Die vrou het haar tot die raadgeeblad vir ouers Mumsnet gewend en onder die gebruiksnaam Snowspeckledeyelashes in kort die volgende gesê: "Ek sit hier en huil want ek voel so sleg, maar die waarheid is dat ek my man glad nie meer seksueel of fisiek aantreklik vind nie. Om eerlik te wees weet ek nie of ek al ooit was nie en of dit ooit in die toekoms sal gebeur nie."

Sy sê sy was 17 jaar oud toe hulle begin uitgaan. Vandag is sy 45.

"Ek is regtig lief vir hom, ek dink hy het ’n aantreklike voorkoms waarvan ek hou, maar daar is nie juis enige fisieke aantrekkingskrag van sy kant wat my na hom aantrek nie.

"Is daar enigiemand anders wat dieselfde voel? Wat kan ek doen om die saak te beredder. Ek haat myself vir die gevoelens wat ek koester, maar ek kan dit nie afskakel nie."

Icouldbehappy, die eerste persoon wat op haar plasing gereageer het, wil weet hoekom hulle dan in die eerste plek getrou het.

"Hoe was dit tussen julle toe jy hom ontmoet? Het julle ooit deur daardie fase gegaan waar julle nie jul hande van mekaar kan afhou nie."

Volgens haar was hulle goeie vriende voor hulle in ’n verhouding betrokke geraak het.

"Dinge het bloot net ineengevloei. Ek het met hom getrou omdat ek vir hom lief is, maar dalk is dit net nie goed genoeg nie."

Sy noem ook dat sy nog nooit by iemand anders betrokke was nie.

Fiksheid en voorkoms

Maar dan raak sy ’n ander punt aan. Ten spyte daarvan dat haar man ’n baie fisieke werk het wat hom met goeie arms en bene laat, is boepmae iets wat in sy familie voorkom.

"Ek voel hy doen nie genoeg moeite om die boepmaag plat te kry nie. Ek het nog altyd myself fiks gehou met gereelde oefening en hou van lenige en fikse lywe," sê sy.

Reaksie

Die raad het uit verskeie oorde ingestroom.

Mrsharrison dink sy bevind haar in perimenopouse, ’n fase voor menopouse intree, iets wat ook deur glamorousgrandmother as ’n moontlike rede vir haar gevoelens aangevoer word.

Tog delf Mrsharrison ’n bietjie dieper en raak sy aan die onderwerp van ondersteuning deur ’n lewensmaat aan. Sy sê benewens dat haar eks ook ’n boepmaag ontwikkel het, was daar die keer toe hy haar nie verdedig het nie, iets wat sy duidelik van hom verwag het om te doen.

"Ons verhouding het net nooit weer daarna herstel nie."

"Jy’s reg," is Snowspeckledeyelashes se reaksie daarop.

"Daar is verskeie gevalle waar ek voel hy ondersteun my nie in hierdie stadium van my lewe nie. Miskien is dit wat dié gebrek aan gevoelens aan die gang gesit het."

Deadringer se stuiwer in die armbeurs het twee kante. Eerstens sê sy dat sy nog nooit haar man fisiek aantreklik gevind het nie en hy is ook nie juis fiks nie, maar "ons is goed saam en dis hoekom ons na baie jare nog werk."

Raad

Katherine Shorter, huweliksberader en stigter van Yoked, sê die gebrek aan belangstelling in jou maat kan ook toegeskryf word aan groei, of die gebrek daaraan.

"Wanneer die paartjie se doelwitte of begeertes in die lewe nie meer in lyn met mekaar is nie, gaan hulle waarskynlik later iemand soek wat dieselfde uitkyk en doelwitte as hy of sy het."

Melanie Christian, ’n geestesbreier en blogger, sê ’n afname in belangstelling het nie noodwendig iets te doen met wat in die slaapkamer gebeur, hoe min die man gimnasium toe gaan of hoe dik sy beursie is nie.

Sy sê vroue se behoeftes moet op gelyke vlak met dié van hul maat hanteer word.

Dit sluit in vriendskap (’n gevoel van verwantskap), geestelike stimulasie (betrokkenheid en gesprekke), erkenning ('Ja, ek bestaan, ek is interessant en ek asem dieselfde lug in as jy') en kreatiwiteit op ’n gesamentlike vlak.

Volgens haar sal baie vroue in ’n onvervulde verhouding bly vanweë vooropgestelde idees oor vroue dat die verhouding of huwelik stabiliteit, status en tradisie (al is dit uitgedien) uitbeeld.

Wat is perimenopouse?
  • Hoewel daar nie ’n spesifieke mediese definisie bestaan nie, is dit gewoonlik die tydperk waarin ’n vrou simptome van verlaagte estrogeenvlakke toon.
  • Van die simptome wat ervaar word, sluit warm gloede, nagsweet, moegheid, slaapprobleme, gewig aansit en wisselende buie in. 
  • Dit begin gewoonlik in ’n vrou se 40’s, maar kan wel vroeër begin. In die algemeen duur dit sowat 4 jaar, maar daar is al gevalle aangemeld waar vroue dit 10 jaar lank ervaar het.

Bronne:medicinenet.com, webmd.com, mumsnet.com, themindsjournal.com, bustle.com