Hul oudste kind is ’n seun (18) en die jongste ’n dogter (14). En hul middelste kind, ’n seun (16) ly aan ’n chroniese siekte en verg spesiale sorg. Arthur (50) noem dat hy en sy vrou reeds 22 jaar getroud is.

Ná twee seuns wou Arthur se vrou graag ’n dogter hê. En haar wens is vervul.

Hul dogter is gebore ’n jaar voor hul tweede seun op driejarige ouderdom ernstig siek geword het en die gesin se lewe in ’n mallemeule van hospitale, doktersafsprake en hoop omskep is.

Hy het sy kwellinge gedeel op die raad-webtuiste mumsnet.com, waar mense vryelik raad kan vra en dit ewe vryelik uitdeel.

Sy gee my ’n tuitbeksoen soos ’n eend; die soort wat jy gewoonlik van ’n ouer vrouefamilielid verwag.

Volgens hom het hy en sy vrou die laaste keer ’n intieme verhouding gehad toe sy 14 jaar gelede met hul dogter swanger raak. Hy beweer ook sy storm by die deur uit wanneer hy die slag dié sensitiewe kwessie aanraak.

"Ons koester nie mekaar of hou selfs hande vas nie. Ons soen nie eers behoorlik nie. Sy gee my ’n tuitbeksoen soos ’n eend; die soort wat jy gewoonlik van ’n ouer vrouefamilielid verwag."

Volgens Arthur dra hy beslis sy deel tot die huishouding by. Hy is die een wat hul seun, wat spesiale sorg nodig het, halfses soggens met sy voedingspomp help en vir hom skoon klere aantrek. Rondom seweuur maak hy hom gereed vir skool en voer hom ontbyt.

Ek is nie meer aangetrokke tot my vrou nie.

Arthur praat ook oor die res van die take wat hy vir sy seun verrig, waaronder "afspraak-aande" en hospitaalbesoeke. Hy noem ook dat hy hom rondkarwei na waar hy ook al moet wees.

"Ek moet eerlik wees, ek is nie meer aangetrokke tot my vrou nie. Ek is al soveel keer deur haar afgejak dat ek nou voel of ek net die voorsiener van geld en die kinders is," sê hy.

Terwyl hy ontken dat hy ooit by ’n affair betrokke was, sê hy ook dat hy vir ’n feit weet sy vrou het ook nie een of ander liefdesverhouding aan die gang nie.

"Ons was eens op ’n tyd ’n wonderlike span, maar dis asof sy net daardie deel afgeskakel het.

"Ek moet weet wat die onderliggende rede vir haar optrede is, al is dit selfs dat sy my weersinwekkend vind."

Internetraad

Die internetgebruiker isthismylifenow sê Arthur moet dalk na ’n nabygeleë woonstel trek sodat hy steeds vir sy seun kan sorg soos wat hy in dié stadium reeds doen.

"Boonop sal jou liewe vrou nie wil hê jy moet té ver weg van hulle trek nie, sy gaan steeds bystand nodig hê."

Die feit dat dit tydens haar swangerskap opgeduik het, is ’n groot rooi vlag.

TammySwansTwo voel egter sy vrou se gemoedstoestand moet van nader beskou word.

"Dalk is daar ’n hormonale of mediese rede vir haar optrede. Die feit dat dit tydens haar swangerskap opgeduik het, is ’n groot rooi vlag."

Ariclock stel voor Arthur moet sake eers ’n bietjie uitstel en sy vrou toelaat om ’n blaaskans te neem, iets waaroor LadysFingers saamstem.

"Jou vrou voel dalk asof sy ophou bestaan het omdat sy ook die versorger is van ’n kind met spesiale behoeftes; en sy is in alle waarskynlikheid deur die loop van die dag die toegewyde versorger."

HermioneGoesBackHome draai nie doekies om nie en raai hom aan om ’n kundige oor toesig te raadpleeg.

"Maak ’n plan en hou op om van jou vrou te verwag om toenadering of selfs intimiteit te bied wanneer jy self erken dat jy nie meer vir haar lief is nie."

dilly123 se raad kom vanuit eerstehandse ervaring. Haar tweede dogter is met ernstige breinskade gebore.

"My lewe het drasties verander, en meer nog — ék het verander.

Ek het my lewensmaat fisiek en emosioneel weggestoot.

"Ek was kwaad vir die wêreld en het myself jammer gekry. Dit was ek en my dogter teen die res van die wêreld. Ek het my lewensmaat fisiek en emosioneel weggestoot. Ek kon nie vir hom lief wees en terselfdertyd my lewe hanteer soos wat dit was nie.

"Ek het hom kwalik geneem omdat hy werk toe kon gaan terwyl ek die versorging tuis en die hospitaalbesoeke moes hanteer."

"Ons het voort gehinkepink vir nog ’n jaar, maar kort ná ons dogter se dood het ons uitmekaar gegaan."

Wat sê die kenners?

Verskeie studies oor die uitwerking wat ’n kind met spesiale behoeftes op ’n gesin kan hê, dui daarop dat ouers se eerste reaksie ’n tydperk is van emosionele krisis gekenmerk deur skok, ontkenning en ongeloof.

Dan volg ’n tydperk waar woede, skuldgevoelens, skaamte, depressie, ’n verlaagde selfbeeld, die verwerping van die kind en oorbeskerming afwisselend plaasvind. Sommige ouers kan ook deur ’n treurfase gaan. Die derde fase is een van aanvaarding.

Die dag-tot-dag-versorging van ’n kind in dié situasie kan die gesinslede emosioneel en fisiek tap. Van die gedagtes waarmee ouers worstel, is die uitwerking wat die kind op die res van die gesin het. Word daar voldoende aan hul behoeftes voorsien?

Volgens die kliniese kindersielkundige dr. Esther Hess voel ouers, benewens al hul ander emosies, skuldig omdat hulle nie soveel aandag aan hul ander kinders bestee as wat hulle graag sou wou of wat van hulle verwag word nie.

Sy sê sy wil nie graag veralgemeen wat die verskillende rolle betref wat ouers vertolk wanneer spesiale behoeftes by ’n kind gediagnoseer word nie.

Vroue, sê sy, is in die algemeen meer proaktief en hulle sal soveel moontlik inligting opslurp om die kind se situasie te verbeter. Hulle kan totaal uitgeput wees, maar sal steeds nie moed opgee nie.

Mans, daarenteen, is die "regmakers" wat soms onbevoeg kan voel as hulle ’n kind met spesiale behoeftes het. Om beter te voel, gaan hy werk toe — die plek waar hy in beheer kan wees. En wanneer hy tuiskom, tref hy gewoonlik ’n vrou aan wat nie noodwendig genoeg energie het om ook aan hom aandag te gee nie.

Bronne: mumsnet.com, education.com, centerforthedevelopingmind.com