Jy soek iets, wil weet hoe om iets te doen of het hulp nodig. Dis maklik; gebruik net die app.

Dié sin het al amper ’n cliché-oplossing vir enige probleem onder die son geword, maar net meer as ’n dekade gelede sou dié drieletterwoordjie nog na brabbeltaal geklink het.

Apps is deesdae so deel van ons alledaagse lewe dat dit moeilik is om te glo dit is eintlik nog net sowat 10 jaar met ons. Die weer, gesondheid en fiksheid, kos, geldsake, vermaak, verkeer, noem maar op; jy kan ’n applikasie, oftewel ’n app, oor amper enigiets aflaai.

Apple het sy iStore in 2008 in die kuberruim bekendgestel en gebruikers toe tot 500 apps toegang gegee.

Vandag is honderdduisende apps beskikbaar, letterlik aan die vingerpunte van iPhone- en Android-gebruikers.

Wat is ná die eerste dekade sedert die app-revolusie die bestes onder die beste in die Apple App- en Google Play-winkel? Hier is 10 van die beste apps waarmee jy jou lewe kan verbeter, vereenvoudig en agtermekaar kry.

Bang jou brein raak verroes?

Elevate

Prys: 14 dae gratis toetslopie, dan R67 per maand

Dié app is in 2014 as Apple iPhone se app van die jaar aangewys.

Met sy 25 ingeboude speletjies wat ontwerp is om verskillende dele van die brein te oefen, is dit maklik om te sien waarom.

’n Gebruiker pak drie daaglikse uitdagings in die kategorieë skryf, lees, luister, praat en wiskunde aan. Die app volg jou prestasie, en hoe beter jy in die uitdagings vaar, hoe moeiliker raak die volgende vlak.

Kry stres jou onder?

Calm

Prys: Sewe dae gratis toetslopie, dan R53 per maand

Visualiseer ’n kristalhelder, borrelende stroompie of ’n warm, sanderige strand.

Met Calm hoef jy jou dit nie meer te verbeel nie. Wanneer jy minder gespanne of angstig wil voel, kan jy bloot jou app aansit en daarin verlore raak.

Die meditasie-en-bewustelikheid-app is die ideale manier vir beginners om meditasie geleidelik onder die knie te kry. Dit bestaan onder meer uit begeleide sessies van 10 minute lank wat jou help om sewe dae per week rustiger te raak.

Nadat jy die app afgelaai het, kies jy jou hoofdoelwit, hetsy jy wil beter slaap, angs en stres wil verminder of bewusteliker wil leef. Die tuisblad sluit ’n inleiding tot meditasie in, asook ’n Daily Calm-afdeling.

Dit bestaan uit meer as 100 begeleide meditasies, musiek om jou te help fokus en slaapstories.

Jy oefen ook jou asemhaling terwyl jy na kalmerende musiek of natuurklanke luister.

Dis die ideale manier vir beginners om meditasie onder die knie te kry

Skielik honger?

MR D

Prys: Gratis

Die Mr Delivery-diens is al jare lank in Suid-Afrika beskikbaar en hul app word ál gewilder.

Jy word gevra om in te teken en jou adres in te tik sodat die app ’n lys van restaurante of kitskosplekke naby jou kan opstel. Dan moet jy net die soort kos soek waarvoor jy lus is en ’n gereg op die spyskaart in die app kies.

Wanneer die restaurant die bestelling aanvaar het, kan jy sien hoe lank dit sal neem voor jou kos aankom en hoe ver die personeel met die bereiding is.

Die afwagting bou op terwyl jy wag dat die “We’re coming for you”-borrel blou raak. Jy kan ook as deel van die bestelling in die app vir die bestuurder ’n footjie gee.

Kies ’n gereg op die spyskaart en jy sal sien hoe lank dit sal neem

Uitgelewer aan jou hormone?

Period Diary 

Prys: Gratis

Die app is nuttig vir vroue wat met die patrone in hul menstruele siklus wil tred hou.

Dit herinner jou ook wanneer jou maandstonde veronderstel is om te begin. Die app, wat diskreet as PD op jou tuisskerm gebêre word, is nuttig om aan te dui wanneer jy op jou vrugbaarste is en op watter dae ovulasie sal plaasvind.

Dit maak dit ideaal as jy probeer swanger raak. Met die app kan jy aanteken hoe jy gevoel het op die dae van jou maandstonde, asook enige premenstruele simptome wat jy dalk gehad het.

’n Mens het ook ’n opsie waar jy kan aanteken op watter dae jy seks gehad het.

Moeg weens jou kinders se vol program?

Live Connected

Prys: Gratis

Dit verg ’n dorp om ’n kind groot te maak, of hoe? Met dié plaaslike app kan jy jou eie “dorp” skep.

Dit is ontwikkel om ouers hul kinders se roosters te help reël deur ’n “dorpie” te skep van mense wat ’n belangrike rol in hul spruite se lewe speel.

Nadat hulle die app gratis afgelaai het, kan ouers hul dorp bou deur mense soos familielede, vriende, kinderoppassers en motorbestuurders te nooi om dit af te laai.

Wanneer jy al die relevante kontakte bygevoeg het, kan jy roosters skep en met hulle deel en vra dat hulle met op- of aflaai en speelgroepe help of geleenthede soos skoolkonserte en rugbywedstryde bywoon.

Jy kan ook jou kinders se mylpale deel. Dis ’n wonderlike app wat daarop gemik is om ’n gevoel van gemeenskap en geborgenheid tussen familie en vriende te skep.

Agter met jou ‘admin’?

Hey Jude

Prys: Gratis vir die eerste drie versoeke, dan R200 per maand

Het jy ’n bedrywige lewe omdat jy met ’n klomp dinge moet tred hou? Hey Jude kan jou help.

Dit is ’n virtuele assistent wat vra dat jy laai wat jy nodig het (hetsy deur tik- of steminvoer) en jou dan help om dit te vind, ook die prys.

Byvoorbeeld: “Ek is vir die dag in Johannesburg. Kan jy asseblief vir my twee kaartjies vir ’n vertoning in die Markteater bespreek?”

Die app sal dan jou kaartjies bespreek, vir jou die prys sê en selfs vir jou ’n skakel stuur om deur die app vir die kaartjies te betaal.

Om dit te benut, moet jy jou kredietkaart aan die app verbind.

Hoop jou rekenings op?

Walletdoc

Prys: Gratis

Die app verdeel jou rekenings in kategorieë van “betaal”, “onbetaal” of “geskeduleer vir betaling”.

Nadat jy die app afgelaai het, sal jy ’n Walletdoc-e-posadres ontvang wat jy aan jou gewone e-posadres kan verbind en wat jou rekenings direk na die app stuur.

Jy sal dan ’n kennisgewing van die app kry sodra ’n rekening aankom en wanneer dit betaalbaar is. Jy kan ook jou kaartbesonderhede op Walletdoc invul en rekenings direk deur die app betaal.

Die app voldoen aan die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting.

Op soek na ’n rygeleentheid?

Taxify

Prys: Gratis

Die app is ’n goeie plaaslike alternatief vir Uber en werk op dieselfde manier deur Geolocation te gebruik om jou aan die naaste bestuurder te verbind.

Dit gee jou ook ’n raming van wanneer jou rygeleentheid by jou sal aankom.

Hoewel jy dalk ’n bietjie langer moet wag as wat jy vir ’n Uber-bestuurder sou wag, is die Taxify-diens, waarvoor jy met die aankoms kontant kan betaal, gewoonlik goedkoper as Uber.

Wil jy fiks word?

Nike Training Club

Prys: Gratis

Die app is gemik op mense wat wil fiks raak of hul fiksheidsvlakke wil verbeter.

Jy begin deur aan te dui wat jou geslag, huidige fiksheidsvlak en mikpunt is.

Dit sal die app oefenprogramme help saamstel wat by jou persoonlike behoeftes en doelwitte pas.

Nadat jy jou fiksheidsvlak gekies het, kan jy op die oefenprogram van 15, 30 of 45 minute begin terwyl die For You-ikoon voorstel wat die beste vir jou behoeftes sal werk.

Onder die My Plan-ikoon kan jy kies of jy die Start Up van vier weke, die Lean Fit-plan van ses weke, die Bodyweight Only-program van vier weke of die vollyf-Gym Strong-program van agt weke wil doen.

Die app stel jou ook in staat om deur Facebook met vriende te skakel sodat julle kan deel watter oefeninge julle gedoen het en mekaar kan aanmoedig.

Lus vir ontvlugting?

Temple Run 2

Prys: Gratis, maar opsionele aankope in die app bestaan wat by R13,99 begin

Temple Run 2, wat deur Indiana Jones geïnspireer is, is ’n aksiebelaaide opvolg van die Temple Run-speletjie.

Spelers hardloop deur ’n woud in ’n poging om van ’n verwoede, aapagtige skepsel te ontsnap terwyl hulle algaande munte en snuisterye versamel.

Jy kan ook nuwe karakters met verskillende vaardighede ontsluit en jy sal jou reflekse moet slyp as jy suksesvol wil wees.