Baie van ons het die jaar met nuwe doelwitte begin. Hoekom dit nie ook na jou troeteldiere uitbrei nie?

Net soos ons kan hulle by verbeterings baat vind, veral wat hul algehele gesondheid betref. Maar hulle kan nie hul eie voor­nemens maak nie en dit is waar jy as eienaar moet intree.

1. Belê in voedsamer kos

’n Mens trap maklik in die strik van goedkoper troeteldierkos koop (geld is immers skraps), maar op die duur bied die meeste van dié kosse min tot geen voedingswaarde en is dit dalk selfs nadelig vir jou troeteldier se langtermyngesondheid.

Doen jou troeteldiere ’n guns deur in ’n produk van beter gehalte te belê – jy sal gou die verskil in hul pels en energievlakke sien.

2. Staak vetsug

As jy jou blind gehou het vir die ekstra rolletjies aan jou troeteldier se lyf, moet jy nou dadelik jou oë oopmaak.

Troeteldiervetsug is deesdae ’n groot probleem omdat eienaars vir hul troetel­diere te veel kos gee en vir hulle vetryke peuselhappies en oor­skiet van die tafel af voer.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Ongelukkig is dit die dier wat op die ou end swaarkry, want vetsug kan tot ’n verkorte lewensduur en vele gewigsverwante siektes lei. Vra vir jou veearts ’n verslankingsprogram as jou dier oorgewig is.

3. Stap meer

Mik daarna om een keer per dag met jou hond te gaan stap. Die voordele is eindeloos – van hul gewig in toom hou tot verveling verlig.

“Dis ook ’n goeie manier om met jou hond ’n band te smee en ’n lekker bonus dat dit vir ons as mense ook gesond is,” sê Kristi Benson, ’n hondeafrigter van Kanada.

4. Raak kreatief met oefening

Stap is goed, maar as jy ’n hond of hondjie het wat van ’n bietjie meer stimulering hou, beproef ander vorme van oefening soos ratsheids-
afrigting.

Skryf hulle vir klasse in; dalk neem julle binnekort aan kom-
pe­tisies deel. Op ’n kleiner skaal kan jy vir jou hond ’n oulike nuwe toertjie of twee probeer leer.

5. Speel met jou kat

Almal weet honde hou van speel, maar min troeteldiereienaars besef hoe belangrik speel vir katte is. Staan tyd af om met jou kat te speel. Dit kweek nie net ’n band met hulle nie; dit gee hulle ook oefening en verminder vele gedragsprobleme.

“Dit kan veeleisende gedrag verminder, vertroue by skamer katte versterk en positiewe ?gevoelens tussen katte in huishoudings met meer as een kat ?bevorder,” sê Jessica Char, ’n Amerikaanse konsultant oor katgedrag.

6. Versorg hulle meer

Probeer jou hond se tande een keer per week skoonmaak. Dit sal nie net die hondeasem verlig nie, maar ook hul tande langer gesond hou.

Dieselfde geld vir borsel – mik daarna om jou hond of kat een keer per week te borsel – of, beter nog, bederf hulle met ’n ?sessie by ’n versorgingsalon.

7. Koop bosluis- en vlooibehandeling

Moenie bosluis- en vlooibehandeling nalaat nie – die hele gesin sal jou daarvoor bedank.

8. Kry troeteldierversekering

Dit klink dalk na ’n onnodige uitgawe, maar as jou troeteldier in die 24-uur-noodsorg-dierehospitaal beland, sal jy dankbaar wees daarvoor.

9. Bespreek ’n ondersoek

Bespreek ’n jaarlikse ondersoek by die veearts al lyk jou troeteldier gesond.

“Baie mediese toestande soos diabetes, artritis en vetsug is algemeen onder bejaarde troeteldiere en veel makliker om te be-?stuur as dit vroeg gediagnoseer word,” sê die Amerikaanse veearts dr. Jessica Vogelsang. 

10. Stap vir liefdadigheid

Neem aan liefdadigheidsgeleenthede vir minderbevoorregte diere deel. Doen jaarliks minstens een staptog ten bate van hondeliefdadigheid. Of borg ?’n dier in nood vir ’n jaar. 

Ekstra bron: petmd.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.