Ag, dis alles te lekker.

Die feesgees hang dik in die lug, die geur van waatlemoen en braaivleis kom saam met die skemerbries die braaikamer binnegewaai en die familie klets ’n hond uit ’n bos uit. Dis mos Desember.

Foto ter illustrasie: wikimedia.org

Maar wat is dit dan nou? ’n Ligte frons van ’n oom, ’n tante met ’n dik mond en ’n gasvrou wat suurder as die melk begin raak.

Nie dat die liters en liters melk in die yskas juis kans kry om sleg te word nie, want teen die tempo waarteen die familie dit opgebruik, kan ’n mens goed glo hulle bad daarin, soos Cleopatra.

Hul kinders is so voorbarig, hulle help hulself aan hompe kaas, en wanneer dit by skottelgoed was kom, is hulle so weg soos die gasheer se geduld.

Foto ter illustrasie: Steven Depolo (flickr.com)

Klink dit bekend?

Ja, moenie dink dis net tussen jou en jou familie waar sake so uitrafel tydens wat veronderstel is om ’n lekker vakansiekuier te wees nie.

Konflik onder familielede gedurende die Kerstyd is normaal, waarsku Christo van der Westhuizen, ’n Randburgse sielkundige wat in verhoudings spesialiseer.

“Verwag dit kan gebeur, dan is die teleurstelling nie so groot nie.

“As dit nie gebeur nie, is die goeie ervaring van die kuier net soveel beter.” Dit is nie pessimisties om dit te verwag nie; dis realisties, sê hy.

Elma Bartlett, ’n maatskaplike werker en lewensafrigter van Johannesburg, vertel haar praktyk is elke Januarie baie besig weens familieprobleme wat uit die Kerstyd na die nuwe jaar oorspoel.

“Kersvakansies saam met die familie kan baie spanning skep,” bevestig sy. Maar dit hoef nie so erg te wees nie, want met die regte stappe kan dit ’n aangename tydjie wees, sê die kenners.

Hoe gemaak om daardie tipiese karakters te hanteer wat jou drumpel oor die feestyd deurtrap?

Hier is raad.

Lawaaierige kinders

As jou suster se klein watsenaams nog een keer op jou banke spring of aan die grens gaan wanneer hulle nie na hul geliefkoosde TV-kanaal kan kyk nie omdat die grootmense sport of ’n sepie kyk . . .

Die sielkundige en verhoudingspesialis Christo van der Westhuizen waarsku alle kinders word nie met dieselfde stel reëls grootgemaak nie.

Foto ter illustrasie: MonkeyMyshkin (flickr.com)

“Wat vir jou taboe is,” verduidelik hy, “is nie noodwendig verkeerd na jou gaste se mening nie.”

Die belangrikste is om nooit iemand anders se kinders te dissiplineer of met hulle te raas nie, sê Christo.

“Doen dit deur hul ouers, maar sonder dat jy die kind afkraak. “Verduidelik aan die ouers wat jou gesin se reëls is en wat hulle mag en nie mag doen nie.

Dit is die ouers se verantwoordelikheid om toe te sien dat hul kinders jou reëls nakom,” is Christo se raad. Soos dit maar gaan met kinders, kan dit soms gebeur dat jou kroos en die familie se kleingoed mekaar in die hare vlieg.

“Moenie regter speel en die een se kant bo die ander kies nie,” sê Christo.

“Verduidelik aan hulle op ’n rustige maar streng manier dat julle nou Kersfees vier en hul stryery die atmosfeer omkrap. Sê die kinders moet hul meningsverskille buite gaan uitstryk en dat hulle eers mag terugkom wanneer daar vrede heers.”

Die suinige, lui tante

Haar hande is rond.

Sy sit op haar hande. Sy steek nie haar hande uit haar moue nie. Al dié spreekwoorde verwys na jou tant Alie wat haar neerplak op haar gelyknamige liggaamsdeel en verwag om heelvakansie bedien te word.

Foto ter illustrasie: pexels.com

Sy is ook die een met ’n beursie wat so toe is soos ’n kleios se alie.

Ja, jy kry hulle, sê die maatskaplike werker en lewensafrigter Elma Bartlett.

“Die tannie wat geensins ’n bydrae tot die kos en ander uitgawes wil lewer nie en ook nie ’n vinger verroer om te help met kosbereiding of die opruim ná ete nie.”

Elma stel voor jy bespreek sommer tydens die eerste koppie tee van jul kuier elkeen se verantwoordelikhede.

“So kan jy byvoorbeeld ’n riglyn stel dat jy nie soggens vir almal ontbyt sal maak nie, maar dat daar wel graankos en brood is waaraan elkeen hulself kan help.

“Elkeen moet dan ook self opruim. Jy kan ook voorstel julle maak beurte om verantwoordelikheid te aanvaar vir aandete, soos die koop en bereiding daarvan.”

Dit is belangrik dat jy nie toelaat dat die lui tante jou manipuleer en van jou haar slaaf maak nie, sê Elma.

Die alwetende oom

Dan is daar die oom wat presies vir jou kan – en sal – vertel wat skort met die landsekonomie, president, kerk, universiteit, ensovoorts. Haal diep asem; mense verskil en almal se lewensuitkyk, politieke en godsdienstige beskouings stem nie noodwendig ooreen nie.

Foto ter illustrasie: pixabay.coom

“Daarom is dit altyd ’n goeie idee om omstrede onderwerpe te vermy wanneer gesinne met elkeen se unieke dinamika saamkuier,” waarsku Elma. Moenie aan die aas byt wanneer so ’n familielid snedige aanmerkings maak nie, is Christo se raad.

“Bestuur die situasie deur die onderwerp te verander sodra jy besef die situasie kan handuit ruk. Dis ook raadsaam om vooraf met die oom te praat en te sê hoewel jul opvattings verskil, kan julle steeds ’n heerlike Kersdag saam geniet.”

Stem ooreen om af en toe van mekaar te verskil.

Die swaer wat graag elmboog lig

Dis die een wat ’n ander persoonlikheid op die bodem van die brandewynbottel kry: Hy raak vloekerig, bakleierig en sommer oor die algemeen onbeskof.

Foto ter illustrasie: pixabay.com

“Moet hom nie voor die ander mense aanvat of terwyl hy onder die invloed is nie; dit sal die situasie net vererger,” waarsku Christo.

“Wag tot die volgende dag en praat alleen met hom. Verduidelik jy gee nie om dat julle saam ’n glasie klink nie, maar wanneer hy een te veel gedrink het, is sy uitlatings en optrede onaanvaarbaar. Maar moenie veroordeel, slegsê of stry nie.”

Stel dit duidelik dat jy hom voortaan nie in die geselskap sal toelaat wanneer hy so is nie, want hy maak almal ongemaklik.

Die onwelkome gaste

Behoede jou daardie onverwagte oproep van verlangse familie wat hulself nooi vir ’n lekker afpak in die Kerstyd op jou stoep.

Foto ter illustrasie: pixabay.com

Stel beleef iets anders voor, is Christo se raad. “Sê dit sal lekker wees om een aand saam te kuier, maar dat jy nie langer as dit verblyf aan hulle sal kan voorsien nie.

“Stel ’n paar goeie gastehuise in die omgewing voor,” sê Christo, “asook ’n geskikte datum wanneer julle kan kuier.

“Onthou, jy hoef jou besluit nie te regverdig nie. “Dit is jou huis en jou tyd en jy het die reg om dit te bestuur soos dit jou pas.”