Volgens onlangse navorsing is lekker genoeg slaap en ’n gesonde sekslewe die sleutel tot geluk.

Daar is bevind dié twee slaapkameraktiwiteite het ’n groter impak as geld op ’n mens se geluksaligheid, terwyl sterk verhoudings met familie en vriende, werksekerheid en die goeie gesondheid van geliefdes ook hoog op die lys is. 

’n Span van Oxford Economics en die National Centre for Social Research is deur die Britse supermarkketting Sainsbury’s die taak opgelê om ’n nuwe Living Well-indeks te skep.

Die navorsers het aan ’n paneel van 8 250 mense, wat alle lae van die bevolking verteenwoordig, vrae gevra oor 60 verskillende aspekte van hul gedrag, die manier waarop hulle lewe en hoe hulle voel.

Inkomste het verbasend min met geluk te make.

Die resultate het getoon dat die gemiddelde Brit ’n Living Well-telling van 62,2 uit 100 het, terwyl dié wat tussen 72 en 92 uit 100 behaal het, beskou is as dié wat die beste lewe.

As ons kyk na dit wat die grootste uitwerking gehad het op mense se geluk, het inkomste ’n verbasend klein rol gespeel; ’n verhoging van 50% in besteebare inkomste sorg vir ’n verhoging van slegs ’n 0,5 punt in hul Living Well-telling.

’n Goeie nagrus, daarenteen, is as deurslaggewend beskou.

“Slaap was die sterkste aanduiding van ’n breër sin van welsyn,” het die deskundiges opgemerk. “Die meeste van diegene met die hoogste Living Well-tellings het aangedui dat hulle die meeste van die tyd goed uitgerus voel, terwyl die helfte van dié in die onderste 20% van die indeks aangedui het dat hulle selde of ooit behoorlik uitgerus voel.

En vir die gemiddelde volwasse Brit sou die verbetering van hul slaap tot by die vlak van iemand aan die bopunt van die indeks die ekwivalent wees van meer as vier keer die besteebare inkomste.

Tevredenheid met die sekslewe was ook hoog op die lys, gevolg deur werksekerheid, die gesondheid van naby familie en verbinding met die gemeenskap.