Met dié nuttige wenke kan jy 'n spabederf in die gerief van jou huis kry. Dis goed vir ontspanning en veel bekostigbaarder.

Skep die atmosfeer

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Wat is 'n spa sonder strelende musiek om jou te help rustig raak? Stel 'n speellys van jou gunstelingdeuntjies saam om jou te help ontspan, en skakel alle ander toestelle af om afleidings te voorkom. 

En onthou om 'n paar gegeurde kerse aan te steek sodat jy jou in die reuk kan verlustig.

Verfris jou gesig

Verkwik en bevog jou vel met ’n komkommermasker – jy sal minder moeg lyk. 

S30 ml (2 e) appel­asyn S15 ml (1 e) gekapte komkommer S15 ml (1 e) heuning S5 ml (1 t) fyn kaneel S5 ml (1 t) koeksoda 

Meng al die bestanddele in ’n verwerker tot ’n gladde pasta vorm. Smeer met opwaartse sirkelbewegings aan jou vel. Spoel ná 2-3 min. met koel water af en druk jou vel droog vir 'n vars gloed.

Wenk
Voor jy jou masker aanwend, kook twee kamilleteesakkies in melk en verkoel dit dan in die yskas. Wanneer dit afgekoel het, plaas die teesakkies oor jou oë vir ’n ekstra vars voorkoms.

Pamperlang jou hare

Die proteïen en biotien van eiers saam met die kalium en natuurlike olies van piesangs voed jou hare en blaas nuwe lewe in jou kapsel. 

  • 2 eierwitte
  • 1 ryp piesang
  • 250 ml (1 k) melk
  • 15 ml (1 e) olyfolie 

Meng al die bestanddele in ’n verwerker tot 'n gladde pasta vorm. Smeer die ­masker aan jou hare en los dit minstens 30 min. aan. Was dit dan met jou gewone sjampoe uit.

Poets jou lyf

Suiker is 'n wonderlike afskilferaar, want dit is fyn genoeg om nie irritasie te veroorsaak nie, maar grof genoeg om van dooie velselle ontslae te raak. 

Meng 125 ml (½ k) bruinsuiker met 125 ml (½ k) klapperolie om ’n growwe pasta te vorm. Masseer die mengsel oraloor jou lyf wanneer jy stort en spoel dit dan met warm water af vir 'n vel wat sysag en stralend lyk.

Bederf jou voete

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

'n Pepermentvoetskrop is ’n goeie manier om moeë voete te verfris. Pepermentolie help verlig pyne en skete en dien as antiseptiese middel, terwyl olyfolie versag en bevog. 

  • 250 ml (1 k) Engelse sout
  • 15 ml (1 e) olyfolie
  • 30 ml (2 e) klapperolie
  • 5 druppels pepermentolie
  • 60 ml (¼ k) fyn droë pepermentblare 

Meng die bestanddele goed. Week jou voete 10 min. in 'n bak warm ­water. Vryf dan die skropmiddel sagkens aan jou vel tot jy 'n tinteling van die peperment voel. Spoel af en droog deeglik af.

  • Bronne: tipsforher.com, stylecraze.com, huffingtonpost.com
  • Ons doen ons bes om goeie raad saam te stel, maar jy beproef dié wenke op jou eie risiko. Huisgenoot aanvaar nie verantwoordelikheid vir enige skade of besering wat daardeur veroorsaak is nie.
Kom neem deel aan die gesprek

 Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.