Aan die begin lyk alles so salig. Julle het die droomtroue, die idilliese wittebrood, die witwarm seks, die romantiese aandjies, die perfekte dae van heerlike samesyn. En dan, geleidelik maar onvermydelik, keer die werklikheid terug.

Jul eienaardige gewoontetjies en giere wat eens so oulik vir mekaar was, word irriterend. Al wat van daardie euforiese vroeë dae oorbly, is vae herinnerings. Maar daar is maniere om die liefdesvonk aan die gang te hou.

In hul wyse en pittige nuwe boek, How to Keep Your Marriage from Sucking, kyk die egpaar Amiira Ruotola en Greg Behrendt in ’n ligte trant na praktiese maniere om konflik in jou huwelik te hanteer.

Die New York Times-topverkoperskrywers gee onder meer raad oor hoe om flirtasies in die sosiale media te hanteer, seksverwagtings te bestuur en watter reëls om te volg wanneer julle stry kry.

Hier is ’n uittreksel uit hul boek.

Foto: Gallo Images/Getty Images

SMOOR MISVERSTANDE IN DIE KIEM

Die manier waarop julle vroeg in jul verhouding die ongemaklike dinge hanteer, skep die patroon vir kommunikasie in jul huwelik. Doen uit die staanspoor moeite om dit reg aan te pak.

Ons glo vas jy moet jou maat eers met ’n bietjie vriendelikheid week maak en dan die gesprek versigtig aanroer. Iets soos: “Ek het vir jou koffie gemaak.

Het jy ’n oomblik? Ek wou vir jou sê daar is iets wat ek gedink het vir my oukei is, maar nou voel dit nie meer vir my oukei nie.

Ek is seker jy het al iets soortgelyks met my ervaar, en ek het gedink ons kan ’n ooreenkoms aangaan dat ons sal probeer om openlik oor dié dinge te kommunikeer.

Anders bly dit ongesê en word dit opgekrop.” Op dié manier kry niemand seer nie. Dit sal julle ewig baat om vroeg in jul huwelik oop kaarte te speel.

WEES SLIM IN DIE SOSIALE MEDIA

Julle moet saam besluit oor die grense, want wanneer twee mense een ding verskillend interpreteer, soos dikwels gebeur, kan dit tot baie seerkry lei.

Veral in die era van sosiale media en tegnologie kan dinge verkeerd vertolk word; jy kan heel onskuldig in die moeilikheid beland.

Julle ken mekaar beter en is liewer vir mekaar as enigiets anders onder die son, maar selfs dié merkwaardige band kan julle nie van sommige slaggate in ’n verhouding red nie.

Op jul troudag het julle byvoorbeeld onderneem om alle ander romantiese belangstellings te laat vaar en net vir mekaar om te gee. Maar met slimfone en sosiale media kan ’n onskuldige “like” van iemand se inskrywing maklik in ’n flirtasie ontaard.

Mense na aan ons het al talle kere in hierdie valstrik beland. Iemand deel ’n mooi selfie en ’n hele klomp “vriende” in die sosiale media hou daarvan en lewer kommentaar.

Dan sien die wederhelf van dié mens al die kommentaar en lees die profiel van die vreemdeling wat iets sexys of prikkelends geskryf het, en dit kan dinge vererger.

Dit krap ’n miernes oop wat ’n aaklige kringloop van wantroue en agterdog kan begin. Dieselfde kan in die werkplek gebeur. ’n Flirtasie by die werk kan ’n baie lighartige, gemaklike vriendskap wees, en dit kan heeltemal onskadelik wees.

Maar vir jou wederhelf is dit ontstellend. Wees proaktief oor dié soort ding en stel grense, anders kan die digitale era van vriendskappe en ligte flirtasies ’n groot probleem in jul verhouding word.

Al kan jy nie ander mense se optrede beheer nie, kan julle deursigtig wees oor wie jul digitale en werkvriende is, en wie, indien enigeen, jou wederhelf ongemaklik laat voel.

In ons geval het ons die digitale “vriende” wat ons vasgestelde grense oorskry het, ontvriend of geblok wanneer dit lyk asof hulle ’n agenda het wat ons huwelik benadeel of wanneer hulle net te veel slegte gevoelens veroorsaak.

Ons het ons ook onttrek van ander kennisse wat gelyk het asof hulle twyfelagtige motiewe het. Niks is belangriker as jul verhouding of huwelik nie; daarom moet julle sover moontlik nie toksiese dinge of mense in jul wêreld toelaat nie. Stel jou wederhelf eerste.

Ondersteun jou maat. Waar moontlik moet jy nooit jou vriende, familie of werk bo jou maat kies nie. Ja, daar sal tye wees dat jy getoets word en in ’n oënskynlik onmoontlike situasie beland waar jy nie jou geliefde eerste kan stel nie.

Maar as jou geliefde g’n twyfel het oor hoe belangrik hy of sy vir jou is nie, sal julle saam hierdie onmoontlikhede kan trotseer.

Foto: Gallo Images/Getty Images

SO STRY GETROUDES

Wanneer getroude mans en vroue stories oor hul maats vertel, kom die vroue soms as neulerige viswywe oor en die mans klink soos kinderagtige klakouse. ’n Rusie is ’n swart-of-wit-situasie, een van reg of verkeerd.

Wanneer jy agterna daaroor praat, beskryf jy nie die mens met wie jy vasgesit het nie, maar eerder die gevoelens wat jy op daardie oomblik teenoor hulle ervaar het.

Jy ontmoet dikwels iemand se wederhelf ná so ’n storie en is dan amper geskok dat hulle dierbaar is en nie die aaklige, kritiese monstermens van wie hul maat jou vertel het nie.

Rusies is nie altyd ’n uitgemaakte saak nie.

Sommige gevegte is so vaag, jy verstaan dalk nie hoekom julle baklei nie of dink nie werklik jy het enigiets verkeerds gedoen nie. Partykeer sal dit jare duur voor julle verstaan hoekom julle in die eerste plek gestry het.

Daar sal soms harde woorde val omdat een van julle se gevoelens seergemaak is, en daar sal ook rusies wees oor opgekropte ongelukkigheid wat skielik tot uitbarsting kom.

Julle kan sonder seks intiem wees, en as julle dít leer, sal dit jul verhouding baie sterker maak

REËLS VIR BAKLEI

As jy of jou wederhelf vuil speel, sal jul stryery littekens laat wat nooit heeltemal genees nie. Jy kan nie iets terugtrek wat gesê, gehoor en gevoel is nie.

Jy kan nie daardie giftige woorde uit jou mond uitwis of ongedaan maak nie; daarom is dit noodsaaklik dat julle reëls vir baklei in jul huwelik het

1. Moenie begin baklei net voor een van julle moet vertrek vir ’n afspraak op ’n sekere tyd nie. (Dis moeiliker as wat dit klink.)

2. Moenie mekaar uitskel nie. (Die enigste toelaatbare byname is liefling, skat, ensovoorts.)

3. Moenie mekaar onderbreek nie. (Ons weet – onmoontlik – maar probeer.)

4. Geen verwyte of beskuldigings nie (selfs as jou maat duidelik ver- keerd is).

5. Geen gevloek of geskree nie. (Dit kan te gou handuit ruk en vrees saai, en verbasend genoeg sal jou maat jou ook nie beter hoor nie.)

7. Geen sarkasme nie.

8. Moenie verdedigend raak nie. (Om verdedigend op te tree is soos om te sê “ek is net behep met reg wees, nie om na jou te luister nie”.)

9. Geen veralgemenings (“Jy is altyd ’n flippen nagmerrie”) nie.

10. Geen fisieke of emosionele gebare, intimidering, dreigemente of geweld nie.

11. Jy mag nie uitstap sonder om ’n tyd vas te stel wanneer julle die gesprek gaan voortsit nie. (Gaan blaas stoom af, maar wees eers beskaaf genoeg om te erken jy sal dit ’n prioriteit maak om die kwessie op te klaar nadat jy bedaar het.)

12. Dis oukei om kwaad te gaan slaap en kwaad op te staan. (Maar dis moeilik om kwaad te wees vir iemand wat vir jou die eerste koppie koffie in die oggend bring. Ons sê maar net: Koffie het die mag om dinge te oorkom.)

SEKS 

Foto: Gallo Images/Getty Images

Aan die begin van die huwelik is daar seks – hope stomende seks.

Seks is nie net pret en opwindend nie, maar ook ’n tydelike oplossing vir alle probleme en vrae. Wat eet ons vanaand? Seks. Hoe gaan ons vandeesmaand se huurgeld betaal? Seks. Wat wil jy vir jou verjaardag hê? Seks. Hoeveel vingers tel jy? Seks. Julle is albei die hele tyd te vinde daarvoor.

Sodra julle die vyfjaarkerf verbysteek, is seks nie meer die vernaamste ding in jul lewe nie. Dan het kinders, werk, moegheid, Netflix, te veel eet – wat ook al – dié plek ingeneem.

Julle bereik ’n verstandhouding waar julle eerlik vir mekaar kan sê wat julle op enige gegewe oomblik graag wil doen pleks van seks te hê.

Seks kan steeds fantasties wees, moet ons nie verkeerd verstaan nie, dis net nie meer die gom wat julle bymekaar-hou nie. Julle kan sonder seks intiem wees, en as julle dít leer, sal dit jul verhouding baie sterker maak. Dis ’n groot mylpaal.

En dit sal wonderlik en betekenisvol wees, maar ons moet erken: Dis eerlikwaar nie so opwindend soos splinternuwe, smeulende seks nie. Dit is dikwels in dié stadium dat een van die maats die knaende gevoel kry iets skort met hul sekslewe.

Die eerste vyf jaar het ’n hoë maatstaf gestel waaraan julle jul sekslewe vir die res van jul huwelik gaan meet. Dis ’n seëning sowel as ’n vloek.

Partykeer sal dit jare duur voor julle verstaan hoekom julle in die eerste plek gestry het

DIE KRISTALBAL OOR JUL TOEKOMSTIGE SEKSLEWE

Almal ken die stories dat getroude seks vervelig en seldsaam is. Al steek daar ’n tikkie waarheid in, is dit nie nodig om paniekbevange te raak nie.

Dit beteken nie jul sekslewe sal aaklig wees nie, maar dit sal beslis verander namate die jare aanstap. Julle sal eindelik in ’n ritme van bekendheid verval. Julle kan lui raak en dalk minder aandag daaraan gee.

Namate julle moeër raak, of dalk gemakliker met mekaar, verkies julle miskien om op ’n Sondag ander dinge te doen. As julle kinders het en nie veel slaap inkry nie, sal slaap nege uit 10 keer bo ’n vinnige sessie verkies word.

Dis niks om oor skuldig te voel nie. Julle sal moontlik nie eens agterkom julle het minder seks nie tot julle dit skielik besef.

Julle sal wonder of daar ’n probleem in jul huwelik is, of julle iets moet doen om dit op te kikker en of jou maat ook so voel. Daar sal tye kom dat julle net wil uitpluis wanneer julle weer gaan seks hê, en tye dat julle dit doelbewus vermy.

Dis normaal om in ’n langtermynverhouding deur seksuele fases te gaan. Nie almal het ’n beter sekslewe as julle nie, so moenie jou kop daaroor breek nie.

Soms pas seks nie in jul week of maand as julle dit nie skeduleer nie. Ons is al byna 20 jaar saam en het deur droë tye gegaan wat ons eindelik met geskeduleerde seks tot ’n einde moes bring.

Hoe keer julle dus dat jul sekslewe saai raak?

Begin deur mekaar nie met onrealistiese verwagtings te belas nie. Wees eerlik oor dinge wat jy raaksien, en onthou julle is saam in hierdie ding.

Hanteer irritasies so

Ons twee verskil heelwat. Greg is ’n sensitiewe, kreatiewe mens, maar ook vergeetagtig. Amiira is minder sensitief en vergeet byna nooit iets nie.

In die vroeë dae van ons huwelik het ons klein daaglikse kwessies so geklink: 

AMIIRA: Hoekom is die lemoensap op die toonbank? 
GREG: Ek weet nie.
AMIIRA: Ek het nie vandag lemoensap gedrink nie.
GREG: Ek ook nie. Ek het gister gedrink. 
AMIIRA: So, die bederfbare lemoensap is al twee dae op die toonbank? 
GREG: Ek kan nie eens onthou dat ek dit daar gesit het nie. 
AMIIRA: Jou motorsleutels is ook daar.
GREG: Ek het die lemoensap laat bederf en my sleutel verloor. Per slot van sake het niemand seergekry nie, of hoe?
AMIIRA: Nie regtig nie.
GREG: Jy behandel my soos ’n kind. 
AMIIRA: Wel, ’n grootmens weet hoe om lemoensap weg te sit. 
(Gevolg deur ’n allemintige rusie.)

Dit sou aangaan met ons twee wat stry oor iets heeltemal onbenulligs, maar wat duidelik die sneller vir groter dinge was.

Greg het gevoel hy is uitgevang dat hy iets doms doen en Amiira dat sy ’n feeks was omdat die lemoensap op die verkeerde plek ’n groter vrees by haar wakker gemaak het: die vrees dat dinge buite beheer voel.

Dit was nie die lemoensap self wat die probleem was nie; dis die manier waarop Amiira die gesprek benader het. 

Die gesprek kon soos volg verloop het as dit op ’n bedagsame wyse benader is wat albei partye se gevoelens en persoonlike snellers in ag neem:

AMIIRA: Wie is die superkreatiewe, snaakse ou wat die lemoensap op die toonbank gelos het? 
GREG: Was dit ek?
AMIIRA: Ek hoop so, anders is daar ’n spook in ons huis.
GREG: Ek sal probeer onthou om die sap in die yskas terug te sit.
AMIIRA: Dankie.
GREG: Het jy my sleutels gesien?
AMIIRA: Nee.

Sien jy hoe Greg se gevoelens nie seergemaak word nie, en Amiira laat hom steeds na sy sleutels soek?

Dis die klein dingetjies wat jou verhouding sal laat floreer. 

Terloops, die huwelik gaan eintlik net daaroor om jou geliefde te help om sy sleutels te vind – of nie te vind nie – tot julle sterf of skei. 

Jy sal verbaas wees hoeveel egskeidings ’n newe-effek is van ’n alewige gesoek na karsleutels. 

    • ’n Geredigeerde uittreksel uit How to Keep Your Marriage from Sucking deur Greg Behrendt en Amiira Ruotola (Orion Spring, R285 by Takealot.com). Die prys was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.