Familie frons oor nuwe liefde

Vraag

Ek is ’n paar jaar gelede ná ’n moeilike huwelik geskei. Nou het ek ’n lewensmaat ontmoet vir wie ek lief is. Ons is van verskillende rassegroepe. Ek wens mense en my familie kan by iemand se velkleur verbykyk en sien ons is net twee mense wat gelukkig is.

Ek kan nie met my familie hieroor gesels nie. Hulle is bang oor wat mense gaan dink. Hulle weet nog nie eens ons is al ’n jaar lank in ’n verhouding nie, al vermoed hulle dit. Ek is nie bereid om my geluk op die spel te plaas om my familie se keuses en voorkeure te “eerbiedig” nie. Moet ek oop kaarte speel?

DK op KS

Antwoord

Ek is so bly jy het iemand gevind vir wie jy kan lief wees ná jou teleurstellende huwelik. Al wat saak maak, is hoe julle twee oor mekaar voel. Sit koppe bymekaar met jou lewensmaat oor hoe julle die saak kan aanpak.

Julle sal ’n strategie moet bedink. Hoe het sy ouers jou as sy maat aanvaar, en watter pad stap julle met hulle? As jou maat daarvoor te vinde is, moet jy reël om alleen en privaat met jou ouers daaroor te gesels.

Dinge kan dalk gesê word waaroor almal later spyt gaan wees; daarom is dit beter dat jy eers ’n oop gesprek met hulle daaroor voer sonder dat hy by is. Jou ouers gaan dalk verraai voel omdat jou standpunt so drasties van hulle s’n verskil.

Die vertroue tussen julle kan ook geskend wees omdat jy die verhouding eers geheim gehou het. Hulle kan dalk met vervreemding dreig, maar jy sal kalm en geduldig moet wees en ferm by jou standpunte bly.

Wys hulle daarop dat jy nie volgens hul waardes kan leef nie en verseker hulle jy is volwasse genoeg om die eise en uitdagings van so ’n verhouding die hoof te bied. Aanvaarding gaan nie oornag gebeur nie. Vra tydens hierdie gesprek en ook opvolggesprekke of jy ’n geleentheid kan skep waar hulle jou maat kan leer ken en waardeer.

Op 40 bly sy kleinsus

Vraag

Ek neem my suster al lank in ag, want ek is die oudste broer en ons ma is vroeg oorlede. My suster is nou al oor die 40. Ek wil graag hê sy moet minder afhanklik van my wees en haar eie besluite neem soos oor die aankoop van eiendom. Hoe kan ek dit regkry?

KW op F

Antwoord

Jy was moontlik te lank die verantwoordelike een wat opofferings vir haar gemaak het. Dit het haar dalk die selfvertroue ontneem om besluite te neem. Help haar deur haar geleidelik toe te laat om emosioneel te groei en selfvertroue op te bou.

Tree terug wanneer sy raad vra pleks daarvan om in te spring en alles vir haar te doen. Wys haar op verskillende opsies eerder as ’n enkele oplossing. Laat haar ook self die gevolge van haar eie keuses dra. Moenie haar die lewenslesse ontsê wat sy nog moet leer nie.

Wys hulle daarop dat jy nie volgens hul waardes kan leef nie – Elize

Stil skoonseun wil vuisslaan

Vraag

Ek woon by my oudste kind en is ouer as 75. Hier is geen tyd vir skoonma’s nie. Wat ’n skok toe my skoonseun my amper met sy vuis bykom. Hy is ’n introvert. Ek bly nou maar liewer net in my kamer. Vir my ander kind is dit net haar man en skoonfamilie wat tel. My man is al ’n paar jaar oorlede en my geldsake is sleg. Ons is eintlik ordentlike mense.

S op G

Antwoord

Sulke emosionele mishandeling kan tot angs lei wat glad nie goed is vir jou gesondheid nie. Die mishandeling en verwaarlosing sal nie ophou tot jy iets daaraan doen nie. Daarvoor is jy nou te bang; jy wil net wegkruip, en dis te verstane.

Maar moenie jouself afsluit nie. As jy nie die saak met jou dogters kan bespreek nie, wag tot jy weer jou huisdokter besoek en bespreek jou situasie met hom of haar of met jou ouderling of predikant.

Jy kan raad kry by Age in Action, die eertydse Raad vir Bejaardes, by 021-426-4249. Jy kan ook by hulle navraag doen oor ’n maatskaplike toelae as jy nie reeds een ontvang nie.

Alkoholis-man dreig met selfdood

Vraag

My man is ’n alkoholis. Hy steek sy drank weg, en wanneer ek daarop afkom, dreig hy met selfdood. Ons is al 24 jaar getroud en het twee kinders. Ek stres elke dag. Hy drink ook wanneer sy bestuurder nie by die werk is nie. Ek kan sien hy skeep sy werk af. Ek is moedeloos, raadop, keelvol en teleurgesteld.

L op LA

Antwoord

Dreigemente oor selfdood moet nooit ligtelik opgeneem of weggepraat word nie. ’n Besliste verband bestaan tussen oormatige alkoholgebruik en selfdood. ’n Drinksessie lei nie regstreeks tot selfdoodgedagtes nie, en nie almal ervaar sulke gedagtes nie.

Die beneweldheid kan wel party dranksugtiges neerslagtig laat raak en dan begin hul gedagtes in dié rigting dwaal. Sulke idees neem veral vorm aan by mense wat met ’n gefuif binne ’n kort tydjie smoordronk wil raak. Die gedrag kan hulle impulsief maak en hul oordeel aantas.

Sulke dreigemente is daarom noodkrete, al kan dit soos pogings tot manipulasie voel as jy dit gedurig moet aanhoor. Jy sal vir jou man moet hulp soek om ’n einde aan dié kringloop te maak. Net hy kan die besluit neem om na ’n rehabilitasiesentrum te gaan; niemand kan dit namens hom neem nie. Begin deur die verskillende behandelingsopsies met hom te bespreek wanneer hy nugter is.

Bel Alkoholiste Anoniem by 0861-435-722 om te hoor waar jy leiding in jou omgewing kan kry. Jy moet ook grense vir jouself stel sodat jy met jou lewe kan aangaan en jou eie identiteit kan terugvind. Jy het self deernisvolle sorg nodig. Begin opsies ondersoek om self weer werk te vind en op jou eie te gaan vakansie hou.

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1.