Hulle is altyd op soek na ’n geleentheid om jou en jou hardverdiende geld en besittings van mekaar te skei.

Vakansiegangers moet waaksaam te wees, veral wanneer hulle ’n gunsteling-“inkopiesentrum” vir misdadigers, die strand, besoek.

“Selfone, tabletrekenaars, kameras, beursies, juwele, sonbrille en selfs bykomstighede soos strandstoele en sambrele is waardevolle buit vir misdadigers wat ’n vinnige geldjie wil maak,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

“Dit kan daartoe lei dat jou vakansie binne ’n japtrap van vrolik in vrot verander.”

Foto: pixabay.com

Wenke om te help keer dat jy ’n slagoffer word

Net die nodigste

Neem net dit saam wat jy nodig het. Moenie ’n beursie met jou kredietkaart en kontant, of jou hele handsak met ander waardevolle besittings en dokumente saamneem nie, dalk net R200 of so, saam met die basiese strandbykomstighede.

Sluit toe

Maak gebruik van die openbare kluise wat by talle gewilde vakansie-uitspanplekke beskikbaar is.

Ligging, ligging, ligging

Kies ’n plekkie wat naby aan die lewensredders of strandpatrollie is, aangesien dit as afskrikmiddel vir misdadigers kan dien. Wanneer jy strand toe ry, parkeer jou motor in ’n gebied wat veilig bewaak word.

Muizenberg. Foto: SA Tourism (flickr.com)

Wees op die uitkyk

Hou jou besittings te alle tye onder oë; nooit weggebêre onder jou stoel of agter jou nie.

Moenie “adverteer” nie

Moenie jou besittings oop en bloot, of in ’n sak wat nie behoorlik toe is, laat nie.

Foto: maxpixel.com

Hou jou besittings geselskap

Moet nooit waardevolle items sonder toesig laat nie.

Rus jouself toe

Belê in teendiefstal-strandsakke, toestelle soos die Beach Vault of ’n waterdigte sakkie wat jy saam met jou in die water kan neem.

Swem in skofte

Neem beurte om in die water in te gaan, sodat iemand altyd daar is om ’n ogie oor jou besittings te hou.

Foto: pixabay.com

Vreemdelinge

Wees versigtig vir vreemdelinge wat gou ’n geselsie aanknoop. Hulle kan dalk probeer om jou aandag af te lei terwyl jou besittings agter jou rug gesteel word.

Vriendskapsversoek

Leer die mense wat naby jou sit ken, sodat jy weet wie hulle is en hulle met vertroue kan vra om ’n ogie oor jou besittings te hou indien nodig, en ook sodat jy weet wanneer iemand wat by hul besittings rondhang, nie daar hoort nie.

Foto: SA Tourism (flickr.com)

“Baie Suid-Afrikaners sien daarna uit om net vir ’n rukkie af te skakel, maar dis noodsaaklik om altyd op jou hoede te bly, of jy nou op die strand, die rivieroewer of elders is,” sluit Twilley af.

“Ingeval misdaad dié vakansietyd wel sy kloue in jou insink, is dit wys om voldoende draagbare goedereversekering te hê sodat jy sommer spoedig weer aan die gang kan kom.”