Mishandel, maar bly steeds hoop

VRAAG

Ek is al ses jaar in ’n verhouding, maar ons ken mekaar baie langer en het ’n kind saam. Ek het nog twee kinders. Ek is diep ongelukkig in hierdie verhouding waarin ek fisiek en emosioneel afgebreek word. Die kinders word ook daardeur geraak. Tog is hulle lief vir hom. Finansieel sorg hy goed vir ons, maar daar is geen aanduiding dat hy hom op lang termyn wil verbind nie. Sal dinge dalk verander?

MN op LE

ANTWOORD

Om goed vir iemand te wees gee niemand die reg tot misbruik nie. Die mag van finansiële afhanklikheid kan verbreek word as ’n mens bereid is om opofferings te maak en self ’n broodwinner te word.

Jou ongeluk behoort vir jou ’n teken te wees dat jul verhouding lankal by omdraai verby is. Die emosionele skade wat dit jou kinders berokken, is nog ’n teken dat julle nie langer so kan voortgaan nie.

Al lyk dit of jou kinders nog vir hom lief is, moet dit jou nie keer om die leiding te neem en vir jou en jou gesin ’n beter toekoms te soek nie. Jy sal die verandering so moet aanpak dat dit nie jou en jou kinders se veiligheid bedreig nie.

Klop aan by ’n prokureur. Neem die nodige dokumente saam, soos ’n salarisstrokie van jou verhoudingsmaat, om te hoor hoeveel onderhoud jy vir jul kind sal kan kry as jy die man sou verlaat.

As jy nie genoeg onderhoud van die pa van jou ander twee kinders kry nie, vra die prokureur se raad. Dis beter om hoed in die hand by jou familie en vriende aan te klop vir blyplek of ’n lening tot jy werk kry as om langer die misbruik te aanvaar.

Wanneer jy meer sekerheid hieroor het, lig ’n vertroueling in wanneer jy beplan om vir jou maat te sê jy verlaat hom. Die vertroueling kan selfs teenwoordig wees. Voer hierdie gesprek terwyl die kinders iewers anders in veilige sorg is.

Hy sal jou dalk weer die hemel en aarde belowe, jou met ydele beloftes probeer keer om hom te verlaat of jou selfs dreig. Jy sal dapper genoeg moet wees om die eerste stap na ’n beter toekoms te neem, al moet jy ’n beskermingsbevel kry.

Net ’n vriend, maar jaloers

VRAAG

Ek het ’n oulike ou ontmoet. Daar is ’n groot ouderdomsverskil tussen ons, maar ons deel baie belangstellings. Dis al ses maande dat ons so een keer per week uitgaan. Ons is albei hardkoppig en dan baklei ons.

Hy dink dis genoeg rede dat ons nie ’n paartjie moet wees nie. Ek gaan ook saam met ander mans uit, maar hulle is net vriende. Ek en die eerste ou is soms intiem. Hy is jaloers wanneer ek saam met ander mans uitgaan. Dink jy dis reg?

DG op XL

ANTWOORD

Dié man stuur gemengde seine uit. Hy wil nie met jou ’n verhouding hê nie, maar tree op soos iemand in ’n verhouding en wil die dinge doen wat mense in verhoudings doen. Hy dink aan jou as “syne”, maar sonder dat hy enige verbintenis gemaak het; daarom is hy jaloers. Baie mans is bang vir die verwagtings wat rondom verhoudings kan ontstaan.

Hulle maak dit dan vroeg duidelik ’n vriendskap met voordele is geen verhouding nie. Dis geen edele poging van sy kant om jou nie vals hoop te gee nie; dis bloot vir hom gerieflik om die beste van albei wêrelde te kry en dan later te sê hy het mos oop kaarte met jou gespeel. Gaan aan met jou lewe.

Jy wil ’n verhouding hê met iemand wat sal wys hoe hy oor jou voel en nie ’n halfhartige vriend wat jaloers raak wanneer dit hom pas nie. Dit is sy verlies. Miskien is daar iemand onder jou vriende wat lankal ’n ogie op jou het.

‘Jou ongeluk is ’n teken dat jul verhouding lankal by omdraai verby is’ – elize

Krap kop oor naamlose brief

VRAAG

Ek en my meisie gaan al ’n jaar uit. ’n Ruk gelede het ek ’n anonieme brief gemerk “Vertroulik” by my woonstel ontvang waarin staan sy het ’n ander verhouding. Ek het haar niks van die brief vertel nie. Daarin staan ook sy en ’n goeie vriend van haar sien mekaar te veel. Ek glo dit nie, al het ek van die begin af nie hul vriendskap vertrou nie. Sy het nog altyd gesê dis alles net in my kop. Ek het haar woord aanvaar, maar nou twyfel ek.

BW (SMS)

ANTWOORD

Dalk is die briefskrywer haar vriend wat jul verhouding probeer opbreek. Dit kan ook iemand wees wat jou ’n guns wil bewys deur jou te waarsku. Tot dusver het jy geen bewyse om die aantygings te glo nie.

Jy sal hierdie probleem saam met haar moet oplos. As sy so ’n brief oor jou gekry het, sou jy tog wou gehad het sy moet dit met jou bespreek, of hoe? Gebruik dit as ’n geleentheid om met haar oor haar vriendskap met die ander man te praat en nuwe perke te stel oor wat vir jou aanvaarbaar is.

Wie moet strooimeisie wees?

VRAAG

Ek trou binnekort en het geen susters nie. Moet ek my toekomstige skoonsussie vra om my strooimeisie te wees?

CO (SMS)

ANTWOORD

Al gaan jul troudag eerstens oor julle twee as die gelukkige paartjie, is dit ’n dag wat jy dramavry en sonder enige kwade gevoelens wil hou. Dink mooi na oor hoe jul keuse die emosies op die troudag en jul toekomstige verhoudings gaan beïnvloed. Sal jou verloofde se familie afgehaal wees as jy nie jou aanstaande skoonsuster kies nie? En hoe gaan dit jou verhouding met jou skoonouers raak?

Bespreek dit deeglik met jou verloofde. Moenie haar vra om jou strooimeisie te wees as sy van die bakleierige soort is of werklik nie die tyd daarvoor het nie. In die laasgenoemde geval kan jy haar vra om ’n ander stresvrye troutaak te verrig. Geniet jou troudag!

Kontak ons
As jy ’n persoonlike probleem het, skryf gerus aan Liewe Elize, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of elize@huisgenoot.com. Of SMS LIEWE ELIZE gevolg deur jou vraag na 36489. Elke SMS kos R1