Elke dag is ’n warboel van take en prioriteite. Almal soek ’n stukkie van jou terwyl jy probeer byhou en sukkel om by alles uit te kom. Ons word in ’n toenemend besige wêreld ál meer met inligting en verwagtings gebombardeer en dit kan ons soms oorweldig.

Huisgenoot het by Louise Diesel, ’n lewensafrigter van Johannesburg, gaan aanklop vir wenke oor hoe jy in 2018 ’n beter greep op jou lewe kan kry om optimale sukses te behaal. 

“Om sukses te bereik sonder om enige vervulling te ervaar is die hoogste vorm van mislukking,” meen Louise. “Maar daar ís maniere om sukses te bereik én vervuld te voel as jy beter orde in jou lewe skep!”

Louise Diesel is 'n lewensafrigter van Johannesburg.

1.    Wees seker wat jou waardes is en hou op tyd en energie mors op dit wat nie belangrik is nie

“Elke mens het ’n unieke stel waardes en prioriteite waarvolgens hulle leef. Dié waardes stem gewoonlik ooreen met hul hoogste doel,” sê Louise.

“Om die tyd te neem om duidelikheid te kry oor wat jou waardes en doel in die lewe is, sal een van die beste beleggings wees wat jy kan maak. As jy 100% seker is wat jou waardes en doel is, kan jy jou besluite daarvolgens neem. So baie van ons verkwis waardevolle tyd en energie op afleidende prioriteite omdat ons nie regtig seker is oor wat ons wil hê en wat die meeste van waarde is vir ons in die lewe nie. Neem die tyd om jouself beter te leer ken. Dit sal een van die beste dinge wees wat jy ooit sal doen.”

2.    Ontkoppel jouself eers om jou weer te kan verbind

“Ons het nodig om minder tyd aanlyn deur te bring om onsself meer aan onsself en ander te kan verbind. Skermtyd kan hoogs verslawend wees. Sommige noem dit selfs “digitale kokaïen”. Die sosiale media kan jou lewenslus dreineer sonder dat jy dit eens besef. Deur die hoeveelheid tyd te verminder wat jy op sosiale media deurbring en net gedagteloos op die internet rondhang, kan jou meer tyd gee om jou gedagtes oop te maak en jou ook meer tyd en energie gee om dinge te doen wat jou regtig vervul. Neem dus ’n paar oomblikke elke dag om digitaal te ontkoppel en jouself weer aan jou geliefdes te verbind. Die transformasie sal onmiddellik wees.”

3.    Sê meer die woordjie ‘nee’ – en wees jouself

“Dit gebeur te veel in ons lewe: Ons sê ‘ja’ terwyl ons eintlik wil 'nee' sê. Ons is heeltyd besig om almal rondom ons te wil tevrede stel, dikwels tot ons eie nadeel. Deur nie ons egte self te wees nie, lei tot gevoelens van weersin en uitbranding. Probeer dus om net jy te wees. Sê meer dikwels 'nee' en kyk hoe inspirasie sal vloei. Die bonus is dat mense wat eg is, magneties is. Jy sal meer mense na jou aantrek sonder enige van die inspanning wat jy voorheen ingesit het toe jy almal wou tevrede stel. Die rede hiervoor is dat egte mense ons toestemming gee om onsself te wees en ons floreer by sulke mense, al sê hulle vir ons af en toe 'nee'.

4.    Skakel een slegte ding uit jou dieet

Jou fisieke toestand beïnvloed jou sielkundige toestand. Deur dus een slegte ding uit jou dieet te skakel, sal jou nie net meer positiewe fisieke veranderings laat begin ervaar nie, maar ook geestelik. Net een minder koppie koffie per dag en pleks daarvan een ekstra glas water kan ’n groter verskil maak as wat jy sal dink. Net ’n 2 mm-skuif op ’n slag kan oor die langtermyn ’n massiewe verskil tot gevolg hê.

5.    Neem vyf minute per dag om tot stilstand te kom en te reflekteer

Probeer dit vir ’n rukkie stadiger vat. Gee jouself meer gereeld ’n blaaskans; tyd om net te wees. Elimineer afleidende emosies deur meer op dankbaarheid te fokus. Ruil jou verwagtings vir waardering. Jy kan nie gespanne, angstig, kwaad of vreesbevange wees wanneer jy dankbaar voel nie. Sluit net jou oë en dink aan vyf of 10 dinge waarvoor jy dankbaar is. Dit sal jou gedagtes kalmeer en jou energie gee om weer meer te doen van dit waarvoor jy lief is.

Louise meen daar is soveel voordele daaraan om jou kop skoon te maak. “Jy sal minder gespanne voel en meer energie hê om meer produktief te wees. Jy sal meer vreugde ook ervaar. Daar is soveel om te waardeer van ’n skoon kop en baie meer maniere om dit te doen. Laat die groot skoonmaak begin!”