Skaars twee weke nadat die pragtige blondine en die bekende TV-boer in die sosiale media oor hul verlowing gekoer het, kom die skoknuus: Die Boer Soek ’n Vrou-paartjie Rèan Clasen en Rox-Zee Veldhuizen, albei 27, se sprokiesromanse lê aan skerwe

Hoekom dan nou? Glo omdat sy ouers teen hul verhouding gekant was. 

“Hulle wou nie glo ek is sy trouvrou nie, en dis jammer, want ek was van die begin af seker hy is my trouman,” het Rox-Zee aan Huisgenoot gesê

“Hy moes my telkens verdedig; ook sy besluit om aan my verloof te raak. “Dit het ons uitmekaargedryf.” 

Dié twee se vlietende liefdesverhaal het voor die kameras afgespeel, maar dit sal nie die eerste keer wees dat sonde met die skoonouers ’n verhouding laat sneuwel nie. 

'Hy is in die middel en probeer vure blus. Dit gaan dit net moeiliker maak as jy lelik met of oor sy ouers is'

As jou ouers nie jou maat goedkeur nie, kan dit verreikende gevolge hê: Jou romantiese verhouding én jou verhouding met jou ouers kan daaronder ly. 

Hoe benader ’n mens dit? En wat doen jy as jy die een is wat die onmin tussen jou geliefde en sy ouers veroorsaak? Ook vir ouers kan so ’n situasie onuithoudbaar wees. 

Sê jy iets, kan jou verhouding met jou kind skade ly. Maar bly jy stil, maak jou kind dalk dit wat jy as die grootste fout van hul lewe beskou. 

Huisgenoot het by kenners gaan aanklop vir raad vir al drie die partye wat hulle in so ’n situasie bevind. 

Hoe dan gemaak as die vooruitsig of koms van die jawoord vir een van die verliefdes se ouers ’n groot nee is?

My ouers keur nie ons verhouding goed nie

As jy wil verseker jou verhouding met jou ouers én jou geliefde bly ten spyte van die onmin staande, moet jy na jou ouers se bekommernisse luister en hul vrae beantwoord, maar nie toelaat dat hulle jou manipuleer nie, sê Lizette Erasmus, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria.

“Wees eerlik met hulle. Sê waarom jy dink jul verhouding kan werk, waar dié mens jou aanvul en wat julle in die toekoms wil doen. “Moenie net op die positiewe fokus nie; erken ook die uitdagings waardeur julle in die gesig gestaar word.”

Luister met ’n oop gemoed na jou ouers se bekommernisse, beveel Lizette aan, want hulle het dalk rede om so te voel.

Sy stel voor jy en jou geliefde gaan spreek as paartjie ’n verhoudingsterapeut en laat persoonlikheidsontledings doen.

“Dit rus julle toe om aan jou ouers te verduidelik watter uitdagings in jul verhouding lê, maar ook waarom julle mekaar kies. “Onthou dat liefde alleen nie altyd genoeg is om ’n verhouding te laat werk nie; ’n mens moet praktiese uitdagings die hoof bied.”

Wanneer jy vermoed die gesprek met jou ouers gaan driftig raak, reël dat ’n berader of iemand saamkom en as bemiddelaar optree, sê Kobus Pauw, ’n verhoudingsberader van Pretoria.

“’n Onafhanklike derde party sal help om die gesprek te bestuur sodat dit opbouend is.”

Sit jou voet hoflik maar ferm neer, veral as jou ouers ’n ultimatum aan jou stel of neerhalend is teenoor jou maat, beveel hy aan.

“As dit gebeur, herinner hulle daaraan dat dit steeds jou keuse is. Versoek dat hulle julle ’n kans gee en verduidelik waarom jul verhouding werk en waarom julle mekaar liefhet.”

Lizette voeg by dit hoef nie ’n kloof tussen jou en jou ouers te veroorsaak as hulle aanvanklik aan die begin van die verhouding teen jou maat gekant is nie.

“Ouers is nie altyd reg nie. Jy kan hulle steeds versoek om jou keuse te respekteer en jou lief te hê,” sê sy.

As jou ouers voet by stuk hou en nooit die verhouding sal goedkeur nie, moet jy en jou maat besluit of julle daarsonder kan en wil voortgaan, sê die kenners.

My maat se ouers is teen my gekant

Dit maak seer as jou geliefde se ouers jou nie aanvaar nie, al steek jy dit dalk vir jou maat weg, sê Marilet Kotzé, ’n huweliksberader van Bloemfontein.

“Dis vreeslik moeilik en ek het al gesien hoe gelukkige liefdesverhoudings hierdeur verwoes word,” sê sy.

Probeer nietemin om nie jou maat se ouers sleg te sê nie, al hanteer hulle jou sleg, waarsku Kobus.

“Jy kan eerlik wees oor hoe hul gedrag jou laat voel, maar dit bly sy ouers. Hy is in die middel en probeer vure blus. Dit gaan dit net nog moeiliker maak as jy lelik (met of oor hulle) is.”

Gebruik eerder positiewe woorde soos “ons sal hierdeur kom” en help saam aan opbouende oplossings dink, soos hoe, waar en wanneer julle met sy ouers kan gesels.

Kobus stel voor jy gaan spreek die ouers saam met jou geliefde en verduidelik waarom jy hul kind liefhet en dat jy daar is om die regte redes.

“Stel dan iets voor soos dat julle ’n berader sal spreek.” Hy sê praktiese planne kan dikwels help.

Sy voorbeeld: “As jy ’n stadsjapie is en jou geliefde op ’n plaas woon, kan jy sê: ‘Laat ek vir drie maande op die plaas kom woon, dan kan tannie my wys hoe die plaaslewe werk en ons kan aan julle bewys ons is werklik lief vir mekaar.’

” As die gesprekke geen vrugte afwerp nie, sal jy dan maar ’n besluit moet neem, sê Lizette: Gaan jy die verhouding deurvoer ten spyte van die kritiek of gaan jy dit beëindig?

“Wees eerlik met jouself en jou maat en vra moeilike vrae, soos: Sal jy daarmee kan saamleef as jou geliefde se verhouding met sy ouers verwoes is? Sal jy daarmee kan saamleef as jy nooit ’n verhouding met jou skoonouers het nie?”

Dink vooruit, maan sy. “As julle gaan kinders hê raak alles ingewikkelder.”

Vra jouself byvoorbeeld af of die kinders ’n verhouding met hul grootouers gaan kan hê en of jou skoonouers jul wense as ouers sal respekteer.

Ek is teen my kind se verhouding gekant

Nie alle ouers mag by hul kind se verhouding inmeng nie, sê Kobus.

As jy emosioneel afwesig was vir ’n groot deel van jou kind se lewe, “kan jy nie nou verwag om insae te hê in hul verhouding nie”, sê hy.

“As julle nie ’n gesonde verhouding het nie, bly eerder stil.”

Ouers wat wel ’n goeie verhouding met hul kind het, ken die kind goed, sê hy.

“Vra jouself af of jy net iets wil sê omdat jy verandering vrees en of jy regtig glo die huwelik gaan nie werk nie en dat jou kind se geluk daaronder gaan ly,” sê hy.

Maar benader die situasie versigtig; moenie jou kind konfronteer of met albei saam daaroor praat nie.

“Nader eers jou kind. Dit moet ’n gesprek wees, nie ’n ‘ek-vat-jou-nou-vas-preek’ nie,” sê Kobus.

Ouers kan hul mening lug as daar groot norme- en waardeverskille tussen hul kind en dié se maat is, sê Marilet.

“Begin die gesprek deur te sê: ‘Ek het nie gedink jy sal so iemand kies nie. Hoe laat julle dit werk?’ ” raai sy aan.

“Vra: ‘Waarom hou jy van hom of haar?’ en ‘Dink jy hy vul jou aan?’ Dit help jou kind om daaroor te dink.” 

Oënskynlike of groot verskille wat jou as kwelpunte tref, beteken nie die verhouding kan nie werk nie, sê kenners. Probeer eers die situasie verstaan, sê Lizette.

“Jou werk as ouer is om altyd daar te wees vir jou kind. Hulle moenie voel jy wil die besluit vir hulle neem nie, maar dat jy hulle wil steun om die regte een te maak,” sê sy.

“Vra moeilike vrae soos: ‘Waarom dink jy julle sal saam kan oud word? Of as jy bekommerd is dat die maat finansieel onverantwoordelik is, vra jou kind: ‘Ek sien hy is impulsief met geld. Dink jy hy sal dit nog doen as julle kinders het?’ ”

Vrae sal jou kind laat nadink, maar hulle nie laat voel hulle word veroordeel of voorgeskryf nie.

’n Verhoudingsterapeut kan as onafhanklike derde party ook waardevolle raad gee aan jou kind en sy maat, sê Kobus.

“Borg ’n paar sessies en kies die berader goed; iemand wat eerlik met hulle sal wees.”

Maar kenners is dit eens dat jy nooit ’n ultimatum aan jou kind moet stel nie.

“Dit is die toppunt van manipulasie,” verduidelik Kobus.

“Dit sal die vertrouensverhouding verwoes en jou kind sal moontlik nooit weer sy hart teenoor jou oopmaak nie, selfs al verbreek hy die verhouding.”