Navorsers aan die Universiteit van Florida in Amerika het gaan kyk na die redes hoekom mense ontrou is en talle faktore in ag geneem – van jou ouderdom en voorkoms tot jou lakeneskapades. En dit blyk nou as jy en jou maat gereeld warm tussen die lakens raak, beteken dit nie hul oog gaan nie dwaal nie.

Trouens, hulle het bevind jong paartjies wat meer seksueel tevrede in hul verhouding is, is meer geneig om mekaar te verneuk.

In die studie, wat in die Journal of Personality and Social Psychology publiseer is, het die span 233 pasgetroude paartjies vir tot drie en 'n half jaar gevolg en allerhande intieme besonderhede oor hul verhouding waargeneem.

Hulle het onder meer gekyk of hul oog gedwaal het, hoe tevrede hulle in hul huwelik is en of hulle nog saam is.

Hulle het tot die voor die hand liggende slotsom gekom dat jonger mense en diegene wat minder tevrede met hul huwelik is, meer geneig is om hul maat te verneuk.

Maar verbasend genoeg, is mense wat 'n goeie sekslewe het, ook meer geneig om ontrou aan hul maat te wees. Die rede? Hulle voel dalk meer positief oor seks in die algemeen en gaan soek dan meer daarvan, ongeag hoe hulle voel oor hul hoofverhouding.

Voorkoms speel ook 'n rol. Minder aantreklike vroue was glo meer geneig om 'n affair aan te knoop as aantreklike vroue. Die mans van onaantreklike vroue was ook meer geneig om hul vrou te verneuk. 

Nog 'n faktor was 'n individu se geskiedenis met seks. Mans wat aangedui het dat hulle baie korttermyn- seksuele verhoudings voor die huwelik gehad het, was meer geneig om ontrou te wees. Die teenoorgestelde was waar vir vroue. 

Die wetenskaplikes het nie net na die pasgetroudes se gedrag gekyk nie, maar ook probeer uitvind of daar tekens is dat iemand meer geneig gaan wees om ontrou te wees. In een toets het hulle vir die paartjies foto's van aantreklike mense gewys en gekyk hoe lank hulle na die foto's staar.

As enigeen net 'n paar honderd millisekondes langer na die foto's gekyk het as die gemiddelde tyd, sal hulle meer geneig wees om 'n buite-egtelike verhouding aan te knoop.

Volgens Jim McNulty, die hoofnavorser van die studie, is die reaksies gewoonlik outomaties. “Mense is nie noodwendig bewus van wat hulle doen, en hoekom hulle dit doen nie. Die prosesse is grootliks spontaan en moeiteloos en is deur biologiese en/of deur kindertydervarings gevorm,” sê hy.