Maar waaroor gaan al die bohaai?

Wanneer ons plastiek in ’n asblik weggooi, raak ons nie van die rommel ontslae nie. Dit word eerder verskuif na ’n ander plek waar dit heel moontlik die natuur en ons ekostelstels sal benadeel. 

In Suid-Afrika beland 84% van plastiekafval in die oseaan of in oorvol stortingsterreine. Dit neem honderde jare vir dié vullis om af te breek, en daar is toenemende kommer oor die gevare wat dit vir mense, diere en ons omgewing inhou.

Wanneer plastiek wel herwin kan word, is daar baie energie en water nodig om dit reg te kry. Jy help dus nie noodwending die omgewing deur herwinbare plastiek te gebruik nie . . . 

Maar ons is oral deur plastiek omring, en dit kan oorweldigend wees om te weet waar 'n mens kan begin as jy minder daarvan wil gebruik.

Hier is 'n paar eenvoudige maniere om jou plastiekafval – en die las wat dit op die omgewing plaas – te verminder.

1. Herbruikbare inkopiesakke

Jy het eintlik nie meer 'n verskoning om plastieksakke by die kasregister van jou toonbank te koop nie. Herbruikbare houers  van katoensakke tot mandjies – is oral beskikbaar om te koop. 

Dit kos wel meer as die plastieksakke, maar op die lang duur sal jy wel geld spaar. . . en jou plastiekverbruik verminder. 

Hou herbruikbare sakke in die kattebak van jou motor  so sal jy nie vergeet om dit saam te neem winkel toe nie. 

2. Hou op om plastiekwaterbottels te koop

Wanneer jy plastiekwaterbottels hergebruik laat dit mikro-deeltjies en gifstowwe vry in die water wat jy drink. Gebruik eerder 'n volhoubare glasbottel wat jou water skoon en sonder gifstowwe hou. Plastiekwaterbottels is 'n maklike teiken om afval te verminder. 

3. Bring jou eie beker

Wegneemkoffiekoppies is 'n enkelgebruik-plastiekitem, omdat die binneste voering en deksels van poliëtileen, 'n soort plastiek gemaak is, en jy dit weggooi wanneer jou wegneemkoffie op is. In teorie kan hierdie materiale herwin word, maar die meeste plekke het nie die infrastruktuur om dit te doen nie.

Wêreldwyd word jaarliks 100 miljard koppies weggegooi wat net een keer gebruik is.

Met die vinnige groei van die koffiekultuur in Suid-Afrika, is die behoefte om herbruikbare koffiekoppies te gebruik baie groter as ooit vantevore.

Jy help die planeet beskerm . . . en kry dalk nog afslag by jou koffiewinkel ook.

4. Wys die plastiekstrooitjies en -eetgerei van die hand

As jy uitgaan om te eet en 'n plastiekstrooitjie, -mes, -vurk of -lepel aangebied word: sê liefs 'nee, dankie'. 

Ongeveer 'n derde van alle vervaardigde plastiek beland uiteindelik in die see. Wetenskaplikes voorspel dat daar binne die volgende 35 jaar meer plastiek in die see sal wees as visse.

Deur 'n vurk of mes byderhand te dra, jou plastiekgerei te hergebruik of 'n afbreekbare alternatief te gebruik, kan jy die druk dus verminder.

Daar word beraam dat ons plastiekgerei slegs 3 minute lank gebruik voordat ons dit weggooi! As jy weet dat jy 'n klaargemaakte ete gaan koop vir middag- of aandete, pak jou eie eetgerei in.

5. Gaan soek 'n plaaslike ‘zero waste’-winkel

Daar is 'n groeiende tendens vir winkels om kos sonder verpakking aan te bied gewoonlik droë goed soos pasta en rys, maar ook die ‘kaalverpakking’ van vrugte en groente. 

Jy neem herbruikbare houers vir die items wat jy benodig, weeg dit en siedaar  geen plastiekafval nie.

'n Slaghuis, viswinkel, kruidenier, markverkoper en bakker is baie meer geneig om kos te voorsien wat nie oorverpak is nie.

Trouens: Vleis en vis bly langer vars as dit in papier verpak is, eerder as plastiek. 

Bronne: bbcgoodfood.com, getaway.co.za, treehugger.com, wwf.org.uk, national geographic.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.