Ons word deesdae toegegooi met allerlei raad – in boeke, op televisie en aanlyn – en dis moeilik om te weet wat werk en wat nie. In dié laaste aflewering van ons reeks met blink planne deel ons 12 wenke wat wérk – vir als van splinters verwyder tot koper poets.

1. VERWYDER TAAIHEID MET OLIE

blink planne, life hacks
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Smeer ’n bietjie olyfolie aan ’n sagte lap en vryf liggies oor ’n taai kol – of dit nou vanweë ’n etiket op ’n glasbottel of ’n pleister op jou vel is. Die taaiheid sal in ’n japtrap afkom.

2. HOU EIERS LANGER VARS

Rou eiers behoort geëet te word binne vier tot vyf weke nadat dit gelê is, maar daar is ’n eeue oue metode om eiers langer vars te hou. Plaas die eiers in ’n boks of blik en bedek dit met droë sout. Bêre dit op ’n koel, droë plek.

3. STOF PLAFONWAAIERS MET ’N KUSSINGSLOOP AF

blink planne, life hacks
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Trek die hele kussingsloop oor die waaierlem en trek die kussingsloop terug om die stof af te vee.

4. VERWYDER ’N SPLINTER MAKLIK

Vul ’n wyebekbottel met warm water en druk die deel met die splinter styf teen die bek van die bottel. Die suigmetode doen twee dinge: Die stoom van die warm water maak die vel se porieë oop en die bottel skep ’n vakuum wat die splinter uitsuig.

5. DOOD ONKRUID MET KOOKWATER

blink planne, life hacks
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wil jy van die onkruid in die krake van jou paadjies en oprit ontslae raak? Al wat jy nodig het, is kookwater. Voeg ’n eetlepel sout by om dit nog beter te laat werk.

6. STEEK ’N VUURHOUTJIE IN DIE WIND AAN

Voor jy die vuurhoutjie trek, sny dun skaafsels van die vuurhoutjiestokkie na die trekkant toe af. Wanneer jy dit trek, sal die opgekrulde stroke dadelik aan die brand slaan. Die vlam is sterker en het ’n groter kans om in die wind te bly brand.

7. VRYF SILWER MET TANDEPASTA BLINK

blink planne, life hacks
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Het jy nie silwerpolitoer byderhand nie? Gebruik eenvoudig tandepasta. Vryf dit met ’n sagte lap aan die silwerware, spoel en droog af.

8. MAAK JOU PLANTE NAT TERWYL JY MET VAKANSIE IS

Vul ’n groot houer (’n emmer of kastrol) met water en sorg dat dit effens hoër as die vlak van die plante staan. Vleg dan twee of drie stringe wol lossies saam, druk dit heeltemal in die water en plaas die een punt in die houer (met ’n gewig aan sodat dit aan die bodem raak).

Begrawe die ander punt in die grond van jou plant. (Gebruik ’n aparte vlegsel wol vir elke plant.) Die wol sal klam bly en jou plante van vogtigheid voorsien.

9. POETS KOPER MET TAMATIESOUS

blink planne, life hacks
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Het jy nie duur koperreiniger in die huis nie? Plaas ’n skeut tamatiesous op ’n lap, strooi sout bo-oor, vryf die mengsel oor jou koperpotte of -bekers en spoel af.

10. KRY TWEE GLASE LOS VAN MEKAAR

blink planne, life hacks
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wanneer twee glase in mekaar vassit, kan dit ontsettend moeilik wees om dit te probeer uitmekaarkry. Die eenvoudigste en doeltreffendste manier om dit te doen is om koue water in die boonste een te gooi en die onderste een in warm water te laat sak. Die glase sal dadelik loskom.

11. KOOK ’N GEKRAAKTE EIER

blink planne, life hacks
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Voeg ’n skeut asyn by die water in die kastrol en laat sak die eier versigtig tot op die bodem. Asyn laat die proteïen in die eierwit vinniger stol en maak dat die krake toegestop word.

12. VERKWIK VERLEPTE BLOMME

blink planne, life hacks
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dompel die blomstele in warm water en los dit daar tot die water afgekoel het. Bloemiste plaas nuwe versendings snyblomme in vase met water van 37-43 °C en sit dan die vase op ’n koel plek tot die stele met vog gevul het.

BRONNE: GOODHOUSEKEEPING.COM, BOREDPANDA.COM, CANYOUACTUALLY.COM, HOME-REMEDIES.WONDERHOWTO.COM, BURPEE.COM, EHOW.COM
  • Ons doen ons bes om goeie raad saam te stel, maar jy beproef hierdie wenke op jou eie risiko. Huisgenoot aanvaar nie verantwoordelikheid vir enige skade of besering wat daardeur veroorsaak is nie.