Februarie – die maand van Valentynsdag en die liefde. Vir baie paartjies is dit ’n tyd om romanse te vier. En dit volg boonop so kort op Januarie, daardie maand waarin ons jaarliks nuwejaarsvoornemens maak om ons lewensmaat opnuut te waardeer. 

Tog is die begin van die jaar ook die tyd waarin baie paartjies besluit om te skei, en bring dié tyd van die jaar vir vele spartelende of ongelukkig getroudes die waterskeidingsoomblik. 

Vir baie paartjies is Februarie 'n tyd om die liefde te vier. Foto: Gallo Images/Getty Images
Vir baie paartjies is Februarie 'n tyd om die liefde te vier. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Hoewel dit moeilik is om iets konkreets die skuld te gee, sien ek elke jaar heelwat nuwe kliënte vanaf middel Januarie en Februarie, meer as in die ander maande van die jaar,” sê die Kaapse egskeidingsprokureur Bertus Preller. 

“Baie ongelukkige paartjies wat probleme in hul huwelik ervaar, sien die Desembervakansie as ’n geleentheid om as familie bymekaar te kom en die stukkende heinings van hul verhouding reg te maak. Maar terselfdertyd kan die vakansietyd ook baie spanningsvol en emosiebelaaid wees, wat probleme vererger in ’n huwelik wat reeds besig is om te misluk,” verduidelik hy. 

Volgens Bertus stel baie mense ook dikwels hul skeiplanne uit tot in die nuwe jaar, bloot om nie ’n gesinsvakansie in die wiele te ry nie of gewoon omdat dit te oorweldigend is om só ’n gesprek te hê juis wanneer die klem van die feestyd op familie is. Maar wanneer die vakansie vergete is en die werklikheid insink, gaan klop hierdie pare aan by die skeiprokureur.

Huweliksberaders meen dit is belangrik om jou behoeftes te kommunikeer. Foto: Gallo Images/Getty Images
Huweliksberaders meen dit is belangrik om jou behoeftes te kommunikeer. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ander probeer dinge egter red, en gaan klop eers aan by ’n huweliksberader vir raad.

Wat is huweliksberaders se beste raad om paartjies te help om hul getroude lewe op koers te hou? Huisgenoot het by die kenners gaan aanklop om te hoor watter raad hulle uitdeel – en ook sélf in hul eie verhoudings toepas.

Louis Venter (38)

Huweliksberader, Johannesburg

Louis Venter. Foto: Verskaf
Louis Venter. Foto: Verskaf

“Ek probeer myself elke dag herinner dat ek my vrou, Elizma, nie hét nie. Ek besit haar nie. Ons ruimte is tydelik en daarom moet ek dit oppas en elke sekonde koester,” sê Louis. 

Volgens Louis is dit belangrik om in ’n verhouding altyd verantwoordelikheid vir jou eie gedrag te neem.

“Ek probeer in elke situasie my aandeel verstaan en raaksien. Ek probeer so ver moontlik om haar nie te blameer vir my slegte gedrag nie,” sê hy. 

Wanneer hulle vassit, sal hulle nie die situasie probeer oplos wanneer albei ontplof het en woedend is nie.

“Ons kry dit die laaste paar jaar reg om te pause totdat ons albei weer ’n gesprek kan voer waar twee mense kies om sag en broos te wees en met empatie te luister.” 

Vir Louis, wat al vir 12 jaar as huweliksberader werk, is dit belangrik om ook “gesonde grense” te hê wanneer dit by ander vroue kom. “Die trauma van buite-egtelike verhoudings is baie moeilik om te oorkom en dit maak ongelooflik seer,” sê hy. 

Hy ken Elizma se liefdestaal en gebruik dit graag om vir haar te wys dat sy spesiaal is.

“Sy waardeer gebare van diensbaarheid en gehaltetyd. Ek probeer om gereeld op daardie gebiede na haar uit te reik.”

Leandie Buys (53)

Kliniese seksuoloog en verhoudingsterapeut, Port Elizabeth

Leandie Buys. Foto: Verskaf
Leandie Buys. Foto: Verskaf

Sy hanteer haar man van 16 jaar, Zirk, te alle tye met respek, sê Leandie.

“Maak nie saak hoe kwaad ek vir hom is nie; ek sal selfs in my woede hom met respek aanspreek. As ’n mens eers respek vir mekaar verloor het, is dit moeilik om weer terug te kry.”

Nog ’n belangrike boublok is intimiteit.

“In Engels verstaan mens ‘intimacy’ so mooi want dit staan vir ‘into me you see’. Intimiteit in ’n verhouding beteken nie noodwendig seks nie; dit beteken om emosioneel naby aan mekaar te voel. ’n Paartjie het net emosionele intimiteit as hulle eerlik met mekaar kan praat oor hulle gevoelens. As daar emosionele intimiteit in ’n verhouding is, sal daar ook fisiese intimiteit wees.” 

Sy en Zirk moes aanvanklik in hul huwelik leer hoe om konfliksituasies te hanteer, vertel Leandie.

“Dit was moeilik, want ek is die fighter in ons verhouding en hy is die flighter. So ek sou aanhou praat en hy sou net meer onttrek. Nou is die reël: As hy vir my sê hy kan nie verder met my praat nie, sal ek ophou en stilbly en vir hom ’n uur gee om te gaan dink en dan sal hy terugkom en vra om daaroor te praat. Ons hou ook in gedagte of ons kalm genoeg is om met mekaar te praat.” 

Enige verhouding moet volgens Leandie sekere reëls hê.

“Dit beteken byvoorbeeld om seker te maak jy raak nie persoonlik met iemand van die teenoorgestelde geslag nie. Dit kan selfs beteken om bedag te wees as jy ’n emoji stuur vir ’n vriend dat jy dit nie té persoonlik maak, soos deur hartjies of soentjies te stuur nie,” verduidelik sy. 

Sy glo ook vas in goeie maniere en dat dit nie in die slag moet bly in haar verhouding nie – dit is ’n manier om respek vir mekaar te toon.

“Dit beteken dat, wanneer my man by die huis kom, ek opstaan van waar ek besig is en na hom loop om hom te groet. Of dat, wanneer hy ’n speletjie speel op sy foon en ek stap die vertrek binne, hy sy foon neersit.”

Die een ding wat wel taboe is, is oneerlikheid.

“Selfs ’n ‘wit leuen’ is ’n leuen. Dit kan vergewe word maar kan soms lank vat om te vergeet.”

Maxine Ngonyoza (36)

Huweliksberader, Durban

Maxine Ngonyoza. Foto: Verskaf
Maxine Ngonyoza Foto: Verskaf

Sy glo aan die gesegde dat jy eers jouself moet liefhê voor jy iemand anders kan liefhê, sê Maxine. Daarom maak sy seker dat sy na haarself omsien – sy maak seker sy eet gesond, probeer soms alleentyd neem en vermy mense wat sy voel toksies is. 

Sy en haar man, Ntsikelelo, is al sewe jaar getroud, en hulle fokus veral op “deursigtige kommunikasie”.

“Dit is nie net belangrik om oor die kinders, rekenings en skedules te praat nie, maar maak ook tyd om oor jou drome, doelwitte en bekommernisse te praat,” sê sy.

“Dit is belangrik dat ons ons behoeftes kommunikeer en nie net van ons maat verwag om te weet of te onthou nie. Dit kan iets so eenvoudig wees soos om te sê dat jy graag hande wil vashou as julle in ’n winkelsentrum stap.”

Maxine glo ook dit is belangrik om mekaar te kan vergewe.

“Ek is gewillig om my foute te erken. Ek verwag ook nie dat my man perfek moet wees nie. En wanneer ’n situasie opgelos is, haal ons dit nie weer op en gebruik dit teen mekaar nie.”

Wanneer hulle vassit, probeer Maxine om op die probleem self te fokus.

“Dan voel my man nie of hy aangeval word en homself moet verdedig nie. En om dít reg te kry moet ek myself deurgaans herinner dat dit nie daaroor gaan om te wen nie, maar eerder om die konflik op te los.”

Maxine probeer om haar man gereeld haar onverdeelde aandag te gee – gewoonlik wanneer hul kinders slaap.

“Ek sit my foon eenkant en hy het dan al my aandag.” 

Dr. Nompumelelo Malatji-Angoma (46)

Sielkundige en huweliksberader, Sandton

Dr. Nompumelelo Malatji-Angoma. Foto: Verskaf
Dr. Nompumelelo Malatji-Angoma. Foto: Verskaf

Maak seker jy verstaan wat jou maat se topvyf waardes is, sê Nompumelelo. “Waardes is redelik stabiel, so om van jou maat te verwag om hul waardes te verander, is nie realisties nie en kan spanning in ’n verhouding veroorsaak.”

Maar maak ook seker jy ken jouself goed genoeg, sodat jy jou behoeftes in die verhouding aan jou maat kan kommunikeer.

“ ’n Mens dryf weg van mekaar as ’n mens nie meer in mekaar se behoeftes voorsien nie.”

Nompumelelo hou haar verhouding privaat, maar sê sy probeer om ook vas te stel watter behoeftes nié deur die verhouding bevredig word nie. “Maak dan tyd vir daardie goed, soos byvoorbeeld deur stokperdjies wat jy alleen beoefen.”

Sy streef verder daarna om nie minagtend voor te kom in hoe sy teenoor haar maat optree nie.

“Mense sukkel baie om dit te verwerk as hulle met minagting behandel is deur iemand wat hulle vertrou en vir wie hulle omgee. Dit is nie maklik om daardie vertroue te herstel nie,” sê sy.

“Probeer altyd gaaf wees en bedagsaam optree, selfs al is dit net met ’n klein gebaar.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe