Saamwoon demp haar liefdeslus

Vraag

Ek en my kêrel woon al ’n ruk saam nadat ons vier jaar lank uitgegaan het.

Noudat ons saamwoon, is dit anders omdat ons meer dikwels kan seks hê, maar ek het nie aldag lus daarvoor nie. Tog weet ek nie hoe om dit vir hom te sê nie en voel soms skuldig daaroor. Moet ’n mens jok daaroor en dit net verbykry?

Dit help soms om te sê ek is siek, maar dit is ook nie altyd waar nie. Ek is bang hy los my omdat ek nie altyd soos vroeër lus het vir seks nie.

AG op OF

Antwoord

Verhoudingsmaats het nie die reg om mekaar skuldig te laat voel as hulle nie in ’n liefdesbui is nie.

Jy hoef nie daaroor sleg te voel nie, veral nie teenoor ’n maat wat jy vertrou en met wie jy reeds ’n lang pad stap nie. Eerlikheid tussen die lakens is die beste beleid.

Verskonings, wit leuentjies of pogings om jouself te regverdig, werk nie.

Wanneer julle dan wel seks het, weet albei die begeerte is wedersyds. Om te weet iemand begeer jou mateloos en met innige passie is die beste opkikker ooit. Maar hoe speel ’n mens oop kaarte hieroor sonder om mekaar seer te maak?

Vir party maats versag ’n rede soos dat jy werkstres het die teleurstelling.

Soms help dit om tyd te probeer wen deur nie dadelik nee te sê nie, maar dit uit te stel (“Dalk netnou, liefling . . .”) om in die regte bui te kom.

Goeie plaasvervangers vir liefdespel kan ook slaapkamersake bevorder. Wat van ’n meer onregstreekse manier van saam intiem wees sonder liefdespel, soos met ’n massering?

Dit help soms om mekaar vooraf in die regte stemming te bring per WhatsApp of SMS met ’n duidelike boodskap.

Vermy liefs foto’s ingeval dit in die verkeerde hande beland.

Maar pasop! Enige verhoudingsmaat wat dreig om ’n verhouding te beëindig net omdat hulle nie hul sin agter ’n toe slaapkamerdeur kan kry nie, sal jou ook op ander maniere manipuleer.

Kêrel wil verniet bly en niks bydra nie

Vraag

Ek en my kêrel woon nou al ’n jaar en drie maande in my suster se woonstel.

Ek betaal haar huur, maar hy lewer geen bydrae nie en dit veroorsaak ’n probleem vir almal. Dit gaan nou al ’n hele tyd lank so aan en ek weet nie hoe om dit aan te pak nie.

UA, SMS

Antwoord

Vra jou suster moet ’n kontrak opstel met voorwaardes oor hoe julle die huurgeld aan haar moet betaal.

Bespreek die huurkontrak met jou kêrel en wys hom op die voorwaardes oor onderverhuring.

Wys hom ook jou begroting en sê jy kan nie bekostig om alleen huur te betaal nie en dat hy sy bydrae direk aan jou suster moet betaal. Laat sy ’n kontrak met hom aangaan.

‘Eerlikheid tussen die lakens is die beste beleid’ – Elize

Nuwe uitdaging wink in haar tyd van rou

Vraag

Ek het my verloofde sowat ses maande gelede op ’n tragiese manier verloor en dit is steeds vir my moeilik om dit te verwerk.

Ek is nou ’n nuwe pos aangebied en wil dit baie graag aanvaar, maar is bang my rou oor hom is nog nie verby nie en dat ek nie ’n sukses daarvan sal kan maak nie.

Ons het saam gewerk en ek weet hy sou my ten volle ondersteun het. Ek dink aan die ander kant is dit ook wat dit miskien moeilik maak.

RA op CA

Antwoord

Afsluiting oor ’n geliefde wat tragies dood is terwyl jy verwagtings van ’n gelukkige toekoms saam met hom gekoester het, sal nie oornag kan kom nie.

Dit duur gewoonlik veel langer om enige verlies in omstandighede wat moeilik verstaanbaar is, te verwerk. Dit kan help om verlof te neem voor jy die nuwe taak aanpak sodat jy tyd het om jou in te stel op ’n nuwe toekoms sonder hom.

Ná ’n lang en hegte verhouding kan ’n mens jou verlies makliker verwerk as jy die emosies een-een uitsonder en werk daarvan maak.

Hanteer byvoorbeeld die dinge waaroor jy kwaad is afsonderlik van dié waaroor jy hartseer is.

’n Tydjie alleen of by ’n vriendin wat verstaan en met wie jy jou gelukkige herinnerings aan jou oorlede verloofde kan deel, sal jou emosionele las help verlig.

’n Berader se steun kan die verskil maak wat jy nodig het wanneer jy by jou nuwe werk inval.

Gun jouself tyd en moenie jouself te streng beoordeel nie. Vra ook dat oudkollegas van jou verloofde jou ondersteun en dra op die dae dat hulle sien jy sukkel. Voorspoed met hierdie nuwe hoofstuk in jou lewe.

Ma weier dat pa onderhoud vir hul kind betaal 

Vraag 

My dogter se ma weier dat ek onderhoud betaal. Sy het haar redes.

Ons was nie getroud nie en is die afgelope sewe maande nie meer saam nie. My dogter is nog ’n kleuter en woon ’n crèche by.

FD, SMS

Antwoord

Albei ouers moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar om ’n kind groot te maak.

Dit is elke kind se reg. As die ma nie meer met jou wil kommunikeer nie, maak self ’n lys van uitgawes, soos vir die crèche, kos, klere, medies en verblyf, en wat jy kan bekostig om by te dra.

Besluit op ’n bedrag en gaan na die onderhoudsbeampte in ’n hof naby jou eks se woonplek en laat hulle ’n onderhoudslêer vir jou dogter open.

Die onderhoudsbeampte kan dan ’n aanbod vir onderhoud aan die ma doen. As sy dit aanvaar, kan die aanbod later deel van ’n onderhoudsbevel word wat die hof uitreik.

Weier sy die aanbod, sal die onderhoudsbeampte ’n ooreenkoms tussen julle probeer bewerkstellig, en as dit misluk die saak na die hof vir verdere ondersoek verwys.

Kontak ons

As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS Liewe Elize gevolg deur jou vraag na 36489.

  • Elke SMS kos R1.