Byna almal smag na die liefde, maar dis sowaar nie almal beskore nie. Of so voel dit altans wanneer sake van die hart maar net nie wil vlot nie. Maar hoe gemaak as jou soektog na Die Een jou in Kupido laat moed verloor het?

Miskien is dit tyd om jou tot die wetenskap te wend, glo die Britse wetenskapskrywer Helen Thomson. In haar nuwe boek, This Book Could Fix Your Life: The Science of Self Help, deel sy “wetenskaplike wenke” en praktiese raad waarmee jy net dalk die kol kan tref.

Hier is haar verbasend spesifieke raad om Die Een te vind en romanse te laat gedy.

DRA MAAR JOU OU KLERE . . .

Wat jy dra, is minder belangrik as hoe jy dit dra, sê Helen.

“Die kleur van jou uitrusting maak nie soveel saak as om te dra waarin jy ook al op jou beste voel nie,” sê sy.

Selfvertroue is die geheim – as daardie nuwe jeans dus nie heeltemal reg voel nie, dra jou ou gunstelingpaar.

In ’n eksperiment waar mans gevra is om foto’s van vroue te lys volgens begeerlikheid, het hulle altyd kop-en-skouer-foto’s gekies van vroue wat hul gunstelinguitrustings dra – al het die vroue almal neutrale gesigsuitdrukkings gehad en was hul klere nie op die foto sigbaar nie.

“Die manier hoe die vroue oor hul voorkoms gevoel het, was duidelik in hul gesigsuitdrukkings, al was hulle nie daarvan bewus nie,” sê Helen. Selfvertroue is die geheim – as daardie nuwe jeans dus nie heeltemal reg voel nie, dra jou ou gunstelingpaar. Jy sal jouself agterna daarvoor bedank.

BOOTS HUL LYFTAAL NA

Moenie tyd mors om soetsappige of oulike sêgoed te oefen nie – eerste indrukke, sê Helen, is grotendeels op lyftaal gegrond.

“Wanneer jy ’n vreemdeling ontmoet, word daar geraam hul indrukke van jou is 55% gegrond op jou voorkoms en lyftaal, 38% op jou manier van praat en ’n skamele 7% op wat jy sê.”

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wat is dus ’n goeie eerste indruk? Helen sê dis belangrik om ’n oop houding te handhaaf – wat beteken om nie jou arms te vou nie – of om die ander persoon se houding na te boots.

Sy stel ook voor jy pas jou bewegings aan by die ander persoon s’n: Teug aan jou drankie wanneer hulle dit doen en boots hul bewegings na om ’n gevoel van eensgesindheid te skep.

“Die meeste mense raak nie bewus daarvan as hulle so nageboots word nie, maar hulle evalueer diegene wat dit doen op ’n gunstiger manier,” sê sy.

BEHOU OOGKONTAK

Oogkontak is dikwels die begin van ’n emosionele band, sê Helen. Sielkundiges het bevind wanneer vreemdelinge gevra word om in mekaar se oë te kyk, ervaar hulle hoër vlakke van aantrekkingskrag en gehegtheid as wanneer hulle byvoorbeeld gevra word om na mekaar se hande te staar.

Neurowetenskaplikes het bepaal om in iemand anders se oë te kyk, aktiveer dele in die brein wat met beloning en plesier verbind word. Maar, waarsku Helen, “maak seker jy behou nie die blik vir te lank nie. As die persoon nie dieselfde doen nie of jy vergeet om jou oë te knip, kan jy die ander persoon baie ongemaklik laat voel.”

BEAAM DINGE MET KORT WOORDE

Wanneer jy met ’n moontlike lewensmaat gesels, gebruik kort woorde van aanmoediging soos: “Oukei”, “Ja, ja”, “Vertel meer” of “Ek sien”. In studies is vasgestel mense wat dié gewoonte aanleer, word as aantrekliker beskou. Dit maak sin, want ons almal hou van die wete dat iemand aandag aan ons skenk en ons interessant vind, sê Helen.

SPOG GERUS – MAAR HOU JOU BOODSKAPPE KORT

As jy jou tot afspraakwebtuistes wend om ’n moontlike maat te vind, moenie skaam wees om jou beste self voor te stel nie.

“Die meeste mense soek potensiële maats wat sowat 25% aantrekliker as hulself is,” sê sy. “Moet dus nie terughou nie.”

Sodra jy aan potensiële maats begin boodskappe stuur, moenie lang boodskappe skryf nie – dis nie die moeite werd nie, waarsku Helen.

“Teen my 24ste aanlyn afspraak was ek behoorlik verveeld daarmee om breedvoerige boodskappe te skryf en opgewonde te raak vir weke se pittige heen-en-weer-antwoorde, maar wanneer ons mekaar in persoon ontmoet, dadelik te weet ek stel nie belang nie.

“Dit blyk nou ek was reg om daarmee op te hou. Daar is in ’n studie in 2018 bevind die variasie in sukses vir verskillende skryfstrategieë is gering, wat daarop dui dis ’n vermorsing van tyd om die moeite te doen met lang boodskappe.”

KYK OF JUL GENE KLIEK

Dis geen geheim dat mense aangetrokke is tot ’n lewensmaat van soortgelyke intelligensie, aantreklikheid en status nie, maar gene speel ook ’n rol, sê Helen. ’n Stel van ons gene, bekend as MHC, speel ’n kritieke rol in ons vermoë om patogene – virusse en bakterieë wat siektes kan veroorsaak – te beveg.

In eksperimente het mense die reuk van T-hemde wat gedra is deur diegene met verskillende MHC’s as aantrekliker beskou.

Navorsers het bevind mense vind dikwels maats wie se MHC-gene van hul eie verskil omdat hierdie kombinasie gesonder kinders met breër immuunstelsels sal oplewer.

“Ten spyte van dekades se navorsing is dit nog steeds nie besonder duidelik hoe ons hierdie geneties geskikte maats identifiseer nie,” sê Helen. “Dit het dalk te doen met reuk – in eksperimente het mense die reuk van T-hemde wat gedra is deur diegene met verskillende MHC’s as aantrekliker beskou. Dalk is dit die ware betekenis van die seksuele vonk.”

VERSTAAN JOU SIKLUS

Die gene-pasmaats wat op ’n amper instinktiewe vlak gebeur, werk nie altyd nie, sê Helen. “Vroue wat hormonale voorbehoedmiddels gebruik, verkies gewoonlik mans wie se MHC-gene soortgelyk aan hul eie is,” sê sy.

Dit beteken vroue op die pil kan ’n maat kies wat nie geneties geskik is nie – wat ’n probleem kan wees as hulle kinders het – en dit kan beteken hulle pas nie so goed bymekaar soos wat hulle dink nie.

Naby ovulasie verkies hulle manlike eienskappe in mans; in ander fases in hul siklus verkies hulle minder sensualiteit en meer stabiliteit

“As wetenskapjoernalis was ek deeglik daarvan bewus toe ek met (nou haar man) Alex begin uitgaan het. Nadat hy die jawoord gevra het, het ek die pil gelos om seker te maak my gevoelens is nie deur chemiese stowwe gemasker nie – dit was nie.”

Aantrekkingskrag tussen die geslagte wissel ook tydens die menstruele siklus van ’n vrou, sê Helen en verduidelik dat mans vroulike geure aantrekliker vind wanneer vroue ovulasie nader.

“Dit is ook die tyd wanneer mans liefdevoller teenoor hul lewensmaats is,” sê sy. “Wat vroue betref, verander hul voorkeure ook tydens hul siklus. Naby ovulasie verkies hulle manlike eienskappe in mans; in ander fases in hul siklus verkies hulle minder sensualiteit en meer stabiliteit.”

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
  • ’n Geredigeerde uittreksel uit This book could fix your life: The science of self help deur Helen Thompson, (John Murray). Kopiereg © Helen Thompson 2021