Ná meer as vier dekades van getroude lewe lyk Theuns en Hester Moolman steeds dolgelukkig in mekaar se geselskap. Hulle laat die huwelik so maklik lyk. Wanneer hulle kan, rits hulle saam op hul motorfiets rond en verken die land se paaie. Dié avontuurlustige egpaar van Durbanville in die Wes-Kaap reis ook graag oorsee.

Met ’n vol lewe en ’n huwelik van 42 jaar, drie kinders, twee kleinkinders en ’n groot trek drie jaar gelede van Mpumalanga na Kaapstad agter die rug, onthou Theuns (66) en Hester (63) die dag van hul ontmoeting op ’n kerkjeugbyeenkoms op Bethal, Mpumalanga, nog asof dit gister was.

“Ons het mekaar op 13 November 1975 ontmoet en is op 13 November 1976 getroud,” vertel Theuns, wat voorheen vir ’n oliemaatskappy gewerk en voor sy aftrede geboer het.

Huwelike van baie dekades soos dié van die Moolmans is deesdae taamlik dun gesaai, want soveel huwelike bly vandag in die slag. Statistieke Suid-Afrika het in Junie ’n verslag bekendgemaak wat toon dat 44% van die egpare wat in 2016 geskei is minder as 10 jaar getroud was.

Hoe kry paartjies soos die Moolmans dit reg om so lank gelukkig saam te wees? Het hulle ’n resep? O nee, sê Theuns en Hester, ook vir hulle was die huwelik aanvanklik vol aanpassings en uitdagings om aan mekaar se geite gewoond te raak.

“Ek het gedink ek kan my vrou verander, maar het ná ’n paar jaar besef ek kan dit maar los. Die beginjare verg baie skaafwerk,” erken Theuns. Net so was dit vir haar ’n kopskuif om skielik iemand anders in ’n saak te ken voor sy besluite neem, sê Hester oor die eerste jare van die getroude lewe.

Hester en Theuns Moolman van Durbanville is dit eens dat jy kan kies om ’n gelukkige huwelik te hê of nie. Foto: Francois Sieberhagen.

’n Gelukkige huwelik is eindelik ’n keuse, eggo die paartjie die boodskap van baie huweliksberaders. Dit gebeur nie vanself nie, en dit kom nie sonder inspanning, aandag en doelbewuste besluite nie.

Een van dié keuses is om mekaar te aanvaar en te besef niemand is volmaak nie, sê Hester, ’n tuisteskepper. “Julle moet mekaar respekteer,” gee sy raad. “En jy moet besef nie alle rusies is ewe belangrik nie. Partykeer moet jy jou standpunt net kan laat gaan.”

Theuns meen dit is belangrik om jammer te sê wanneer jy verkeerd is of jou maat ’n verskoning verskuldig is. “As ek verkeerd is, sê ek jammer. ’n Mens moet met mekaar praat en toegeeflik wees.”

Die Moolmans het gekies om hul huwelik te laat werk.

Wat sê die kenners? Hoe kan jy ook die regte keuses maak om te sorg dat jou huwelik gelukkig bly?

Doen selfondersoek en skaaf aan jouself

Jy moet kies om self ’n gehaltehuweliksmaat en -spanmaat te wees, sê Shelley Lewin, ’n verhoudingsterapeut en lewensafrigter van Kaapstad. Doen moeite om jou maat te verstaan sodat jy hom of haar geliefd laat voel. “Maak seker jy is betroubaar, kommunikeer goed en kom jou verantwoordelikhede na. ’n Goeie vennootskap begin by jou,” verduidelik sy.

Louis Venter, ’n verhoudingsterapeut van Randburg in Johannesburg, beaam dat mense konstante selfondersoek moet toepas en aan hulself moet skaaf, veral in moeilike tye. “As julle swaarkry in jul verhouding, kan jy sê ja, ek weet dit of dat irriteer my, maar wat is my aandeel?”

Maak tyd vir mekaar en tree verlief op

Aan die begin gee pasgetroudes baie aandag aan mekaar en die verhouding, maar later raak hulle te besig met alledaagse dinge soos kinders en huishoudelike pligte, sê Shelley. “Dis daarom belangrik om tyd saam deur te bring,” gee sy raad.

Gehaltetyd, waar julle iets spesiaals saam doen of vir mekaar jul onverdeelde aandag kan gee, is belangriker as die hoeveelheid tyd wat julle saam deurbring, sê sy.

‘ ’n Mens moet met mekaar praat en toegeeflik wees’

“Mense in gelukkige huwelike maak tyd vir mekaar,” beaam Arie Roos, ’n lewens-afrigter van Pretoria. Volgens hom sorg egpare op dié manier hulle vervreem nie van mekaar nie. “Die verliefdheid kom en gaan. As jy nie verlief voel nie, moenie skaam wees om verlief op te tree nie. Jy sal verbaas wees hoe vinnig die gevoel van verliefdheid dan terugkom,” sê hy.

Sien jul verskille as iets wat julle saam sterker maak

Dikwels word gespot oor die verskille tussen die manlike en vroulike geslag, en hoe dit amper onmoontlik is dat hulle met mekaar kan saamleef. Boonop gebeur dit dikwels dat getroude paartjies mekaar se teenoorgesteldes is, sê Arie. “Wat belangrik is, is om die konflik wat hierdeur veroorsaak word tot voordeel van mekaar en die huwelik te gebruik,” sê hy.

“So kan die realis byvoorbeeld die dromer se drome gebruik as ’n doelwit om na te streef. En die dromer kan die realis se nugter uitkyk gebruik om sy of haar drome te prioritiseer.”

Volgens Louis pas geen paartjie soos ’n legkaart nie en mense moet leer om by mekaar te pas. “Die vraag is: Is ons bereid om hard te werk sodat ons kan leer hoe om die ander mens lief te hê?” sê hy.

Wanneer konflik opduik, is dit beter om aandag te gee aan die situasie pleks daarvan om dit te ignoreer, maar moenie mekaar aanval nie, sê Shelley. “Vra mekaar vrae; probeer om jou maat se standpunt te verstaan en uit te pluis waarom hy of sy nie van iets hou nie. Dit help nie om mekaar te blameer nie; julle wil vasstel wat elkeen anders kan doen.”

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images.

Volgens Shelley is dit ook jou keuse hoe jy ’n ongelukkige huwelik hanteer. “Jy kan aandag gee aan jou ongelukkigheid, verduidelik wat jou ongelukkig maak en jul kommunikasie probeer verbeter of jy kan kies om ongelukkig te wees en ’n affair aanknoop. Maar dit los nie die probleem op nie. Fokus eerder daarop om jou vennootskap met jou maat te versterk.”

Konflik is nie iets waarvoor julle bang moet wees nie omdat dit soms nodig is om belangrike sake uit te klaar, meen Arie. “Maar moenie jou emosies die oorhand laat kry nie, en hou aan om mekaar te respekteer.”

Moenie aan ’n illusie vasklou nie. Beskou die verhouding eerder as ’n ontdekkingsreis. Louis meen die “volmaakte huweliksmaat” is ’n illusie en die meeste seer word deur dié illusie veroorsaak. “Die volmaakte maat is die een wat kies om jou by te staan deur die pyn en tye van emosionele onenigheid tot julle as ’n paartjie weer by dieper begrip uitkom.”

Arie meen ’n egpaar moet deurlopend daarop fokus om mekaar beter te leer ken. “As jou maat dinge doen wat jy nie verstaan nie, beteken dit julle ken mekaar nog nie of nie goed genoeg nie. Doen moeite om jou maat beter te leer ken.”

Voor jy die eerste keuse maak

Die dag wanneer jy trou, kies jy om jou lewe saam met jou huweliksmaat deur te bring, en dan volg die keuse daagliks om saam gelukkig te wees. Maar hoe weet jy of jy hoegenaamd die regte besluit neem voor jy kansel toe mik?

“Ek sê gewoonlik vir paartjies jy is gereed om te trou wanneer jy bereid is om saam met iemand anders te reis en alles te gee wat nodig is om ’n nuwe storie van ‘ons’ te skryf,” sê Louis.

Om te trou is ’n ingrypende stap, want dit beteken jy moet jou maat met hul probleme, maak nie saak hoe groot nie, bystaan pleks van weghardloop, sê Arie.

Huweliksberading by ’n verhoudingsterapeut of jul kerk is goeie voorbereiding vir alle pare, meen Louis, want dit kan hulle help om meer van mekaar te leer en begrip te hê vir waar elkeen vandaan kom.

Om voor die troue saam te bly kan goeie voorbereiding op ’n lewe saam wees, maar dit het ook moontlike nadele, sê Louis. “Paartjies wat saam bly, het dieselfde uitdagings as ’n getroude paartjie. Die nadeel daarvan is dat hulle nie die veiligheid van die huwelik het om deur die konflik te werk nie.

“Hulle kan dan die moeilike tye as ’n teken beskou dat hulle nie moet trou nie.”

Wanneer is dit wel verby?

Die verhoudingsterapeut en lewensafrigter Shelley Lewin meen dit is beter om halt te roep as die verhouding afbrekend is en die egpaar nie meer gewillig is om aan hul verhouding te werk nie.

As albei huweliksmaats nie meer werklik kies om aan die verhouding te werk nie, raak dit moeilik om dinge te verbeter.

Die verhoudingsterapeut Louis Venter sê dit is beter om ’n huwelik te laat vaar as geweld in die verhouding voorkom of “hulle pyn ervaar wat so groot is dat een maat sukkel om te vergewe of ’n verslawing ’n maat en kind verwoes”.

Ekstra bronne: Parents.com, Webmd.com, Foxnews.com, Colgate.com