Maar die hartseer werklikheid is dat miljoene elke jaar sterf of agtergelaat word wanneer eienaars belangstelling verloor of besef hulle kan nie behoorlik na hulle kyk nie.

“Hasies is wonderlike troeteldiere as jy weet hoe om hulle te versorg,” sê Leon Erasmus van RabbitCare SA.

“Hulle is intelligent en sosiaal en raak baie verknog aan hul eienaar – en as daar behoorlik na hulle gekyk word, kan hulle tot 12 jaar leef.”

’n Eenvoudige gids tot versorging

1. Hasies is uiters sosiale diere, en dit is dus die beste om twee te kry. Neem die verskillende persoonlikhede van die geslagte in ag. Mannetjies is meer ontspanne en onderdanig en wyfies meer baasspelerig.

Om teling, gedragsprobleme en aggressie te vermy, moet jy hulle laat kastreer of steriliseer.

2. Tagtig persent van hul dieet moet uit hooigras (nie strooi of lusern nie) bestaan, 10% moet groente en kruie (wat veilig is vir hasies) wees en 10% hoëveselpilletjies (die veselinhoud moet nooit minder as 18% wees nie), is Leon se aanbeveling.

Pilletjies moenie die enigste kos wees nie. Vars, plaagdodervrye gras van jou grasperk is uitstekende kos. Moet nooit stukkies gebruik wat met die grassnyer gesny is nie.

Die hitte van die lemme en die snyproses veroorsaak veranderings aan die gras wat maak dat dit vinniger fermenteer en jou hasie vatbaar vir ’n omgekrapte maag maak. Trek gras uit of sny dit met ’n skêr, of laat die dier in ’n veilige deel aan die gras knibbel.

3. Hasies hou van teug aan water, en ’n waterbak is dus meer natuurlik om van te drink as ’n waterbottel. Maak seker hy het 24 uur per dag water.

4. Hulle benodig skuiling en die kans om vrylik rond te hardloop, en hulle het dus ’n hok met ruimte nodig waar hulle buite kan hardloop. Die hok is geskik as die hasie die volgende in die hok kan doen: Hy moet in staat wees om drie keer in enige rigting te kan hop, regop kan staan sonder dat die ore aan enigiets raak en ten volle kan uitstrek wanneer hulle lê. Moenie ’n hok met ’n draadvloer kry nie, want dit kan hul pote sny. Hasies benodig drie uur se vry rondloop onder toesig per dag. Hulle moet ook kan grawe.

5. Hasies is delikate wesens en kan van ’n hartaanval sterf as ’n roofdier hulle nader, selfs al is hulle in ’n hok. Hulle hou van ’n donker ruimte waarheen hulle kan ontsnap. ’n Onderstebo kartonboks wat in die hok geplaas word, is ’n ideale oplossing.

6. Weerstaan die drang om die dier op te tel. “Hulle voel gemakliker op die grond,” sê Leon.

Hul bene is ook broos, en hulle kan maklik hul ruggraat beskadig as hulle probeer wegkom nadat hulle opgetel is. Moet nooit ’n hasie aan die ore optel nie.”

7. Hasies en kinders onder 10 jaar is nie ’n goeie idee nie omdat kinders dikwels nie oor die selfdissipline beskik om te hou by die daaglikse roetine wat nodig is om hulle te versorg nie. “Die primêre versorger moet altyd ’n volwassene wees,” sê hy.

8. Hasies is minder van ’n allergeen as honde of katte en baie skoon. Enige allergieë wat hulle veroorsaak, sal van die hooi wees en nie hul pels nie. Hulle moet nooit gebad word nie.

9. ’n Veearts sal ’n beseerde hasie behandel, maar indien ’n toestand gespesialiseerde tegnieke of medikasie benodig, sal jy by ’n spesialisveearts moet aanklop.

10. Moet nooit ’n hasie as geskenk koop nie – neem een aan eerder as om dit te koop. Daar is talle skuilings in Suid-Afrika wat pragtige hasies het wie se eienaars hulle verlaat het. 

HET JY GEWEET?

  • Hasies is nie knaagdiere nie, maar “lagomorpha”. Hulle het ’n ekstra paar snytande en ander skeleteienskappe. Hulle word ook as eksotiese troeteldiere geklassifiseer.
  • Algemene rasse sluit in die Nieu-Seelandse withaas, chinchillakonyn, Kaliforniese haas, himalajahaas, angorakonyn en die gewilde Nederlandse hasie (ook bekend as ’n hollander).
RabbitCare SA

Besoek dié webtuiste vir artikels en kruiemiddels: www.rabbitcaresouthafrica.org

Hul Facebookblad vir algemene inligting en wenke: www.facebook.com/rabbitcare.southafrica Of volg hulle op Twitter: twitter.com/RabbitCareSA