Op jou troudag het jy gehoop julle gaan tot op jul oudag saam wees. Julle sal mekaar altyd liefhê en bystaan. Nooit weer sal jy alleen besluite hoef te neem of krisisse te hanteer nie. Jy hoef nie eensaamheid te vrees nie en kan die lief én leed van jou lewe met jou beste vriend deel.

Tot jou maat nie meer daar is nie. Die lewe stap met almal draaie; jy kan later in jou lewe deur ’n egskeiding gaan of jou wederhelfte aan die dood afstaan. Wanneer jy dan skielik enkellopend is, hou dit verskeie uitdagings in.

Hoe gemaak as jy daarop hoop om weer iemand te ontmoet? Om jou weer in die wêreld van afsprake te begewe klink dalk vreesaanjaend . . .

In ’n onlangse brief aan Huisgenoot skryf ’n leser oor die onsekerheid voor haar eerste afspraak met ’n man met wie sy al ’n geruime tyd op WhatsApp gesels, maar nog nooit ontmoet het nie.

Die enigste manier om dit te hanteer is om jou verwagtings te bestuur en veilige ruimtes te skep. ’n Veilige ruimte is om met iemand uit te gaan wat in jou verwysingsraamwerk is.

“Terwyl ek senuagtig my hare agter my oor insteek, wonder ek wat met my lewe gebeur het. Ek was gelukkig getroud – of so het ek gedink – tot ek uitvind manlief het iemand anders ontmoet.

“Nou moet ek weer van voor af leer hoe om te date. Om mans te ontmoet in ’n wêreld wat so verander het sedert die dae toe ek nog jonk en mooi en maer was. ’n Wêreld waar jy iemand op die internet ontmoet en nie meer deur gemeenskaplike vriende of by ’n ordentlike kuierplek nie.

“’n Wêreld waar julle mekaar leer ken deur WhatsApp-boodskappe en eers die ander een se stem hoor wanneer julle eindelik sover kom om koffie te gaan drink.

“En skielik staan iemand voor my wat ek skaars herken, want hy lyk nie soos sy profielfoto nie. Ek sit ’n glimlag op my gesig en skep moed. Maar in my hart huil ek saggies omdat ek op die ouderdom waar ek ’n gevestigde lewe saam met my man en kinders moes gehad het so alleen en verlore voel.”

In nog briewe aan Huisgenoot worstel ander lesers met dieselfde uitdaging: Hoe vind jy liefde in jou later jare, en hoe laat jy die vlinders in jou maag in formasie vlieg as jy jare laas ervaar het hoe dit voel om jou oor te gee aan ’n nuwe verliefdheid?

Hoekom is dit so moeilik?

Ouer mense is dikwels in ’n gemaksone en word nie meer in so ’n groot mate deur hormone aangedryf nie; tog wil jy nie noodwendig alleen deur die lewe gaan nie, sê Susan Eksteen, ’n Imago-terapeut van Krugersdorp.

Maar selfs al het jy ’n behoefte aan ’n maat, beteken dit nie dit maak jou nie gespanne om jou aan iemand anders bloot te stel nie. Wanneer jy ouer is, is daar nie meer soveel tyd om mekaar te leer ken nie en dalk meer druk om die verhouding vinniger te laat beweeg, sê Carol-Ann Dixon, ’n Durbanse sielkundige.

Maar: “Jou lyf lyk ook nie meer soos toe jy jonk was nie, en ’n mens is bang vir verwerping,” sê Susan. Seksueel werk dinge dalk nie meer so goed soos voorheen nie, en dít kan bykomende stres veroorsaak.

Verder, sê Carol-Ann, moet jy by ’n potensiële maat wat ouer is gevestigde gewoontes deur die vingers sien, want dis onwaarskynlik dit gaan verander.

“Daar is dikwels ook die komplikasie van kinders wat voel hulle wil die potensiële maat goedkeur,” voeg sy by.

“Daarby het jy dalk onafgehandelde emosionele kwessies oor die verlies van ’n maat of ’n egskeiding.”

Hoe kan jy ontvankliker wees?

Die lewensafrigter Siobhan Jonker van Johannesburg sê jy moet jouself tyd gee om mense te ontmoet sonder die druk dat dit die één moet wees.

“Benader jou afspraak met ’n sin van afwagting oor wie die persoon as mens is eerder as om hulle as ’n potensiële maat te beskou. Dit voorkom onrealistiese verwagtings.”

Wees gemaklik met jouself, sê Lindelwa Khoza, ’n lewensafrigter van Johannesburg.

“Hoe meer jy van jouself hou, hoe groter is die kans dat ander van jou sal hou en jou selfs sal liefhê.

“Jy moet verstaan waar jou emosionele bagasie vandaan kom.”

Hoe ontmoet jy iemand?

Huisgenoot se troostante, Liewe Elize, sê dit voel soos ’n oerwoud daar buite as jy ná baie jare weer enkellopend is en op afsprake gaan.

“Die enigste manier om dit te hanteer is om jou verwagtings te bestuur en veilige ruimtes te skep. ’n Veilige ruimte is om met iemand uit te gaan wat in jou verwysingsraamwerk is.”

As jy pret het, sal jy ’n energie uitstraal wat mense na jou toe aantrek.

Sy stel voor jy vra jou familielede of hulle nie iemand ken wat hulle aan jou kan voorstel nie – dit sal keer dat jy te veel vreemdelinge ontmoet met wie jy geen band het nie en wat jou dalk emosioneel onveilig laat voel. Vertel gerus vir vriende en familie wanneer jy gereed is om iemand te ontmoet, sê Susan.

“Dalk ken iemand ’n geskikte persoon.”

Siobhan stem saam: “Ontmoetings deur familie en vriende is ’n wonderlike manier om met mense in aanraking te kom.”

Sy sê dit is ook ’n goeie idee om jou uit te leef in jou stokperdjies of in groepaktiwiteite waarin jy belangstel.

Ter Illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

“As jy doen waarvoor jy lief is, sal dit vir jou deure oopmaak, of dit nou ’n sport of redenaarsgroep is.”

Sy stel voor jy doen iets wat jy geniet én jou by mense uitbring.

“As jy pret het, sal jy ’n energie uitstraal wat mense na jou toe aantrek.”

Carol-Ann sê die eerste stap is om eenvoudig uit jou huis te kom en dit buite jou gemaksone te waag en om te gaan na plekke waar mense van jou ouderdom bymekaarkom.

“Raak daar betrokke,” is haar raad.

Wat van aanlyn afspraakplatforms?

Ouer mense ervaar afspraak-apps en die ervarings wat daaruit spruit meestal nie as iets positiefs nie, sê Lindelwa. Sy verduidelik dié platforms is gegrond op en gebou vir “die behoeftes van jonger geslagte wat meer omgee oor voorkoms en wat nie daarvoor skrik om ’n buitensporige hoeveelheid tyd op die internet deur te bring nie”.

Weduwees en wewenaars is sagte teikens.

Volgens haar is afspraakwebtuistes wat hulself vir mense van 55 jaar en ouer bemark bloot ’n herverpakte weergawe van dié wat vir jonger volwassenes ontwikkel is. Sy sê dit erken dus nie dat daar fundamentele verskille tussen die verhoudingsbehoeftes van ouer en jonger mense is nie.

Carol-Ann sê sy het al talle mense in terapie gehad wat verlief geraak het op ’n internetmaat wat in werklikheid net in hul geld belanggestel het.

“Weduwees en wewenaars is sagte teikens.”

Sy sê indien jy aanlyn afsprake oorweeg, moet jy versigtig wees oor wat jy op jou profiel sit. Dis belangrik om versigtig te wees wanneer jy daarna iemand in lewende lywe ontmoet, en noodsaaklik dat jy nie vir daardie persoon geld gee nie omdat jy so die slagoffer van ’n swendelspul kan word.

Hoe verduidelik jy jou behoeftes aan jou volwasse kinders?

Moenie jou kinders uitsluit nie – praat met hulle en verduidelik jy is eensaam en soek ’n maat van jou eie ouderdom saam met wie jy dinge kan doen, sê Carol-Ann.

“Dit is beter dat hulle voorbereid en ondersteunend is, anders kan hulle die hele proses verongeluk. Wees ferm oor jou behoeftes, maar hê ook begrip vir hul perspektief, vrese en behoeftes.”

Hoe hanteer jy die verliefdheid?

Daar is altyd risiko’s betrokke wanneer jy verlief raak, ongeag die fase van jou lewe, sê Siobhan.

“Om verlief te wees is terselfdertyd wonderlik én vreesaanjaend. Daar is geen waarborge nie. Wanneer jy later in jou lewe verlief raak, kan ’n mens kwesbaarder voel omdat die onoorwinlikheid van die jeug verdof het en jy bewus is van jou behoefte aan standvastigheid.”

Sy sê jy moet op die hede fokus en dinge nie oordink nie.

“Probeer om nie alles persoonlik op te neem nie. Fokus op jouself en skep jou eie geluk en vervulling, want dit sal jou innerlik sterk maak en help om die onsekerheid en onbekende te bestuur.” 

Wees jouself, maar . . .

Ons kenners deel hierdie bykomende wenke vir wanneer jy na iemand nuuts uitreik of op ’n afspraak gaan.

Die moets

  • Wees eerlik oor jou verwagtings.
  • Wees aanpasbaar, maar hou by jou beginsels.
  • Noem dat jy ’n toegewyde ouer is, maar moenie heeltyd oor jou kinders praat nie.

Die moenies

  • Moenie bang wees vir verwerping nie.
  • Moenie die mens met wie jy op die afspraak gaan, vergelyk met jou vorige maat nie.
  • Moenie vooropgestelde idees oor ’n nuwe maat hê nie.
  • Moenie te gou ontmoedig word nie.