Raak jy gereeld ontslae van kos wat oud geword het? Indien wel, dra jy nie net tot die wêreldwye probleem van voedselvermorsing by nie; jy gooi ook ’n groot deel van jou swaar verdiende inkomste in die drom.

Terloops, sowat ’n derde van kos wat vir menslike verbruik vervaardig word, word elke jaar weggegooi, sê die Verenigde Nasies.

Hier is nuttige wenke om jou kos langer vars te hou.

1. Vrugte wat baie etileengas uitskei (soos appels en piesangs), laat ander vrugte gouer ryp word. Bêre altyd verskillende soorte vrugte apart, hetsy in hul eie laai in die yskas of op aparte plekke op jou toonbank.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

2. Onseker oor wat om met oorskietblaarslaai te doen? Plaas die blare in ’n houer saam met ’n paar velle kombuispapier. Die papier absorbeer die vog en verseker dat die blare nie pap raak nie.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

3. Om vars kruie in die yskas te bêre in dieselfde plastiekverpakking waarin jy dit gekoop het, kan tot ’n pappery lei. Behandel eerder jou kruie soos ’n vars bos blomme – plaas dit in ’n glas of flessie water op die vensterbank.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

4. As jy net die helfte van ’n avokado vir jou roosterbrood of slaai benodig, bedek die ander helfte met suurlemoensap of olyfolie. Albei beskerm die avokado teen oksidasie en verhoed dat dit verbruin.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

5. As jy weer seldery koop, verruil die oorspronklike plastiekverpakking vir foelie; dit laat die gas wat die stingels kan bederf uit sodat die seldery langer vars en bros bly.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

6. Draai die stingels van piesangs toe met kleefplastiek en haal dit eers af wanneer jy reg is om een te eet. Dit verleng die piesangs se rakleeftyd met drie tot vyf dae.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

7. Om te verhoed dat bessies muf raak, was dit met ’n mengsel wat bestaan uit een deel asyn en drie dele water. Laat dit dan deeglik droog word. Die asyn raak ontslae van enige muwwerigheid of bakterieë voor die bessies in die yskas gebêre word.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

8. Die beste manier om te keer dat aartappels uitloop, is om ’n appel in die sak te plaas. Appels vervaardig etileengas, wat aartappels vars en ferm hou.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

9. Haal af die stingels. Wortels en beet lyk dalk mooi met hul blare aan, maar die blare van wortelgroente stroop hul voedingstowwe nadat dit gepluk is. Deur die groen dele te verwyder bly die eetbare dele langer vars.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

10. Die beste manier om jou sampioene te bêre? ’n Bruin papiersak. Wanneer vog uit die swamme verdamp, absorbeer die papiersak dit pleks van dat dit agterbly en die sampioene pap maak.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

11. Komkommers en tamaties vaar beter by kamertemperatuur. Komkommers raak waterig in ’n koue temperatuur en tamaties verloor hul smaak.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com

12. Dit lyk dalk mooi in ’n bak op jou toonbank, maar die beste manier om te keer dat suur­lemoene muf of uitdroog, is om dit in ’n verseëlde plastiek­sak in die yskas te bêre.

Foto: pexels.com
Foto: pexels.com
BRONNE: GREATIST.COM, SELF.COM, FOOD52.COM, LIFEHACKER.COM, COSMOPOLITAN. COM, GARDENISTA.COM, THEKITCHN.COM
ONS DOEN ONS BES OM GOEIE RAAD SAAM TE STEL, MAAR JY BEPROEF DIÉ WENKE OP JOU EIE RISIKO. HUISGENOOT AANVAAR NIE VERANTWOORDELIKHEID VIR ENIGE SKADE OF BESERING WAT DAARDEUR VEROORSAAK IS NIE.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.