Hulle ken ons van kleins af – gewoonlik veel langer as enigiemand anders. Die gedeelde geskiedenis tussen broers en susters – en daardie gemeenskaplike verwysingsraamwerk wat sibbes saamsnoer – bring ’n unieke soort begrip vir mekaar.

Dit is daarom spesiaal om te sien as volwasse broers en susters mekaar ondersteun en geluk gun, al ding hulle soms teen mekaar mee.

Dink maar aan die Amerikaanse tennissusters Venus en Serena Williams, wat al dikwels in ’n eindstryd teen mekaar te staan gekom het, maar altyd ook bly is oor die ander een se sukses. Maar dit is ook so dat sibbes nie altyd om dieselfde vuur sit nie. En dit is nie net jong kinders wat stry en onder mekaar wedywer nie – mededinging tussen volwasse sibbes is ’n algemene verskynsel.

Die gevoel van isolasie en eensaamheid kan depressie en ’n verlies aan ’n gevoel van behoort veroorsaak.

Verskeie studies dui aan dat tot 45% van volwassenes ’n wedywerende of afsydige verhouding met ’n broer of suster het en oor die algemeen verbaal meer aggressief is teenoor hul sibbes as teenoor enigiemand anders, sê Joanne Becker, ’n kliniese sielkundige van Milnerton, Kaapstad.

“Mededinging met jou sibbes wanneer jy ’n kind is, is normaal en kan met ouerleiding uitgestryk word,” sê Jennifer Papers, ’n maatskaplike werker van die Family Life Centre in Johannesburg. Maar wanneer dit nie opgelos word nie, kan dit tot ’n voortslepende stryd tussen sibbes lei wat ’n lewenslange impak het.

“Die gevoel van isolasie en eensaamheid kan depressie en ’n verlies aan ’n gevoel van behoort veroorsaak,” sê Jennifer.

Natuurlik is daar niks fout met ’n bietjie gesonde mededinging nie, sê Claudia Abelheim, ’n opvoedkundige sielkundige van Parkwood in Johannesburg.

’n Algemene vorm van hierdie soort gedrag is om mekaar voor vriende en familie te ondermyn sodat die een beter voel en die ander een waardeloos.

“Dan inspireer en motiveer sibbes mekaar om beter te wees en harder te probeer sonder om ’n negatiewe uitwerking op mekaar se selfbeeld te hê,” verduidelik sy.

Aan die ander kant breek ongesonde mededinging selfvertroue af, waarsku sy. En hoe ouer mense raak, hoe meer passief-aggressief kan dié soort wedywering raak.

“ ’n Algemene vorm van hierdie soort gedrag is om mekaar voor vriende en familie te ondermyn sodat die een beter voel en die ander een waardeloos,” sê Claudia.

Maar hoe gemaak as volwasse sibbes gedurig meeding? Waarom gebeur dit, en kan dit reggestel word? Hier is raad.

WAT IS DIE OORSAKE?

Wedywering tussen volwasse sibbes spruit dikwels uit hul kinderjare, verduidelik Jennifer. Sy meen dit gebeur veral as die wedywering van kleintyd nooit opgelos word nie.

“Die mededinging word dan later toksies en ongesond.”

Dinge wat hierdie wedywering van kleintyd af kan veroorsaak, sluit in ’n groot ouderdomsverskil of persoonlikheidsverskille wat veroorsaak dat dit vir sibbes moeilik is om mekaar te verstaan en oor die weg te kom.

Ouers is dikwels geneig om hul kinders met mekaar te vergelyk, veral as een ’n uitblinker is – ook wanneer kinders al volwasse is.

“Dit kan voortdurende rusies en konflik tot gevolg hê,” waarsku Jennifer. Die gesinsdinamika – en wanfunksionele patrone binne ’n gesin – kan ook tot wedywering bydra. “Jy voel dalk jou broer of suster is as kind voorgetrek en dit was vir jou onregverdig,” sê Jennifer.

Wanneer ouers een kind openlik bo die ander bevoordeel, kan dit onder sibbes wedywering vir liefde en aandag en moontlike jaloesie veroorsaak, voeg sy by.

Ouers is dikwels geneig om hul kinders met mekaar te vergelyk, veral as een ’n uitblinker is – ook wanneer kinders al volwasse is. Dit kan tot nydigheid tussen broers en susters lei, sê Claudia.

“Dit veroorsaak dat die ander kinders voel hulle is nie goed genoeg nie en die ander daaroor verwyt.”

’n Slegte selfbeeld of gevoelens van afguns word nie net deur ouergedrag veroorsaak nie.

Iemand kan om ’n ander rede minderwaardig voel – en dié gevoel kan deur enigiets wat ’n broer of suster bereik, vererger word. So ’n persoon kan dan voel hulle moet die broer of suster voor ander ondermyn om beter oor hulself te voel.

Ma en haar twee dogters lag saam.
Volwasse sibbes kan mekaar ondersteun en geluk gun, maar soms sit sibbes nie om dieselfde vuur nie. Kinders ding dikwels met boet of sus mee, maar wedywering tussen volwasse sibbes kan later toksies en ongesond raak. Foto: Gallo Images/Getty Images

HOE HANTEER EK DIT?

1. Begin ’n openhartige gesprek

As jy regtig diepgaande probleme wil oplos, moet jy bereid wees om kwesbaar te wees en ’n oop gesprek met jou broer of suster te hê, sê Joanne.

“Dis belangrik om eerlik te wees, jouself oop te stel, te deel hoe dinge jou laat voel en bereid te wees om te luister,” voeg sy by. Kyk of julle saam agter die kap van die byl kan kom oor wat die wedywering tussen julle veroorsaak. Neem jul huidige gesinsdinamika asook dié van destyds in ag, sê Joanne.

Dr. Suzanne Degges-White, ’n berader en professor aan die Nothern Illinois-universiteit in die VSA, sê die belangrikste is om te probeer om die verlede te laat vaar en ou patrone te verbreek.

As julle dit nie self kan uitstryk nie en ’n bemiddelaar nodig het, is dit die moeite werd om ’n familieterapeut of sielkundige te betrek.

“Hou in gedagte dat jy en jou broers en susters elkeen verskillende verhoudings met jul ouers gehad het; jul ouers was boonop verskillende mense toe elkeen van julle in die gesin opgedaag het,” sê sy.

Onthou ook dat jou broer of suster se afguns oor wat jy bereik het baie sê oor hul eie selfbeeld en gevoel van prestasie, sê Suzanne. Kyk dus of jy die spanning kan ontlont deur die ander een se selfbeeld opreg op te bou en hulle te wys op dinge wat hulle wel bereik het; of deel jou eie perspektief oor hoe jy ook soms minderwaardig voel of gevoel het.

As julle dit nie self kan uitstryk nie en ’n bemiddelaar nodig het, is dit die moeite werd om ’n familieterapeut of sielkundige te betrek, sê Jennifer. Dit is dalk beter om nie jou ouers by so ’n gesprek te betrek nie.

Ouers moet kinders toelaat om self deur die haakplekke in hul verhouding te werk, nie kant kies nie en nie hul volwasse kinders met mekaar vergelyk nie, waarsku Claudia. “Help jou kinders eerder om hul verskille te waardeer en te vier.”

2. Vermy wedywering in die toekoms

As jul gesprek tot ’n beter verstandhouding gelei het, is dit belangrik om die verhouding gesond te hou. Let op patrone wat tot konflik lei en steek ’n stokkie daarvoor, maan Joanne.

“As jy agterkom dat jy en jou sibbes weer dieselfde bekende paadjie loop wat nooit goed eindig nie, moet jy halt roep. As jy leer om daardie gevaartekens raak te sien en op te tree, sal dit jul verhouding geweldig help,” meen Joanne.

Afguns word deur ’n swak selfbeeld en selfvertroue veroorsaak, en deur hieraan te werk kan jy verhoed dat eksterne gebeure jou laat voel asof jy tekortskiet.

Kies byvoorbeeld om nie te reageer as jou broer of suster neerhalend oor een van jou prestasies praat nie.

“Die beste manier om ’n geveg te beëindig is dikwels om in die eerste plek te weier om te reageer,” sê Suzanne.

As jy tydens jul eerlike gesprek besef dis jou eie gevoelens van minderwaardigheid wat die siklus van afguns en konflik veroorsaak, doen wat jy moet om die probleem op te los. Praat met ’n sielkundige of berader en besluit saam op strategieë om dit te hanteer en dit nie telkens op jou broer of suster uit te haal nie.

“Afguns word deur ’n swak selfbeeld en selfvertroue veroorsaak, en deur hieraan te werk kan jy verhoed dat eksterne gebeure – soos jou suster se droomtroue of jou broer se nuwe motor – jou laat voel asof jy tekortskiet,” sê Ben Williams, ’n sielkundige van Edinburgh, Skotland.

“Jy kan nie beheer wat jou sibbes doen nie, maar jy kan jou reaksie daarop beheer.”

3. Weet wanneer om weg te stap

As jy al alles probeer het om die probleme tussen jou en jou sibbes op ’n eerlike manier op te los en dit steeds nie tot ’n bevredigende oplossing gelei het nie, is dit dalk tyd om met jou lewe aan te gaan, sê Joanne.

Soms beteken dit net jy skep ’n bietjie afstand of trek digter grense.

Konfrontasie en ’n oop gesprek is net voordelig as albei partye bereid is om die mededingende verhouding op te los en te laat vaar, beaam Jennifer.

“As hierdie wedywering jou psigiese gesondheid, produktiwiteit en lewensgehalte beïnvloed, stap weg. Dis belangrik vir jou eie vrede en gesondheid,” sê sy.

Dit beteken nie jy skryf die verhouding af nie, voeg Joanne by – soms beteken dit net jy skep ’n bietjie afstand of trek digter grense.

“Laat jou broers en susters weet dat jy graag in die toekoms ’n positiewer verhouding wil hê, maar dat dit nie nou moontlik lyk nie. “Hou wel die deur oop.”

Ekstra bronne: sacap.edu.za, psychologytoday.com, dailymail.co.uk
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe