl Derick en Nádine nou die stilswye bewaar oor die stand van hul verhouding ná die hotelkaskenades, verneem Huisgenoot van ’n betroubare bron dis tans in die weegskaal.

Lesers het behoorlik op Facebook en in briewe aan Huisgenoot hieroor mond uitgespoel. “Nádine, moenie hom terugvat nie,” het een leser geskryf en bygevoeg dat elke mens verdien om geborge in ’n verhouding te voel.

“Dis jammer dat ’n fantastiese mens soos Nádine in hierdie gemors vasgevang is. Ek hoop sy stap weg,” het nog ’n leser laat hoor. Die liefde is blind, meen ’n ander leser, maar Nádine verdien “iemand wat haar gaan oppas en beskerm”.

En talle lesers het gewonder: Hoekom dink party vroue hulle moet keer op keer die man in hul lewe se foute vergewe en hom probeer bystaan en red, al is dit ten koste van hulself?

Huisgenoot het by kenners gaan aanklop oor dié verskynsel wat ook al vir baie ander vroue hartseer en teleurstelling veroorsaak het.

Hoekom fouteer ’n man in ’n versorgende verhouding?

Aan die een kant wil mense geborgenheid, gemeensaamheid en ’n gevoel van verbintenis en sorg hê, maar aan die ander kant het baie mense die behoefte aan risiko’s en spontaniteit, sê Karen Moross, ’n berader by die Family Life Centre in Parkwood, Johannesburg.

Riskante gedrag en geheimsinnigheid dra by tot ’n gevoel van opwinding en vryheid, meen Karen. Party mense sal dus in hul verhouding kanse bly waag en foute bly maak wat hul maat kan seermaak, al weet hulle hulle plaas daardeur alles op die spel.

Hoekom wil sommige vroue hul gefolterde geliefde bly red?

Baie vroue put persoonlike bevrediging daaruit om iemand van die uitdagings in sy lewe te probeer red, en in so ’n verhouding voel albei – die redder en die een wat gedra word – dit bevestig hul liefde vir mekaar, sê Daleen van Staden, ’n maatskaplike werker by die Familie- en Huweliksvereniging van Suid-Afrika.

Deur haar geliefde te dra ondanks sy gebreke en te vergewe ondanks sy foute, voel die vrou sy red ook hul verhouding. Dit kan haar laat voel sy werk aan iets wat tog die moeite werd is, al maak dit haar telkens seer. Iemand wie se maat haar vertroue geskend het, voel verraai, sê Karen.

“Tog voel hulle hulle wil weer probeer; dié keer beter en harder. Hulle wil ook hulself red: van verlies en verwerping.’’

Die behoefte om ’n verhoudingsmaat te red kan soms uit hul eie ervaring in hul kinderjare spruit, sê dr. Hermann Liebenberg, ’n sielkundige van Centurion.

Hy het al berading aan vroue gegee wat as kind nooit uit ’n moeilike situasie soos afknouery “gered” is nie; daarom wil so ’n persoon dikwels later ander beskerm, al is dit ten koste van hulself. Hy sê vroue wat hulle in so ’n situasie bevind, projekteer soms hul eie behoefte aan beskerming op mans wat ontvanklik daarvoor is.

“So ’n man het dikwels óf ’n behoefte aan ‘moederlike beskerming’ óf hy is daaraan gewoond en is geneig om sulke vroue te lok.”

Hy sê dis dan wanneer die grens tussen besorgdheid vir iemand vir wie jy omgee en ware, wedersydse liefde ’n grysland word. “Hulp in ’n tyd wanneer iemand kwesbaar voel, kan maklik met ’n vorm van liefde pleks van omgee op ’n gesonde vlak verwar word.”

Hoekom bly vroue in sulke verhoudings?

Wanneer ’n on- gesonde afhanklikheid in ’n verhouding in stand ge- hou word, hou dit soms verband met bindingsprobleme wat mense as kinders met hul ouers of ander mense ervaar het, sê Hermann. Hy meen waar albei maats diepliggende sielkundige behoeftes het, kan ’n simbiotiese verhouding – waar die een van die ander afhanklik is – werk.

“Maar my waarskuwing is dat dié soort verhouding dan op ’n verkeerde grondslag gebou word en net so maklik kan omval.”

Die maat van iemand wat pal deur ’n moeilike tyd gaan en voortdurend groot foute begaan, moet dikwels bereid wees om vele rolle te vertolk: dié van vredemaker, redder of vermaakster, sê Karen.

Dit raak op die lange duur uitmergelend om altyd die sterk een te wees, en wanneer die een maat ’n steunpilaar vir die ander geword het, raak dit moeilik om die verhouding te verbreek.

Soms leer die samelewing vroue boonop jy moet by die man in jou lewe bly tot die dood julle skei, sê Daleen.

Die kerkgemeenskap verwag dit soms van pare wat voor die kansel ewige trou aan mekaar beloof het; soms word ook verwag dat die vrou die pleister op seerplekke moet plak, en as die man in haar lewe nie gesond word nie, word daar na haar die vinger gewys.

Wanneer ’n saamgestelde gesin ontstaan waarby stiefkinders en ekse betrokke is, raak dinge nog ingewikkelder.

Die nuwe vrou in ’n man se lewe kan onwillig wees om sy kinders weer aan ’n skeiding bloot te stel, sê Daleen. Of dalk wil sy haarself aan sy ouers, vriende en ander naastes bewys. Dié vrese kan ook by haar ontstaan: Wat sal gebeur as ek hom los? Gaan hy homself iets aandoen?

Later kan sy in die verhouding bly weens ’n gevoel van verantwoordelikheid pleks van een van wedersydse liefde en kameraadskap.

Kan so ’n verhouding weer werk?

“’n Onewewigtige verspreiding van emosionele en ander laste in ’n verhouding raak op die lange duur ’n moeilike hindernis om te oorkom,” waarsku Hermann.

Wanneer jy weer met jou maat se gebreke en foute gekonfronteer word, moet jy die verhouding ontleed en jouself afvra hoekom jy die verhouding wil probeer red – is dit omdat dit werklik die moeite werd is of omdat jy voel dis jou plig om deur te druk met ’n verhouding wat onregverdige eise aan jou stel?

’n Gevoel van selfwaarde moet gevestig word sodat ’n vrou in ’n verhouding kan funksioneer wat skeefgetrek is deur die eise wat die verhoudingsmaat aan haar stel of gestel het, sê Karen.

Sy sê as jy ’n behoefte daaraan het om ander te help of te genees moet jy by liefdadigheidswerk betrokke raak pleks daarvan om dit as die doel van jou verhouding te beskou.

In samewerking met ’n sielkundige kan albei maats wel leer om hulself meer te bemagtig, sê Hermann. Die paartjie sal hard moet werk om gesonde grense en verwagtings binne die verhouding te vestig, sê hy.

Moenie wag tot iemand oor die tou trap om gesprekke oor grense te voer nie; oop kommunikasie en onderhandeling help om hegter bande te smee en ’n ruimte te skep waarin ongesonde afhanklikheid nie bevorder word nie.

As daar reeds ’n vertrouensbreuk was, kan dit nie meer dieselfde verhouding as voorheen wees nie, sê Karen.

Sy sê “die reset-knoppie” moet as’t ware gedruk word om vars en van voor af te begin met ’n verhouding waarin albei maats mekaar vertrou en in ’n gelyke mate steun.