Van jou huis tot jou tuin - Engelse sout is 'n wondermiddel wat jy in jou daaglikse lewe kan gebruik.

Wat is Engelse sout? 

Engelse sout, oftewel epsom- of bittersout, is 'n suiwer minerale verbinding gemaak van magnesium en sulfaat.

Dié minerale, wat natuurlik voorkom, het talle voordele en jy kan dit byna oral waar jy items vir persoonlike versorging, insluitend kruidenierswinkels, apteke en gewilde aanlyn handelaars, vind.

Dit is ook bekostigbaar, maklik om te gebruik en onskadelik, mits dit op die regte manier gebruik word.

Wees versigtig: Dit is 'n sterk lakseermiddel en is dus nie 'n aanvulling wat jy inwendig moet inneem sonder 'n dokter se aanbeveling nie. Pleks daarvan word dié mineraal transdermaal (deur die vel) opgeneem.

Gesondheid

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ getty Images

1. Ontspannende bad

Engelse sout word sedert dit die eerste keer by 'n soutwaterbron in Epsom, Engeland, ontdek is, by badwater gevoeg. Die hoë magnesiuminhoud verlig pyn en ontsteking wanneer jy in so 'n bad week. Dit help met die behandeling van seer spiere, asma en hoofpyn. 

Wat om te doen

Voeg 'n koppie epsomsout in 'n warm bad en week 20 minute. Jy kan ook 'n druppel of twee van laventel- eteriese olie byvoeg, wat 'n heerlike geur gee en ontspannend is. 

Indien jy lae bloeddruk het, is dit belangrik dat jy eers by jou dokter hoor of dit gepas is vir jou. Warm water kan 'n mens se bloeddruk tydelik verlaag. 

2. Splinterverwydering

Met kinders wat alewig bome klim en kaalvoet rondhardloop, is splinters 'n alledaagse kopseer. 

Week die voet in 'n oplossing van warm water en Engelse sout. Dit maak dit soveel makliker om die splinter te verwyder (en dit help ook om die pyn te verlig).

Wat om te doen

Meng 'n ? koppie Engelse sout met 1 koppie warm water en roer tot dit heeltemal opgelos is. Week die aangetaste liggaamsdeel minstens 10 minute en verwyder die splinter versigtig met 'n tangetjie of naald. As die splinter groot is, diep sit, die vel bloei, of dit kom bloot nie uit nie, besoek dan liewer 'n dokter.

3. Vergemaklik die ongemak van jig

Verlig die ongemak van jig en verminder inflammasie deur 2-3 teelepels Engelse sout in 'n wasbak of skotteltjie vol water te voeg en die aangetaste voet of gewrig daarin te dompel.

Die water moet so warm wees as wat dit vir jou gemaklik is. Week ongeveer 30 minute.

4. Verminder voetreuk

'n Epsom-voetbad is 'n goeie manier om van 'n onaangename voetreuk ontslae te raak ná 'n lang dag op jou voete. Dit help om die voet skoon en sonder bakterieë te hou.

Wat om te doen
  • Vul 'n wasbak of voetbad met genoeg warm water om jou voete tot by die enkels te bedek.
  • Voeg die helfte of ¾ van 'n koppie epsomsout by die water.
  • Plaas jou voete ongeveer 20 tot 30 minute in die oplossing.
  • Droog jou voete deeglik af daarna, en bevogtig dit met lyfroom.

Let wel: 'n Engelse soutbad kan jou voete uitdroog, dus is dit nie ideaal om dit elke aand te doen nie. Doen dit liefs een of twee keer per week.

Skoonheid

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

1. Gee jou hare meer volume

Weens die hoë inhoud van magnesium in Engelse sout, kan dit gebruik word om jou hare te versterk en meer volume te gee. 

Wat om te doen

Meng gelyke dele natuurlike opknapper en Engelse sout en vryf dit in jou hare nadat jy dit soos gewoonlik met sjampoe gewas het. Laat staan tot 20 minute. Spoel goed en droog af.

2. Verligting vir jeukerige vel

Engelse sout kan help om 'n vel te verlig wat jeuk of verbrand het. Dit sluit muskietbyte, bysteek en ligte sonbrand in. 

Wat om te doen

Meng 'n bietjie Engelse sout met warm water (twee eetlepels per koppie water) en roer tot dit opgelos is. Week 'n skoon katoenwaslap in die water, wring dit liggies en plaas 5 minute op die aangetaste vel.

3. Gesigwas

Vullis en bakterieë verstop porieë in die vel. Maar jy kan Engelse sout gebruik om swartkoppies te verhoed en 'n gesonde vel met Engelse sout kry. Gebruik dit saam met jou gesigwas. Neem in ag dat velsoorte verskil en almal nie noodwendig die voordele sal ervaar nie. 

Wat om te doen 

Net ½ teelepel (2,5 g) is genoeg. Meng dit met jou eie reinigingsroom en masseer in die vel in.

Huis en tuin

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

1. Kweek beter groente

Engelse sout kan gebruik word om 'n groentetuin te verbeter. Voeg bloot 'n paar keer deur die jaar 'n bietjie by 'n plant om dit te help groei. Dit werk veral goed vir tamatieplante.

Wat om te doen

Sprinkel 'n eetlepel Engelse sout aan die basis van 'n plant nadat dit tot sowat 30 cm gegroei het. 

2. Teëls skoonmaak

Vir 'n maklike, bekostigbare en doeltreffende teëlskoonmaker, meng gelyke dele van jou opwasmiddel en Engelse sout. Wend die mengsel aan die kombuis- of badkamerteëls aan, skrop en spoel af. 

3. Skoon potte en panne

Skuur potte en panne met ¼ eetlepel Engelse sout en 'n bietjie water om verbrande voedsel of taai vlekke maklik te verwyder. Spoel en laat dit droog word. Siedaar, jou skottelgoednagmerrie is verby. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe