Steek 'n vuurtjie aan, gooi iets op die rooster en beproef ons nuttige wenke vir 'n eersteklas-ervaring.

1. Lekker geur

Gooi takkies vars kruie soos roosmaryn, salie of tiemie op die vuur. Dit sal die vleis 'n rokerige kruiegeur gee en die lug heerlik laat ruik.

2. Vermy skoonmaak-kopseer

Lief vir braai, maar minder lief vir skoonmaak? Steek 'n vars gehalveerde ui aan 'n braaivurk en gebruik die snykant om vet en vuilheid van die rooster af te skrop terwyl dit nog warm is. Die olies en sure in die ui sal die meeste – indien nie alles nie – van die vullis verwyder sonder dat jy te veel hoef te sweet.

3. Kry jy vegetariërs vir ete? 

Geur 'n paar groentes (soos sampioene, stukke murgpampoen, mielies en patat) met knoffel, sout en peper, vou dit in foelie toe en braai dit 5-10 min. oor die kole.

4. Keer dat jou vleis uitdroog

Maak 'n twee-sone-rooster in 'n japtrap deur net onder die een kant van jou braaier kole te sit sodat jy bloot die vleis na die ander kant van die rooster kan skuif wanneer dit gaar is. Dit sal die vleis warm hou sonder dat dit uitdroog terwyl jy die res van die vleis braai.

5. Kry jou vleis vinniger gaar

Maak so as jou tyd min en jou gaste al amper by die voordeur is: Plaas die vleis in die mikrogolfoond tot dit amper gaar is en braai dit dan later om dit gaar te maak en 'n lekker braaigeur te kry. Ons belowe ons sal vir niemand sê nie!

6. Appelsap bo

Terwyl jy die vleis braai, spuit suiwer appelsap daaroor om die kleur, geur en sagtheid te verbeter.

7. Kookolie op die rooster

Voor jy begin braai, doop 'n opgebondelde kombuispapier in 'n bietjie kookolie en gebruik 'n tang om die olie egalig oor die rooster te vee. Dié truuk sal die kos help gaar word en ook keer dat jou kos vassit. Gebruik knoffelgegeurde olie vir nog ekstra geur.

8. Braai jy vis? 

Lê dit op 'n bed suurlemoen- of lemmetjieskywe neer. Die skywe sal keer dat die vis aan die rooster vassit en dit ’n heerlike sitrus­smaak gee.

9. Keer dat burgerkoekies droog braai

Hier is ’n slim wenk van die Amerikaanse MasterChef-beoordelaar Graham Elliot om te keer dat burgerkoekies te droog braai: “Maak jou koekies en plaas dan 'n klein ysblokkie in die middel. Die ys hou die vleis klam terwyl jy dit braai en keer dat dit uitdroog.”

10. Minder skottelgoed

Pleks van verskeie borde vir al jou souse en bygeregte te gebruik en 'n berg skottelgoed later te moet was, sit dit in 'n muffinpan voor. Plaas bloot bykos – soos uieringe, tamatieskywe en piekels – en souse in die holtes.

Maak 'n heerlike piesangboot op die kole

Is jy lus vir iets anders as geroosterde malvalekkers vir 'n soetigheid oor die kole? Trakteer jou gaste met dié eenvoudige nagereg; dit maak ook amper geen skottelgoed vuil nie. 

Stap 1: Sny met'n mes 'n gleuf in die middel van 'n ongeskilde piesang. 

Stap 2: Vul die holte met stukke sjokolade (jy kan ook neute of lekkers byvoeg). 

Stap 3: Plaas die piesang op die rooster – in foelie toegedraai of net so. As dit in foelie toegedraai is, los dit 20 min. op. Indien nie, gee dit 10 min. Eet dit net so uit die skil terwyl dit nog warm is. 

Kom neem deel aan die gesprek

 Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe